Temboe-koning moet tronk toe

Koning Dalindyebo (in die grys pak) tydens 'n besoek van pres. Zuma. Foto: GovernmentZA/Flickr

Koning Dalindyebo (in die grys pak) tydens ‘n besoek van pres. Zuma. Foto: GovernmentZA/Flickr

Die hoogste hof van appèl in Bloemfontein het koning Buyelelkhaya Dalindyebo tot effektief 12 jaar tronkstraf gevonnis.

Dalindyebo het appèl aangeteken nadat die hooggeregshof in die Oos-Kaap hom in Julie 2013 skuldig bevind het aan brandstigting, strafbare manslag, ontvoering, regsverydeling en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Dalindyebo se appèl teen sy skuldigbevinding aan strafbare manslag is toegestaan en die hof het sy vonnis van 15 jaar tronkstraf na 12 jaar tronkstraf verander.

Hy is daaraan skuldig bevind dat hy drie onderdane se huise aan die brand gesteek het nadat hulle glo stamreëls verontagsaam het. Hy het ook drie jong mans so erg aangerand dat hulle moontlik sou sterf indien hulle nie mediese behandeling ontvang het nie.

Dalindyebo het aangevoer dat die aanrandings straf was vir misdade wat die mans glo gepleeg het, waaronder huisbraak en verkragting. ʼn Verhoor is egter nie gehou voordat die mans gestraf is nie. Gemeenskapslede het glo ook ʼn jong man vermoor nadat die koning opdrag gegee het dat hy aangerand moet word. Die koning is aanvanklik van moord aangekla, maar later aan strafbare manslag skuldig bevind.

Hy is aan regsverydeling skuldig bevind nadat hy glo die vermoorde man se pa geïntimideer het wat daartoe gelei het dat strafregtelike klagte nie aanhangig gemaak is nie. Die koning is aan ontvoering skuldig bevind nadat hy een van sy onderdane se vrou en ses kinders gedwing het om na sy paleis te kom in ʼn poging om die man daarheen te lok.

“Sy gedrag was soveel meer betreurenswaardig omdat die slagoffers van sy skrikbewind kwesbare landelike armes was, wat van hom afhanklik was. Ons Grondwet duld nie sulke gedrag nie,” het die appèlhof bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gwen ·

Kan Maroela ook asb. berig oor hoe die DA, wat hom opgeraap het toe hy by hulle aangesluit het, uiteraard om politieke punte te kry, hom geskors het toe hy ’n verleentheid vir sy nuwe party geword het. Dit is ’n duidelike teken van die DA se vorm van politieke opportunisme.

hb ·

Nou wie is die ‘koning’…wonder uit waste kraal hy nou weer uitkruip. Lyk my ons almal kan onsself bekroon en natuurlik ook n lekker inkomste van die staat kry.

Mike de Beer ·

Kry mens verskillende soorte adellikes? Ek kan my beswaarlik voorstel dat Koningin Liesbet van haar onderdane se hutte oftewel huise aan die brand sal steek as hulle durf verskil van haar? Of Prins Albert van Monaco of die ou van Nederland, of waar ook al? Is ek reg dat hierdie maar net ‘n weer ‘n geval is van : “Only in Africa”. Of is dit rassisme wanneer mens so iets kritiseer? Of betree ons die westerse wereld wanneer dit ons pas en dan weer wanneer dit ons pas verwys na ..”in our tradition….!” om dit wat gewoon verkeerd is te regverdig?

pop ·

Gwen wat het die koning se tronkstraf met DA te doen. Of doen jy werwing vir jou eie party??

Peet Schabort ·

Die nuutste berigte is dat daar 14dae uitstel gegee is vir sy borg. Ook in die oë van die wet is hy skuldig maar hy kan nie as koning skuldig wees aan enigiets betreffende sy onderdane.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.