Telkom wil tot 3 000 aflê

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Reint Dykema)

Solidariteit het vandag ʼn skrywe aan Telkom gerig waarin versoek word dat ʼn moratorium op gedwonge afleggings geplaas word. Dit volg nadat die maatskappy vakbonde in kennis gestel het dat tot 3 000 werkers afgelê kan word.

In ʼn brief wat Telkom Donderdagoggend aan werkers gestuur het, skryf Telkom se uitvoerende hoof, Sipho Maseko, dat die afleggings nodig is om die bedryfsmodel te hersien. Dit blyk boonop die eerste van vele rondes afleggings by dié maatskappy te wees.

Maar Solidariteit sê hierdie afleggings bedreig juis die finansiële volhoubaarheid van die maatskappy.

“ʼn Maatskappy kan nie meer as R100 miljoen aan sy uitvoerende span betaal en dan van 3 000 van sy werksmag ontslae raak nie. Telkom se uitvoerende hoof, Sipho Maseko, alleen het in die vorige finansiële jaar ʼn volle R23 miljoen huis toe geneem,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Dit is roekeloos en genadeloos as ons kyk na die arbeidsmark wat afgelegde werkers in die gesig staar,” sê hy.

Solidariteit vra dat ʼn aggressiewe heropleidingsprogram tydens die moratorium by Telkom ingestel word, sodat werkers met nuwe vaardighede toegerus word om Telkom in die vinnig veranderde inligtingsomgewing verder te kan help groei. Telkom-werkers moet saam met die maatskappy van vastelyn- na mobiele dienste beweeg.

Die Telkom-winkel in Centurion Mall Foto: Centurion Mall

Hermann sê die feit dat Telkom nou tot 3 000 mense wil aflê, bevestig dat die maatskappy klaaglik misluk het in die heropleiding van sy mense, sodat Telkom nog vinniger in sy groeifokusgebiede soos mobiele dienste kan ontwikkel.

“Indien ʼn maatskappy nie daarin kan slaag om sy werksmag vir nuwe uitdagings op te lei nie, moet daar nie van die werkers ontslae geraak word nie, maar van die topbestuur,” sê Hermann.

Telkom se werksmag het reeds in die vorige finansiële jaar met 2 176 of 12,5% gekrimp. Dit was nie weens gedwonge afleggings nie, maar grootliks weens vrywillige skeidingspakkette. Hermann sê grootskaalse personeelvermindering by ’n maatskappy kan maklik tot swak dienslewering lei. “’n Verdere 3 000 poste wat besnoei word, is te veel. Indien die personeel verder verminder moet word, kan dit deur vrywillige prosesse en natuurlike personeelomset gedoen word,” voeg Hermann by.

Hermann sê die inligtingstegnologie-omgewing is hoogs mededingend en goeie vaardighede is skaars. “Die onsekerheid wat Telkom nou skep, gaan bloot tot gevolg hê dat die beste werkers eerste loop.

“Telkom moet eerder ’n boodskap uitstuur dat ’n pad saam met lojale werknemers gestap word. ’n Moratorium op gedwonge afleggings sal die sekerheid gee wat Telkom-werkers nou nodig het,” sluit Hermann af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Chris Ws ·

Waar is die regering se beloofde “werkskeppings” projekte???

Daan ·

Telkom is in elkgeval n klomp skelms. Swak diens lewering. Al hou hulle al 3000 van daai werkers gaan hulle nie meer baie lank werk nie want meer en meer mense beweeg weg van telkom af juis oor hul swak diens lewering. Jy kanseleer iets by hulle en dan vir die volgende 8 maande vat hulle nogsteeds jou geld met beloftes om dit trug te gee

Wors ·

Maak soos ek, bel die bank en se hulle moet daai geld “reverse”.. Ek het dit net 2 keer gedoen toe Bel Telkom my vinnig om te vra wat aangaan.

Ek kry nou nog smse dat ek hulle geld skuld, maar ek het al my feite klaar vir hulle gestuur, dis nie my skuld hulle so agterlosig nie, ek skuld hulle nie n sent nie…

Se maar net ·

Hoekom is dit altyd die man op die grond wat afgele moet word, kan Telkom maar nie eers begin by middel en top bestuur en daar poste sny, dis gewoonlik die “fat cats” wat voordeel uit die situasie trek.

Henk ·

Die regering behoort realistiese maksimum salarisse en bonusse voor te skryf vir alle SEOs. Hierdie syfers is belaglik en kom neer op diefstal

charmaine ·

Stem Daan, ons betaal vir TELKOM WiFi lyn vir nou amper 4-6 maande maar geen diens want ons log die problem want dis by die drade wat ook nie reggemaak kan of wil word nie. Ons gaan nou maar die hele besigheid cancel en n ander uitweg prober.

Trudie ·

Sterkte jong, was ook in daardie bootjie. Meneer kom met sy toets meter daar aan en se nee, dis by die paal, hy gaan net toets, kom later weer terug.
Gone with the wind, nooit weer gesien nie. Dink nie hy is geskool om enige iemand te help.
Ek het maande gesukkel om dit te stop en die instap kliente diens weier om te help met kansellasies. Ek wil niks van Telkom weet nie, al gee hulle iets verniet weg :)

Johan Venter ·

Wat Telkom se ‘aflegging’ of herstrukturering aan betref wonder ek in hoe verre dit nie met Open Serve te doen het nie. Telkom het ‘n paar jaar gelede ‘n ‘been’ tot stand gebring, of dan met seker mense daardie tyd, die Guptas, as ek reg verstaan, ‘n ooreenkoms aangegaan om die nuwe been aan hulle te verkoop. Die ‘nuwe been’ wat Open Serve genoem is, sou die tegnikusse wees wat die veldwerk doen en ook vir vesel verantwoordelik wees. Die ooreenkoms met die Guptas het toe platgeval na die openbaring van staatskaping.

Dus, is hierdie aflegging in effek dus nie reeds voltrek nie en nou volg net die amptelike oordrag van die werkers na Open Serve wat ‘n onafhanklike instansie sal wees?

Alexz ·

Ja, dit neig beslis so. Hulle het sit reggekry deu TFMC,DEBIS en MOLAPO te skep en te verkoop.
Gelukkig is ek betyds daar weg, too many chiefs & not enough indians!

Jack Klok ·

Telkom se groot probleem is dat hy ‘n statutere monopolie het. Daarby verder is Telkom vertikaal geintegreer. Dit beteken dat Telkom geen insentief het om te vernuwe en aan te pas nie. Telkom se grootste kliente is Vodacom en MTN, wie se selfoon netwerke op die rug van Telkom se vastelyn netwerk bedryf word en aan Telkom gebruiksreg moet betaal.

Johan Venter ·

Kyk maar net na die bakkies wat in die buurte rondry met die naam Open Serve op die deure. Ek vertrou Solidariteir is bewus hiervan.

Pampoen ·

Teen my verwagting in, het Telkom gegroei en steek vir Vodacom verby. Die manne doen iets reg. Gee hulle die binnevet van die boud.

Marius ·

Tegnologie in 3de wereld land kos mense werke en dan praat ons ook nie oor die regering.

Ekke ·

Dit gebeur as die slaagsyfer aanhoude afwaarts aangepas word. Kwaliteit van onderrig is bitter swak om die minste te se. Julle verjaag al die kennis en ervaring met BBBEE – nou moet julle maar die pad stap – vat maar asb nog meer van my belasting geld om julle onbekwame basse te red!

Doris ·

Ja Telkom het gekom met die nuwe storie van die kortlose fone vir mense gratis te gee. Toe kom hulle met die storie hulle gaan wegdoen met die kabels,want dit word nou te veel gesteel en hulle kan nie voorbly om dit te vervang nie. Toe kry mense wat verskillende opsies het sommer rekeninge met oproepe wat jy veronderstel was om nie te betaal nie moet jy nou voor betaal. Die beste raak ontslae van Telkom met hulle nuwe fone wat hulle vir persente uitdeel.Dit is seker ook ingevoerde fone.

J ·

Solidariteit het sy mag verloor in Telkom.
Telkom wernemers moet stats lewer om te presteer om n salaris nou te kry. Kliente diens bestaan nie meer vir Telkom nie.
Telkom penaliseer sy werkers as hulle minder as n sekere % stats lewer n dag. Van Maseko tot tot jou direkte lynbestuur is bo op jou ad werker omdat jy nie presteer nie.
Dis waarom jy nie meer kliente diens kan verwag nie.

anton ·

Opskrif sê telkom lê 3000 af. Inhoud sê kan tot 3000 aflê. Wat is dit nou?

James ·

Die regering belowe werkskepping maar werk word minder. Nog n mooi storie om te vertel

Niklaas ·

En dan daarna ? Gaan dit die beurt van die Poskantoor of Spoornet wees om af te lê want die senior beamptes word multi miljoeners ?

Mariana ·

Hoop hulle maak Telkom se deure permanent toe beginnende by hulle USELESS rekeninge afdeling. Na Langer as ‘n jaar se stryd nadat rekening gekanselleer is en die instrument en satelietskottel verwyder is, het die maandelikse rekening opgestapel vir lynhuur. Met die hulp van Beeld se Verbruikersrubriek het ek my deposito en geld wat te veel betaal is, teruggekry. Dis duidelik DAT Telkom se Skakelafdeling of nie die duisende klagtes op sosiale media lees nie of nie die wil of kennis het om dit reg te stel nie.

Bril ·

My swaer (ook intussen afgele, sal nie weer iets kry nie) was tegniese bestuurder by Telkom, het sy loopbaan as eenvoudige tegnikus daarso begin (dus die range opgewerk, ken dus wat in die binnekringe aangegaan het vanaf die eerste uur, hard gewerk vir sy latere grade) toe dit nog ‘n staatsdiensinstelling was. Hy het vertel hoe die oorgang van ‘n staatsinstelling na ‘n privaatinstansie verloop het (ook maar bedenklike dinge daarso plaasgevind – ‘n gegradueerde is onafhanklik van sy ondervindingsvlak is onmiddelik as bestuurder geklassifiseer en daardeur ‘n klomp onproduktiewe leierskorpslede ontstaan het maar hulle is ooreenstemmend vergoed, en die arme swaap sonder graad moes die werk doen en daardie persone dra). Deel van die merietebeoordeling se sleutelprestasiefaktor was om regstellende aksie te implementeer (die teendeel het swak prestasie beteken met ooreenstemmende gevolge). Hy vertel weens Telkom se vastelynmonopolie het dit as melkkoei vir die ANC gedien. Volgens ‘n senior Telkom-ingenieur (sedertdien oorlede) wat ek geken het en ook vanaf die eerste oomblik by Telkom gewerk het (al sedert die 1970er jare) het daar ook maar geknoeiery met die ontbondeling van die ou Dept. Pos- en Telekommunikasie plaasgevind deur die aangaan van lenings wat duur te staan gekom het (tot die ore toe in die skuld geraak tydens die ou bedeling).

Basjan ·

Bril, ek hoop SOLIDARITEIT neem kennis van jou skrywe. Dit is ‘n goeie opsomming van gebeure oor die jare heen tot vandag toe. Hoe die verval, ens. al hoe meer toegeneem het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.