Terblanche-egpaar kan ongeluk nie onthou

Diaan en Janine Terblanche in die Life Midmed-hospitaal. Foto: Facebook

Diaan en Janine Terblanche in die Life Midmed-hospitaal. Foto: Facebook

Die Terblanche-egpaar kan niks van die gru-botsing onthou waarin hulle en hul drie weke oue babadogtertjie ernstig beseer is en 11 ander mense dood is nie.

Janine en Diaan Terblanche en hul dogtertjie, Dianiël, word sedert 17 Mei in die Life Midmed-hospitaal in Middelburg behandel nadat hul Toyota Fortuner reg van voor teen ʼn bakkie gebots het op die R573 ongeveer 12 km buite Marble Hall.

Ilze Scheepers-Van Rensburg, Janine se tannie, het Woensdag aan Maroela Media gesê die egpaar het die res van die familie gevra wat gebeur het. “Dit is amper beter so,” het sy gesê. Sy het ook gesê die familie is nie in hierdie stadium betrokke by die polisieondersoek na die ongeluk nie en fokus nou eers op die Terblanche-gesin se herstel.

“Janine en Diaan is albei uit die waakeenheid na ʼn algemene saal geskuif. Hulle lê langs mekaar en is nog steeds net so verlief soos altyd!” het sy gesê. “Hulle brand nou net om hul dogtertjie te sien. Hulle het haar nog glad nie sedert die ongeluk gesien nie en dit is maar baie emosioneel as jou kind daar lê.”

Sy vertel die verpleegpersoneel neem video’s en foto’s van Dianiël en wys dit in die aande vir Diaan en Janine. Die egpaar ontvang albei berading en hou elke aand saam Bybelstudie om hulle deur die moeilike tyd te dra, het sy gesê.

Volgens Scheepers-Van Rensburg gaan dit baie goed met Dianiël, hoewel sy steeds in die waakeenheid behandel word. “Die dokters het ons gewys daar is kolle en merkies op haar brein, maar dit is nie ʼn geval waar jy kan sê [hierdie funksies] gaan nie werk nie. Soos sy groot word en haar mylpale bereik, sal ʼn mens kan agterkom wat het seergekry. So dit is ʼn lang proses om die skade te bepaal,” het sy gesê.

Sy het egter beklemtoon dat Dianiël bo verwagting vorder en Woensdag van die respirator afgehaal sal word. “Sy drink mooi en die breinswelling sak nog steeds.”

Janine sal Vrydag na ʼn hospitaal in Pretoria geneem word om ʼn rekonstruksie op haar gesig te doen. Scheepers-Van Rensburg het gesê hoewel Janine nie baie snye op haar gesig opgedoen het nie, is die bene onder die vel heeltemal vergruis. Sy sal ná haar operasie weer oorgeplaas word na die Life Midmed-hospitaal.

“Ons wil as familie net baie dankie sê vir die ongelooflike ondersteuning wat ons van regoor die wêreld ontvang. Die mense se boodskappe en gebede dra ons deur hierdie tyd,” het Scheepers-Van Rensburg gesê. Sy het ook haar meegevoel betuig aan die families van die oorledenes. “Mense dink ons fokus nou net op ons eie familie, maar ons weet daar was ander lewens ook betrokke en daar is ander families wat deur ʼn baie swaar tyd gaan. Hulle is elke dag in ons gedagtes en gebede.”

Lees alle vorige berigte oor botsing op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Theresa ·

Ek hoop en bid dat julle herstel elke dag so mooi sal vorder uit God se hand. Sterkte ook met die rekonstruksie. Daar sal God ook sy hand oor jou en die Dr hou en sal dit goed gaan.

SNEL ·

Baie bly om te hoor dit gaan so goed met hulle al drie. Ons bid nogsteeds en alle sterkte vir Janine vir Vrydag se operasie, glo en vertrou dat dit goed sal gaan en n reuse sukses sal wees.

Connie ·

Baie sterkte vir julle 3. Mag ons Vader saam met julle die pad na volkome herstel stap en jul sterk en heel maak. Die tyd vir wonderwerke is nog lank nie verby nie. AMEN

Madelein ·

Ek is baie bly dit gaan soveel beter met die gesin en hoop hulle sal almal ten volle herstel.

JANET ·

Jesus het ‘n doel met ongelukke. Hy kon hul onmiddelik genees het of geen haar geskend het nie maar sou daar dan soveel gebede opgegaan het, sou mense God so gesmeek het en vir dae die storie volg, bly bid het, gehoop het en weer in hul eie geloof begin glo het? Dis wonderlik hoe eenvoudige mense gebruik word om baie wakker te laat skrik. Hoop almal ry nou bietjie stadiger, versigtiger, kyk dat hul en hul kinders vas is, dat die agtersittendes ook vasgegespe , ens.

DEBBIE ·

alles sterkte word julle drietjies toegewens. Julle word opgedra in almal se gebede vir spoedige en suksesvolle herstel al gaan dit ‘n lang pad wees, dit was die moeite werd vir Gebed, Geloof en Vertroue wat julle vir altyd gaan dra. Mag die Heer se genesing oor julle daal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.