‘Terreur’-arrestasies: Tweeling verskyn in hof

hof-hamer

Argieffoto

Tweelingbroers, wat die naweek saam met nog twee verdagtes in Johannesburg in hegtenis geneem is op terreurverwante aanklagte, het Maandag in die Johannesburg-landdroshof verskyn.

Die twee word daarvan verdink hulle wou die Amerikaanse ambassade en Joodse instellings in Suid-Afrika opblaas namens die Islamitiese Staat (Isis).

Brandon-Lee Thulsie en sy tweelingbroer, Tony-Lee, is saam met twee ander verdagtes in hegtenis geneem tydens ʼn gesamentlike operasie tussen die Valke, die nasionale intervensie-eenheid, die bomeenheid en ander wetstoepassingsagentskappe in Newclare en Azaadville, Johannesburg.

Die ander twee verdagtes sal na verwagting in die Kagiso-landdroshof verskyn. Die Thulsie-tweeling staan op drie terreurverwante aanklagte tereg.

Volgens die klagstaat het dié twee tussen Oktober 2015 en Julie 2016 saamgesweer om terreurdade in Johannesburg te pleeg. “Hulle wou lewens in gevaar stel en ernstige beserings veroorsaak. Hulle wou die Amerikaanse regering intimideer en die Joodse-bevolking van Suid-Afrika bang maak.”

Die klagstaat lui ook dat die sameswering en aanhitsing verwant is aan die “politieke en geloofs-motiewe van Isis”.

Die tweede klag handel oor die broers se beweerde planne om na Sirië te reis en by Isis aan te sluit.

Die derde klag is vir die oortreding van die grondwetlike demokrasie van die land deur te poog om terreurdade te pleeg.

Die saak is tot 19 Julie uitgestel vir verdere ondersoek. Die 23-jarige tweeling bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos ·

Ek het altyd geglo Suid-Afrika was ‘n veiligheids hawe vir die muslim ekstremiste dit is goed as daar teen hulle opgetree word hulle veroorsaak die dood van baie onskuldige mense.

Rupert Ashford ·

So…..dan was die Amerikaanse regering se waarskuwings die waarheid?

Armando ·

As mens glo die Amerikaanse regering sal so ‘n waarskuwing rig sonder rede, moet mens óf naíf wees of iets in die mou voer. Die klomp hier weet natuurlik altyd beter, veral as die bron Westers is, en dan sit hulle met eier op hulle gevrete. Waarom sal SA gespaar wees van dié dinge?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.