Telkom skuld werkers amper R5 miljoen ná arbitrasie

Grafika: businesstech.co.za

Die vakbond Solidariteit het vir die tweede keer ʼn arbitrasietoekenning teen Telkom gewen, wat verband hou met die interpretasie van die salarisverhogings van April 2017 vir Telkom-werknemers. Dit volg nadat Solidariteit in 2016 ʼn ooreenkoms met Telkom aangegaan het waarvolgens die partye op ʼn 6%-salarisverhoging, wat in April 2017 in werking sou tree, ooreengekom het.

Solidariteit het aangevoer dat Telkom egter nie by die ooreenkoms gehou het nie en nie die bepalings daarvan nagekom het nie. Dit het meegebring dat meer as ʼn duisend werknemers onregverdig benadeel is.

“Telkom het eensydig besluit om die 6%-verhoging op die 50ste persentiel van elke individu se funksionele area te bereken en nie, soos ingevolge die ooreenkoms, op die totale pakket van elke individuele werknemer nie,” het Linda Senekal, sektorkoördineerder vir die kommunikasiebedryf by Solidariteit, verduidelik.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit (Junie 2015) Foto: Reint Dykema

Volgens die bevel moet Telkom sy werknemers ingevolge die bepalings van die ooreenkoms in 2016 vergoed, wat beteken die 6%-salarisverhoging moet op die individu se totale pakket toegestaan word.  Werknemers moet dus, waar van toepassing, terugwerkend vanaf 1 April 2017 vergoed word.

“Dit beteken dat Telkom vandeesmaand in totaal ʼn ekstra R4,6 miljoen in salarisse moet uitbetaal aan dié wat daarvoor in aanmerking kom. Dit is veral verblydend te midde van ongelooflike uitdagings wat werkers tans weens die inperking en Covid-19-pandemie moet trotseer. Ons is absoluut verheug hieroor,” het Senekal gesê.

Die saak sloer sedert 2017 aangesien Telkom die eerste arbitrasietoekenning wat in Solidariteit se guns was, op hersiening geneem het.  Die saak is op hersiening na die arbeidshof geneem, weer terugverwys vir arbitrasie en ná etlike moeilike arbitrasiesessies, wat vanaf Februarie 2020 tot Mei 2021 geduur het, is weer in Solidariteit se guns beslis.

“Dit is ʼn groot oorwinning in dié sin dat dit ʼn waarskuwing aan ʼn groot instelling soos Telkom is om nie ligtelik met ooreenkomste om te gaan nie.  Solidariteit het die ooreenkoms geteken na aanleiding van die mandate wat hy vanaf sy lede ontvang het en sou nie ʼn ooreenkoms aanvaar het wat nie in die werknemers en lede se beste belang was nie,” het Senekal gesê. “Ons grootste oorwinning lê daarin dat Telkom gemaan kan word om in die toekoms die regte ding te doen, om gehoor te gee aan ooreenkomste en om nie eenvoudig net sy ooreenkomste en beleide ten koste van werknemers eensydig te wysig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jaada ·

Net jammer die oud werkers wat weg is en benadeel is kan nie die terugbetaling kry nie.

Harry ·

Die unies is besig om te kyk of die wat weg is ook kan kry, kom ons hou duim vas

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.