Telkom stem in om herstrukturering, afleggings te stop

Grafika: businesstech.co.za

Grafika: businesstech.co.za

In ’n ooreenkoms met die vakbond Solidariteit het Telkom vroeër vandag onderneem om sy huidige herstrukturerings- en afleggingsproses vir eers te staak. Dié onderneming sluit in die opskorting van die gebruik van ras as ‘n kriterium in die bepaling van afleggings.

Ingevolge die ooreenkoms sal Telkom alle beplande seleksies, aanstellings en afleggings staak. Die partye het verder ooreengekom om ’n fasiliteerder aan te stel om die herstruktureringsproses kragtens artikel 189 en artikel 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge vanaf Maandag 21 Julie te fasiliteer. Nuwe kriteria vir die herstruktureringsproses sal voorgelê en oorweeg word tydens ’n konsultasieproses wat deur die fasiliteerder gelei sal word.

Marius Croucamp, bedryfshoof van die telekommunikasiesektor by Solidariteit, sê die voorwaardes van die ooreenkoms is presies wat Solidariteit wou gehad het. “Die ooreenkoms stuur ’n boodskap aan werkgewers landwyd dat Solidariteit nie rasgebaseerde afleggings sal duld nie. Ons sal nie toelaat dat ons lede vir swartekonomiesebemagtigingspunte ingeruil word nie. Daarbenewens dring ons aan dat herstruktureringsprosesse in oorleg met werknemers plaasvind en met ’n goedbeplande besigheidstrategie gepaardgaan.”

Croucamp het sy dank teenoor Solidariteit se ondersteuners en lede uitgespreek vir die duisende boodskappe van ondersteuning wat die vakbond sedert verlede week ontvang het. In die boodskappe is beswaar gemaak teen Telkom se voorgenome gebruik van ras as maatstaf in die afleggingsproses.

Die ooreenkoms volg nadat Solidariteit verlede week regstappe teen die telekommunikasiemaatskappy ingestel het. Solidariteit het Telkom se herstruktureringsplan, waarvolgens sommige wit, kleurling en Indiër-werknemers ontslaan sou kon word om Telkom se swartekonomiesebemagtigingstelling te verbeter, verwerp. Solidariteit het ook teen die gebrekkige konsultasieproses en ontoereikende opklaring van die onderneming se regrukstrategie beswaar gemaak.

Die ooreenkoms sal volgende week ’n bevel van die hof gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.