Terminale 6-jarige begin gr. 1: ‘Jy is so braaf, ek vergeet hoe jy ly’

Ruben Scharneck (Foto: Facebook)

Ruben Scharneck (Foto: Facebook)

Dit was ʼn reënerige Maandagoggend in Pretoria toe die Scharneck-gesin al van vroegoggend geskarrel het om hul twee seuns skoolgereed te kry. Die gesin se optrede was soos dié van duisende ander huishoudings – pak die skooltasse, sit die kosblikke in en trek skoolklere aan, want Rossouw gaan na gr. 7 en Ruben na gr. 1.

In dié huishouding is daar egter een groot verskil: Ruben is terminaal siek, en hoewel dokters hom nie lank gegee het om te leef nie, hou sy ongelooflike wilskrag hom aan die lewe.

Hoewel dokters se voorspelling dat die jong vegtertjie reeds in die hemel moes wees nie akkuraat was nie, gaan dit nie goed met sy gesondheid nie. Wat egter merkwaardig is, is sy wil om te leef – en meer as dit, om normaal te leef, sê sy ma, Marinda, in ʼn reeks Facebook-inskrywings.

Hy kon daarom Maandagoggend in die reënerige weer gr. 1 toe soos ander gesonde kinders.

Ruben Scharneck (Foto: Facebook)

Ruben Scharneck (Foto: Facebook)

“Dit is alles te danke aan julle gebede vir Ruben dat hy skool toe kon gaan. Dit is ʼn wonderwerk dat hy steeds saam met ons hier is. Hy is mal oor skool en wil weer teruggaan,” skryf Marinda.

“Ons wil baie dankie sê vir Laerskool Menlopark en sy onderwyseres, Anna-Marie. Ons het selfs huiswerk gekry en moet boeke oortrek. Dit is ʼn seën om normaal te voel.”

Ruben het in Desember ʼn geruime tyd in die hospitaal deurgebring nadat sy organe begin oppak het. Marinda sê egter deur dit alles hou hy aan baklei om te lewe. “Hy het selfs ʼn grappie gemaak en vir homself gelag. My klein engel is so braaf. Ek bid elke dag dat God jou pyn sal wegvat. As die tyd aanbreek vir jou om ons te verlaat, weet net dat jy meer geliefd is as wat jy ooit sal weet.”

Ruben is ook in Oktober verlede jaar amptelik as Affie-seun ingehuldig, een van sy grootste drome, en het in November ʼn dag as Tuks-student by die Universiteit van Pretoria deurgebring.

Hy is in 2014 met hoërisiko-neuroblastoom gediagnoseer en het 100 dae van chemoterapie ondergaan. Hoewel die uitslae positief gelyk het, was die Scharnecks platgeslaan toe dit blyk dat die kanker in Junie 2015 weer versprei het.

Hoewel hy selfs nietradisionele kankerbehandeling uit Australië ontvang het én in Januarie verlede jaar weer ʼn groot operasie ondergaan het om al die gewasse te verwyder, het die gesin nie die goeie nuus ontvang waarop hulle gehoop het nie. Van die gewasse was vas aan die aorta en dokters kon dit nie verwyder nie.

Hy het altesaam al nege operasies ondergaan, maar die negende operasie was die laaste. Aangesien dokters weier om hom verder te opereer of selfs te ondersoek, verseker Marinda nou haar seun se grootste drome word bewaarheid.

Lees alle vorige berigte oor Ruben op Maroela Media.

Vir meer inligting, besoek Hope4Ruben op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

62 Kommentare

Gerda ·

RUBEN….KLEINE ENGEL KINDJIE JY IS PRAGTIG EN EK GLO MAMMA HULLE IS BAIE TROTS OP JOU …

Soekie ·

Hierdie moeder- en oumahart huil. Ek huil want seer kom in baie verskillende vorms. Maar elke mens het sy eie persepsie van seer. My kleinkinders bly in Nieu Seeland. Dis seer as ons praat en lag em mekaar koebaai op die kamera ogie. Maar my seer vir Ruben is, seer om te weet hy stry die stryd en tog is hy moedig. Jy is dierbaar Ruben. Jy leer die ouma lessie vandag. Om dankie te sê vir my vér, maar gesonde kiddies. Ons bid vir julle as gesin. Wyle Christa Steyn het gesê : ‘elke dag is daar genoeg genade’. Ek bid dat Jesus julle sal help en dat jy skool sal geniet. Jy is kosbaar en ‘n yster. Drukkies xxxx

Neil ·

Ai. Ek kan myself net indink waardeur die gesin moet gaan. Sterkte aan julle!!

Marina lester ·

Dit is pragtig om te sien dat die gesin saam staan en die skool om hom soos enige skool gaande te laat voel en die skool ervaring te ervaar. Ek haal my hoed af vir die ouers. Julle laat toe dat julle kosbare kind so ver moontlik die lewe so normaal as moontlik aan pak.

Mariette Hammann ·

Jy is ‘n baie dapper seun, Ruben! Mag jy hierdie jaar tonne seën ontvang. Jy is ‘n inspirasie vir almal.

simon ·

Ek kan baie hardegat en snydend wees as ek wil, maar ek het ook n sage hart.

Werklike trane gestort by lees van die berig.

Della ·

Ai ou seun, jy laat my kop in skaamte sak. Baie maal wil mens opgee, kla of net soms vir onsself jammer voel. Jy is moedig en dapper. Sterkte met jou gesondheid. Jy het ‘n hart van goud en almal kan baie trots op jou wees. Jy is geseend met ‘n awesome skool & onderwyser en jou ouers, ek haal my hoed vir julle af. ‘n ouerhart sal enigiets vir hul kinders doen

Salome ·

Hy is n ware held en vegtertjie. Dit is hartseer om te sien waar deur jy al gegaan het. Ek is bly dat jy opgewonde is oor skool en n normale lewe probeer lei. Mag die Here jou omhels met al sy liefde want jy is n pragtige seuntjie. Aan mamma en pappa ek kan myself nie indink waar deur julle als moes gaan nie. Sterkte vir die pad voorentoe en weet dat God is in beheer.

Liza ·

Jou kleine dapper mannetjie, trots op jou…..ons wat gesond is kla, maar jy glo en gaan aan..en jy veg terug ai Ruben ek haal my hoed af vir jou en ek kry skaam vandag, ek gaan nie weer kla nie……Sterkte vorentoe Ruben en bid vir jou…… jy is regtig geseend met ‘n spesiale mamma en pappa……..liefies jou Ruben…….

Leana ·

Wat ‘n “groot” gees. geniet elke oomblink saam met hom!

Linda ·

Ruben…jy is die dapperste Engel kind, geniet jou skool en baie sterkte aan Mamma, Pappa en Rossouw, God sal jou dra as pyn te veel is, sterkte vir julle as gesin & familie, Liefde

TM ·

Ruben, vat vyf ou maat. Jy is ‘n yster en ‘n groot inspirasie. Ek het die wêreld se respek vir jou.

Penellope Jones ·

Medaljes vir hulle vir moed, deursettingsvermoe en die grootste van alles, liefde vir mekaar.
Mag hulle geseen word, elke dag.

Leonie ·

Dis wonderlik dat Ruben Graad 1 toe is. Dis great seun!! Geniet elke oomblik daarvan.

MScholtz ·

Ag nee julle – ek kan nie sulke stories tydens werksure lees nie. Ek kan nie glo dat die mensdom al so ver gevorder het, en tog steeds niks kan doen om hierdie mooi siel vir langer tussen ons te hou nie. Ek kyk op na sy ouers wat vir hom steeds vir hom so ‘n mooi lewe probeer skep, ongeag hoe kort dit mag wees. Ek wens julle alle sterkte toe.

Jan maak n plan ·

Hierdie mannetjie se nuwe naam is “YSTER” want hy is taaier as n treinspoor. Geniet die skool ou YSTER.

MarieM ·

Terwyl ek die berig lees loop die trane… ons kan so maklik kla oor ons probleme, maar kyk die pragtige kind, baklei om te lewe. Ruben alle sterkte vir jou met skool gaan, ek glo jy gaan elke sekonde daarvan geniet.

naomi ·

N voorbeeld vir die wereld. Well done, trots op jou seuna!!!!

Petro ·

Liefste seun.. jy het groot trane gebring met jou bereidwilligheid om iets van jou jong lewe te maak… kindjie jy is n inspirasie vir so baie mense ..ou mense jong mense en kinders.. geniet jou skool en ons sal bid vir jou..Jesus se geneeshende hande vou oor jou …

Idi ·

Wow Ruben, Jy is n klein mannetjie maar ‘n groot inspirasie !!!

Vandag tel ek my blessings 2 keer en besef ek weer dat ons te maklik kla in die lewe.
Ek het ‘n kleuter van 22mnde en sy sussie wat binnekort haar opwagtinge sal maak, So met die gevolg lees ek baie berigte oor kleuters en een berig wat ek n rukkie terug gelees het noem hulle dat as jou kleuter op die stadium kom waar hy nuwe dinge in sy omgewing leer ken, buk af en leer dinge saam hulle verken (soos n klein mier wat hulle vir die eerste keer van naby verken) dan sal jy die wereld deur ander oë begin sien en dis waar. Jy laat my die wereld deur ander oë sien.

pamela Woest ·

My hart is baie seer op die oomblik, ek baklei met my Gr2 seun om sy huiswerk te doen, hierdie mamma bid vir sulke geleenthede met haar seun. Jy is so ‘n dapper mamma! Ruben, groot dapper seun. Jy is my held met jou uithouvermoe.

Vanya ·

Net so en daarom gaan ek self vir my seun vandag van die storie vertel sodat hulle kan besef hoeveel voorregte hulle het…

Adele ·

Ai, my hart gaan uit na julle almal. Fantasties om te sien hoe die skool en familie saam staan!

wes kaap ·

Dankie Liewe Here dat hierdie ou seuntjie ‘n mens weereens net laat besef hoe GROOT U hande werk is!!!! Sterkte vir hom en sy ouers!!!!

Jaco Prins ·

Wonderwerke gebeur ek het dit al beleef, ons almal bid vir nog een. Wees sterk Ruben en Familie.

BOLANDER ·

Wat ‘ spreekwoordelike voorbeeld vir die van ons wat daagliks so baie kla. My skat, alle eer aan jou en mag HY jou hierdeur dra. Baie sterkte aan die ouers en familie ook.

Liza ·

Wat ‘n voorbeeld van so ‘n engel vir ons wat oor daaglikse kleinighede kla…..jy laat my nou anderste kyk na die lewe…dankie Ruben!! Ek hou jou en die familie in my gebede…..

Elsa Breytenbach ·

Ruben jy is ‘n klein yster mannetjie. Jou ouers kan so trots wees om jou Mamma en Pappa te wees

Moira ·

O dis n wonderlike mamma en pappa wat hy het. Dia net deur God se krag dat hul dit regkry om hom die lewe te laat benut. Eers wou my hart breek en se nee nee ek hou hom tuis by my tot Jesus hom kom haal maar toe ek mooi daaroor dink toe besef ek waardeur sy ouers gaan. God gee hul krag en laat klein Yster pynloos lewe tot U besluit dis tyd om huistoe te gaan. Ek kan my nie indink wat ek in hul skoene sou doen nie. Jul is wonderlike onselfsugtige ouers en ek haal my hoed af vir die skool wat kans sien daarvoor.

Elzanie ·

Klein Ruben, my seuntjie is nou 7 jaar oud, in Gr.2, so word 8 jaar en ek wil vir jou sê, ‘n ouer kan nie in woorde omsit hoe baie hulle hul kindertjies lief het nie, want daar is nie sulke mooi woorde om die hoeveelheid van die tipe liefde te beskryf nie, so jy moet weet dat jou mamma & pappa jou onbeskryflik baie lief het. Jy’s regtig braaf om ‘n normale skool lewe te wil hê, want jou mamma wou ook net so graag dit vir jou gehad het & nog meer! Dus is dit wonderlik om dit te sien, jy’s ‘n engel op aarde liefste seuntjie, ‘n voorbeeld & inspirasie vir baie mense. Dit gaan so hartseer wees om eendag, nie nou nie, maar eendag so ‘n engeltjie op aarde minder te hê, maar Jesus gaan ‘n engeltjie ryker wees in die Hemel waar baie van ons families rond loop. Drukkies vir jou groot man! Sterkte vir jul almal. Mag God julle seën.

Andre ·

Trots op jou SEUN jy is n regte voorbeeld vir ons almal. Ek moes die trane afgevee het terwyl ek die gelees het. GOD sal jou seën.

Se maar net ·

Wow! Wat ‘n inspirasie. Ruben is ‘n pragtige voorbeeld vir elkeen van ons. Jy is ‘n wenner seun.

Hannelie ·

Ag is hy nie te pragtig nie! Die mooiste seuntjie. Geniet Graad 1 Ruben, en mag al jou wensies waar word. Jy is Jesus se klein engel. Tannie hoop jy maak sommer baie maatjies by die skool. Jy raak vandag baie harte aan met jou as klein vegtertjie. Ek laat my kop in skaamte sak omdat ek soms oor nietighede kla…maar jy is dapper en sien als as ‘n uitdaging. Baie liefde vir jou.

Jane ·

Brawe seun met BRAWE ouers. Julle doen iets wat ek nie sou kon doen nie, julle is absoluut helde. Julle is voorbeelde vir alle ander ouers, en hy is ‘n voorbeeld vir al wat ‘n kind is. Hy wil net kind wees, hy wil net skoolgaan, Affies en Tukkies toe gaan soos enige kind graag sou wou. Dankie aan Affies en Tukkies dat julle hom ‘n kans gegee het om sy droom te verwesenlik, asook Menlo wat hom ingeneem het om net KIND te kan wees .. om bietjie te vergeet van die pyn en verdriet en net ‘n seuntjie te wees. Baie sterkte aan julle as ouers, en ek het baie baie respek vir julle wat die dokters se mening ook hierin gerespekteer het. Ek weet elke ouer wil veg vir sy kind se lewe tot die einde, maar julle veg op ‘n ander manier . julle VEG sodat hy kan LEWE tot die einde .. AWESOME OUERS !!! en ‘n REMARKABLE seun!

Sê maar net ·

Ek lees en trane dam in my op in my oge. Jy is so mooi, en het sulke gevoelvolle oe. EK tel my seeninge, die berig gaan ek vir my seun in gr 3 en gr 10 wys. Hulle moet sien hoe lyk iemand wil. Ek kan myself net indink hoe trots you mamma en pappa moet wees op jou. Ek kan net bid en vir God vra hy moet jou spaar van al die pyn gedurende skooltyd. Ek sit hier en ek huil, van hartseer en van trots. Ruben, mag jou skoolloopbaan net mooi dinge vir jou inhou.

André Scharneck ·

Liefste ouer, dankie vir jou mooi en bemoedigende boodskap, ek wil jou en alle ouers vra. Wys vir jou kinders fotos van Ruben en praat met hulle oor hom as julle voel dit is nodig, maar wees asseblief versigtig dat jy met die beste bedoeling nie jou kinders laat skuldig voel omdat hulle dalk nie skool toe wil gaan of huis werk wil doen nie, as ek een ding geleer het, is dat ons tyd met ons kinders kosbaar is. Ek wil julle vra om vandag en elke dag op elke geleentheid vir jou kind te soen en druk en vir hulle te sê hoe spesiaal hulle is en hoe lief julle hul het. Glo my… mens kan dit nooit genoeg doen nie. Kinders is die grootste geskenk.

Lise ·

Sjoe, dit is bitter hartseer om die seuntjie so te sien. Geen mens verdien om so te ly nie. Al wat by my opkom is dat ons in ‘n gebroke, gebroke wêreld lewe. Terwyl ek deur die koerant lees, sien ek net moord en doodslag. Negatief op negatief. En ek dink aan hoeveel mense wat lewe, wat eerder wil sterf. Mense wat met soveel geseën word en steeds ondankbaar is. Mense wat geseën word met kinders en hulle dan verniel op watter gruwelike maniere ook al. En dan kry jy hierdie pragtige seuntjie wat veg tot die bitter einde om te bly lewe, net normaal te wees. Ek haal my hoed af vir sy ouers. Julle moet wonderlike mense wees. Engele uit die hemel. Baie sterkte vir julle familie. Mag God hierdie seuntjie gebruik om baie mense se lewens aan te raak.

Ansie ·

Wat ‘n dapper seuntjie… Mag Jesus hom aanraak soos hy baie van ons se lewens geraak het… net om te lees waardeur hy gaan… dit het mannemoed gekos om skool toe te gaan. Baie sterkte aan sy ouers, boetie en familie… Hy is ‘n regte klein vegtertjie.

Koos ·

Sterkte ou grootman, jy is ‘n yster. Ons bid vir ‘n volkome en spoedige genesing.

lettie ·

Ruben jy is ons klein held. Jy bemoedig soveel deur jou deursettingsvermoe! Ek bid vir jou vir genade.

E.K. ·

Wat ‘n MAN is jy nie! Hier is klomp klakouse op Maroela wat na jou kan kyk en hulle koppe moet laat sak oor hoe hulle is. Jy is ‘n ster en ‘n voorbeeld vir duisende. Ek wens jou krag en sterkte toe en so ook vir jou gesin.

Uvonka ·

So klein maar reeds so “ge-train” om motivering en inspirasie aan almal oor te dra deur sy moed en vasberandenheid om skool toe te gaan, ek hoop jy geniet dit terdee. Ruben jy is ‘n held en almal kan een goue les by jou leer, moet nooit opgee nie, maak nie saak wat nie!!!!!

TM ·

Kom ons almal sit daad by die woord. Wonderwerke gebeur en NIKS is ontmoontlik vir God nie. Kan ek vra dat ons almal vanaand 7 uur saam bid waar ons ook al is. Daar is krag in gebed en gebed sal Ruben help. Versprei die woord om te bid. Kan ek op almal staatmaak?

Berdien Scharneck ·

Ek lees almal se komentaar Ruben en my hart bars van trots. Almal som jou so raak op. Oom Jannie en ek is supper trots vir die voorreg wat ons het om jou te mag ken. Jy leer ons so baie. Jy kla nooit en stel altyd ander bo jouself. Andre en Marinda dankie dat jul alles binne jul vermoë doen om sy drome en wens waar te maak. Ons lief jul baie!

Leon ·

Daar is al baie navorsing gedoen oor cannibus olie dit is dalk die moeite werd en doen julle eie navorsing oor die produk. Ons mediese mense wil nog nie die goed in dit raak sien nie en dit help ook nie altyd nie maar in meeste gevalle wel, dalk net na alle oorde kyk wat dalk kan help. Baie sterkte vir julle almal en vir die jong man wat reeds die die moed van n man het

Carmi ·

Sjoe, hierdie berig het my nou diepgeraak. Self is ek n onderwyseres, ek het die grootste bewondering vir leerders wat ten spyte van hul omstandighede, steeds uitstuig en baklei vir hul drome. Ruben, jy het al baie meer vermag as wat n matriekseun kon vermag. Mag jy geseën word. Jy is n rolmodel, en n wenner!!!

Hannelie Venter ·

Hy is die braafste pragtigste seuntjie. Ek is so trots om te kan se “ek is sy tannie”. My broer en skoonsuster is die amazingste mense. Elke keer as ek vra hoe gaan dit, sal hulle se “goed.” Al breek hulle harte. Toe hy Desember so baie siek was en ons langs sy bed gewaak het, was daar altyd grappies en liefde. As my broer buite braai, maak hy vir Ruben n bed op die tafel en Ruben braai saam. Hulle is die beste mamma en pappa waarvoor Ruben kon vrae. En hy die beste seuntjie waarvoor hulle kon vrae. Ons lief jou verskriklik baie Ruben.

Ek ·

Hallo liefste klein Ruben, jy is vir ons swakke mense so lieflike voorbeeld van geloof, hoop en liefde ! Ruben ek salueer jou met ‘n hart vol liefde ! Jesus skyn in jou ogies en glimlag en ek weet die skool is sommer vir jou baie lekker – geniet al die maatjies en al die huiswerk hoor ! Ouers en boetie julle is kosbaar en geseëndes van die Here !. XX

Suretha ·

Liewe kind…. jy het soveel wysheid in jou ogies. My hart wil in ‘n duisend stukke breek oor jy nog so klein is en al so baie eina ken.

Liana Scholtz ·

Wat ‘n ongelooflike mooi storie. Mag julle almal wat deel is hiervan gebless word, en Ruben meeste van almal.

christelle ·

geniet die skool ruben!! jy is pragtig. mia in graad 3 stuur groete sy se jy sal graad een love. xxx

Ben ·

Dit is wonderlik hoe God die klein , siek seuntjie gebruik om ‘n ou man soos ek te inspireer ! Dankie Ruben, ek gaan jou foto druk en op my lessenaar plaas. Groete, oom Ben.

Tania ·

Saluut Ruben!!!!! Respek!!!! Sjoe…hoe klein laat jy my voel…jy is AWESOME seun! Ek ken jou nie maar het sommer tonne liefde in my hart vir jou! ♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡♡

Isabel ·

Ruben ek wil net vir jou se dat die Hemelse Vader jou deursettingsvermoe sien. Hy het sy Seun, Jesus Christus gestuur vir AL ons kwale. Byt vas. In die Naam van Jesus roep ek volkome genesing oor jou. Wan drs opgee neem Vader oor. Dankie Vader. Amen.

Alta ·

Hoekom probeer julle nie cannabis olie vir Ruben nie, dalk net dalk is daar genesing

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.