‘Tendens van marteling, moord in polisieaanhouding’

Robert McBride, besturende direkteur van Opod. Foto: ANA

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) sê hy slaan toe op die marteling van en moord op verdagtes in polisieaanhouding.

Robert McBride, Opod se uitvoerende direkteur, het Woensdag die polisiewaghond se nuwe kenteken in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria bekendgestel.

“Ons het reeds suksesse behaal in ons ondersoeke na marteling en moord in [polisie]aanhouding, wat ʼn kommerwekkende tendens is wat in die afgelope twee jaar kop uitgesteek het, en veral vanjaar in KwaZulu-Natal,” het McBride gesê. “Ek dink binne drie maande het drie martelings en moorde in polisieaanhouding voorgekom.”

Hy het gesê dit is juis dié soort praktyke waarvan Opod ontslae moet begin raak, “want ons kan enigeen agter tralies in die polisie se aanhouding laat beland, om ʼn regte óf verkeerde rede. Ek wil verseker dat, hetsy jy om die regte of verkeerde rede in die gevangenis beland, jou menseregte gerespekteer sal word.”

Hy het gesê in die voortdurende pogings om misdaad te bestry, moet Opod deur lede van die SAPD en onderskeie metropolisieafdelings as ʼn bondgenoot beskou word “in die proses om slegte elemente uit die polisiediens te sif”.

Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies het gesê Opod se werk is uiters moeilik en word verder bemoeilik deur ʼn kultuur van “mekaar in die polisiediens beskerm”.

“Dis verskriklik moeilik vir ʼn polisie-offisier om ʼn mede-offisier te ondersoek,” het Burger gesê. “Dis nie onmoontlik nie; net baie, baie moeilik. Dikwels sal julle as Opod-ondersoekers dieselfde soort houding teëkom van polisiebeamptes wat die boodskap oordra dat dit dalk nie ʼn goeie idee is om te na aan diegene te kom wat jy ondersoek nie.”

Hy het gesê van die probleme waarmee Opod te kampe het, is die kultuur dat wetstoepassers mekaar beskerm, ondersoeke wat ondermyn word deur met getuies in te meng en ʼn gepeuter met bewyse.

Opod is ʼn oorsig-instelling wat onafhanklike, onpartydige en deeglike ondersoeke moet instel na oortredings wat na bewering gepleeg word deur lede van die SAPD en metropolisiedienste, en om aanbevelings kragtens die Wet op Opod te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Stormrider ·

Aan die ander kant is dit so dat SAPS deur ‘n bietjie skramse aanmoediging die kriminele soos kanaries kan laat sing, wat lei tot verdere arrestasies en die voorkoming van verdere bloedvergieting. Die doel heilig soms die middele, maar waar trek mens die lyn tog? Dis ‘n moeilike onderwerp.

Hoe nou....... ·

Gaan kyk bietjie onder watter omstandghede bly ander gevangenis in ander tronke reg oor die wereld……laat ons tronke soos Club Med lyk. dis tyd dat die reg stelsel reg kom om te verseker dat die ware kriminele agter tralies sit en nie onskuldige mense nie.

leser ·

mcbride, wat het van menseregte geword in die jare 1984 en later? of het jy vergeet

Karolis ·

Sy dogter verskil heelwat van hom oor hierdie aangeleentheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.