Telkom-werkers wéér aan herstrukturering onderwerp

Grafika: businesstech.co.za

Grafika: businesstech.co.za

Voormalige Telkom-werknemers wat vroeër vanjaar as deel van Telkom se artikel 197-sakeoordragproses na Barloworld Logistics oorgeplaas is, staar weereens afleggings in die gesig, het . Dít is volgens die vakbond Solidariteit wat vandeesweek deur van sy lede wat hierdeur geraak word, genader is.

Barloworld Logistics het gister in ʼn voorlegging aan vakbonde aangedui dat hy beplan om sy werkpersele van 35 na 17 te verminder. Dit sal beteken dat sowat 112 voormalige Telkom-werknemers wat vroeër na Barloworld oorgeplaas is, vir die tweede keer vanjaar ʼn herstruktureringsproses moet deurgaan.

Volgens Marius Croucamp, hoof van die Kommunikasiebedryf by Solidariteit, het die betrokke werknemers egter die keuse om na Barloworld se perseel in Boksburg te skuif. Indien hulle nie wil verhuis nie, sal hulle die geleentheid hê om vir 16 vakante poste by die maatskappy se ander takke in onder meer Port Elizabeth, Witbank en Kwazulu-Natal aansoek te doen.

“Die realiteit is dat hierdie werknemers se lewens weereens omvergegooi sal word deurdat hulle van werkplek sal moet verander,” het Croucamp verduidelik. “In byna al die gevalle sal die werknemers en hul gesinne moet verhuis. Indien hulle nie wil verhuis nie, en nie in een van die ander 16 poste by een van die ander persele aangestel word nie, sal die werknemers aansoek om vrywillige skeidingspakkette kan doen. As laaste alternatief sal die werknemers in ʼn “poel” geplaas word. Dit is nie duidelik wat die maatskappy met die ‘poel’ van werknemers beplan nie.”

Croucamp het gesê hulle is verder ook besorgd oor die feit dat Barloworld se tak in Boksburg dalk nou te veel werknemers sal hê en dat daar uiteindelik verdere afleggings sal wees. “Ons meen Telkom moes reeds tydens die aanvanklike artikel 197-proses die moontlikheid voorsien het dat Barloworld sy persele gaan verminder. Barloworld, wat ’n aantal persele by Telkom gehuur het, moes boonop glo sy persele verminder omdat Telkom hierdie persele verkoop het.”

Hy het bygevoeg die vakbond sal regsoptrede teen die maatskappy oorweeg indien hulle nie met die uitkoms van die proses tevrede is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.