Terminaal siek man vra hof vir genadedood

Argieffoto

Argieffoto

Die hooggeregshof in Pretoria het Woensdag gehoor dat diere beter behandel word as mense tydens ʼn aansoek van ʼn man wat terminaal siek is en genadedood wil ontvang.

“Ons is trots omdat ons hierdie gevorderde handves van menseregte het… maar ons wil in die Middeleeue bly,” het HB Marais, regsverteenwoordiger vir Robin Stransham-Ford (65), gesê.

Stransham-Ford, ʼn voormalige advokaat, is terminaal siek met prostaatkanker en is vir die afgelope twee maande op morfien. Hy vra die hof om hom toe te laat om die tyd en plek van sy dood te kies en hy het ʼn dokter se hulp nodig om dit te doen.

Regter Hans Fabricius het Marais gereeld onderbreek en met Stransham-Ford saamgestem. “Selfs ʼn spogresiesperd wat miljoene rande werd is, word geskiet as sy been gebreek is,” het hy gesê.

Fabricius het vroeër Doctors for Life en Cause for Justice toegelaat om as vriende van die hof tot die saak toe te tree. Hulle staan Stransham-Ford se aansoek teen.

Argumente rondom etiek en filosofie is in die hof geopper, maar Fabricius het dit kortgeknip. “Ons kan die hele week praat. Die vraag is bloot: In die afwesigheid van wetgewing, watter regte het die applikant?”

Fabricius het aan Marais gevra of hy van mening is dat daar geen wetlike verskil tussen die oorhandiging van ʼn pil, die afskakel van ʼn lewensondersteuningmasjien of ʼn dodelike morfieninspuiting is nie. Marais het ja geantwoord.

Dignity SA ondersteun Stransham-Ford se aansoek.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jo ·

Ek wonder watter motivering die aplikant werklik het. Wil hy duisende op `n hofsaak spandeer met die oog op wettiging van genadedood? Dit lyk my so want as hy regtig nie meer wou leef nie, sou hy al sonder enige hulp of toestemming self `n plan gemaak het.

Danie ·

Ek kan nie verstaan hou die regstelsel van SA kan toelaat dat iemand wettig n ongebore onskuldige baba kan vermoor nie. Maar iemand wat terminaal is en in pyn is, nie toegelaat kan word on self tebesluit waneer by of sy genoeg gely het nie. Sou dit nie meer mens liewend gewees het nie.

zahn ·

Die antwoord is heel eenvoudig, Danie. Kyk na ons regstelsel, die benadeelde het geen regte nie, die genade is aan die kant van die oortreders. In hierdie geval, die man word benadeel deur sy terminale siekte, hy het dus nie die reg aan sy kant nie. Hier is nie ‘n party (in hierdie saak op die oomblik) wat die man benadeel nie, buiten sy siekte, daarom is daar verwarring oor die man se regte. Die teenwig is weg, nou kan die oordeel nie toegepas word nie.

Leonard de Lange ·

Is daar enige geld / polis betrokke wat sal uitbetaal? As die persoon rerig wil sterf, daar is horde maniere. Dog ek sê maar net….

Ronel Smit ·

Om jou eie lewe te neem is nie so maklik nie. Enige iets kan verkeerd gaan. Genadedood is wettig in ander lande, hoekom ka. Dit nie ook maar in SA wees nie. Ek sien sy punt in. Ons laat baie vinnig ins diere uitsit sodat hulle nie moet lei nie. Wat van die mense wat lei. Verdien hulle nie oom die opsie nie?? Ek se nie dit is reg nie maar dis sy keuse. Die polise gaan seker moeilik wees om te laat uitbetaal met self moord, maar wat sal gebeur as hy toesteming van die hof het om genade dood te he??

EMK ·

Ek hoop die man kan gehelp word, ek dink nie mens het enigsins ‘n idee waardeur hy moet gaan nie. Die wat wil inspring en sê net God kan ‘n lewe neem, dan kan mens andersom ook redeneer deur te sê met hartoorplantings ens om iemand se lewe te verleng neem die mens OOK God se planne oor. So… laat hy in vrede gaan.

ES ·

Genade dood kan nie vergelyk word met aborsies nie: ‘n ongebore baba word in die SA regstelsel nie geag ‘n “persoon” te wees nie omdat hy/sy geen regspersoonlikheid het nie, geen regte/verpligtinge nie. Dit is hoekom aborsie nie geag kan word as moord nie.
Dit kan vergelyk word in die sin dat dokters self kan besluit of hulle aborsies wil uitvoer of nie, daarom moet dokters self ook die keuse hê om deel te neem aan genadedood.
Dit gaan verskeie implikasies inhou, nie net vir polisse nie, maar ook mediese fondse, want gaan die fondse die medisyne dek?
Almal het maar verskillende sienings, maar genadedood behoort wettig gemaak te word.

Jean ·

My pa het vir ‘n genade dood van God gebid en dit gekry. Ek sou eerder dat hy vir genesing gebid het, maar nou ja. Ongebore babas kan nou nie met morse kode skop dat hulle ook mens is nie, maar ons is mos god genoeg om te besluit hulle is nie. Gaan maar aan met julle rol in die modder. Jesus kom..

Leonora ·

God en God alleen kan besluit oor lewe en dood.
My tannie het net ‘n paar weke gehad om te leef na sy gediagnoseer is met kanker in die brein. Ons het dit in God se hande gelaat en daaroor gebid dat Sy wil moet geskied.
Sy leef vandag 14 maande later! Sy is genees. Die laaste toetse kon geen kanker in die liggaam opspoor nie.
As jy God se werk uit Sy hande neem sal jy nooit Sy wonderwerke sien gebeur nie. Ons familie het. En dis amazing!

EMK ·

Leonora ja, dan moet daar ook geen hartoorplantings en ander oorplantings wees nie. Geen bloedoortappings of enige ander operasies om lewe te red nie want volgens jou besluit net God daaroor, so mense mag nie daardie “reg” in eie hande neem nie. Jou tannie moes dan ook eintlik nie die lewensreddende operasie ondergaan het nie! Dis mos God se reg/wil dat sy kanker gekry het en moes geen mense ingryp om dit te verander nie. Ironiese siening ne – dink bietjie daaroor…

Leonora ·

Liewe EMK, jy het reeds vroeër jou opinie gelig en daar is kennis van geneem. Ek oordeel nie jou opinie nie en respekteer dit. Gee my nou geleentheid om my opinie te lig. Nie nodig vir jou om te oordeel nie. Bietjie respek vir mekaar maak ‘n verskil in ons donker wêreld. Gaan in vrede.

EMK ·

Leonora waar oordeel ek nou? Maar nou oordeel jy MY – praat van ironies! En ek is VERHEUG om te gelees het die hof het die man se aansoek toegestaan. Bedaar jy nou maar, die wêreld is so donker soos wat mens dit self maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.