Terreur in Mosambiek: SA moet huis in orde kry

(Foto: ISS.org)

Die afgelope twee weke se gebeure in die stryd om die kusdorp Palma het die terreur in Mosambiek vir Suid-Afrikaners – en die res van die wêreld – op die voorgrond gedwing toe talle mense vasgevang is in djihadiste se aanslag op die dorp.

Een Suid-Afrikaner het gesterf en talle ander moes vir hul lewe vlug. Van heelwat mense kan in hierdie stadium steeds nie rekenskap gegee word nie.

Kenners waarsku nou dat dié aanvalle bloot die begin van ʼn terreurkrisis is wat die Mosambiekse regering nie in staat is om alleen te stuit nie, met wydverspreide gevolge vir internasionale beleggings.

Suid-Afrika moet boonop ligloop teen dieselfde paadjie, met ontevrede burgerlikes hier wat hulle dalk ook by internasionale terreurgroepe kan skaar.

Internasionale krisis

‘n Kind speel in ‘n straatjie in Paquitequete, naby Pemba. Seilbote het tientalle mense uit die Palma-omgewing na die geweld hierheen gebring. (Foto: Alfredo Zuniga/AFP)

Woensdag se aanval, ʼn skamele 10 km van Total se enorme gasaanleg in die streek, het die lede van die militante Alsar al-Soenna-groep tot op die voorstoep van die grootste, regstreekse buitelandse beleggingsprojek in Afrika gebring. Plaaslike inwoners verwys na die groep as “al-Shabaab” – “die jeug” in Arabies – maar hulle het nie enige formele bande met die gelyknamige Somaliese groep nie.

Ná drie maande van betreklike vrede het gevegte uitgebreek in ʼn goed gekoördineerde aanval – en vir die eerste keer is buitelanders wat in die gebied werk regstreeks geraak. Dit het ʼn groot skuif in die voortgesette krisis tot gevolg gehad.

Volgens Adriano Nuvungo, hoof van die Sentrum vir Demokrasie en Ontwikkeling in Maputo, het die afgelope ruk se gebeure gewys die groep kan die tydsraamwerk van die gasontginningsprojek beduidend beïnvloed. En dít het die wêreld laat regop sit.

Total, ʼn groot Franse maatskappy, het die afgelope week aangekondig dat hy sy bedrywighede by die aanleg weereens opskort. Die aankondiging is gedoen net enkele dae nadat die maatskappy bouwerk hervat het ná ʼn maandelange vertraging weens ʼn vorige ronde geweld.

Total en sy vennote beoog om sowat $20 miljard (R295 miljard) in die projek te belê. Die projek moet teen 2024 operasioneel wees, maar noudat militante beheer van Palma oorgeneem het, is daar onsekerheid oor die spertyd.

Die projek is ʼn belangrike een vir Total, maar hy kan steeds wegstap – en die Mosambiekse regering in ʼn moeilike posisie laat omdat hy groot gewaag het met belegging in natuurlike gas om sy ekonomie te verbeter.

ExxonMobil het oënskynlik reeds belangstelling verloor in sy eie Mosambiekse gasprojek, terwyl Italië se ENI net voorgaan met ʼn gedeelte van sy projek daar.

Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) sê verdere belegging in gasprojekte en aangrensende binnelandse projekte, waarby die hele Suidelike Afrika kan baat, is weens toenemende onsekerheid op ys. Onder die beste omstandighede sal die gasontginning voortgaan, maar dit sal waarskynlik van die land af geskuif word en weinig werk vir plaaslike inwoners skep.

Inwoners voel versaak

Mense wat uit Palma en die Afungi-skiereiland gevlug het, kom in by die hawe in Pemba aan. (Foto: Alfredo Zuniga/AFP)

Verlede week se aanslag was ʼn voortsetting van gewelddadige botsings tussen Mosambiekse owerhede en plaaslike terreurgroepe wat sedert 2017 in Mosambiek voorkom toe militante begin het met sporadiese aanvalle op polisiestasies.

Willem Els, ʼn senior opleidingskoördineerder oor georganiseerde misdaad en terrorisme by die ISS, sê inwoners van Cabo Delgado voel versaak deur die regering. Hulle word tradisioneel afgeskeep en staan agter in die tou vir ontwikkeling, geld, of voordele.

“Armoede, die hoogste werkloosheidsyfer in Mosambiek en die laagste geletterdheidsyfer, het mense kwaad gemaak en hulle het opgestaan.”

Die plaaslike militante het in 2019 ʼn ooreenkoms met die Islamitiese Staat (IS) aangegaan en dié organisasie het reeds vir verlede week se terreur aanspreeklikheid aanvaar. Ná die destydse ooreenkoms het die plaaslike groep sy aanvalle verskerp, die rebelle was beter bewapen, meer professioneel en beter georganiseerd.

In 2009 is groot hoeveelhede robyne ook in die noorde van Mosambiek ontdek. Die gewone inwoners het weereens geen voordeel uit die enorme rykdom getrek nie en sommige van dié ontnugterdes het ook by al-Shabaab aangesluit.

Kenners is verdeeld oor die moontlikheid of die insurgensie aangevuur word deur die vooruitsig van gasrykdom.

“Plaaslike inwoners het die ontwikkeling van robynmyne en die aanvanklike gasontwikkeling gesien en besef daar is geen werkgeleenthede vir hulle nie. Die gas- en robyngeld het nie by hulle uitgekom nie,” sê Joseph Hanlon, ʼn kenner verbonde aan Engeland se Open University.

Michael Cahen, ʼn spesialis verbonde aan Frankryk se nasionale wetenskaplike navorsingsprojek (CNRS), glo egter nie hierdie is ʼn stryd om gashulpbronne te beheer nie.

Hy sê indien Total wél aangeval word, dit gaan wees omdat die maatskappy hom by die Mosambiekse regering skaar.

Mosambiek nie opgewasse teen terroriste  

(Foto: Google Maps)

Verlede week se fyn beplande aanval het die magteloosheid van die Mosambiekse regering se reeds verswakte veiligheidsmagte om ʼn ongeorganiseerde en skorrieagtige groep te stuit, blootgelê.

Els sê weens ʼn amperse verbod op inligting uit die provinsie is dit moeilik om te bepaal wat op voetsoolvlak gebeur. Volgens beskikbare inligting is nagenoeg 2 600 mense al in die streek dood en sowat 700 000 is ontwrig.

Hy sê Mosambiek waak jaloers oor sy soewereiniteit, wat dit moeilik maak vir buitestanders om hulp te verleen. Dit is waarskynlik een van die redes waarom die bloedvergieting in Cabo Delgado tot dusver grootliks onder die radar kon plaasvind.

Die afgelope ruk se gebeure gaan moontlik meer druk op die Mosambiekse regering plaas om hulp te aanvaar. Els sê Mosambiek is een van die armste lande in die Suidelike Halfrond en het nie self die vermoë om die probleem te takel nie.

“[Suid-Afrika] kan nie net troepe instuur om ʼn soewereine land te gaan help nie en Mosambiek is baie huiwerig om vreemde voete op die grond toe te laat; dit was ook die afgelope drie jaar só,” sê hy.

Volgens hom het die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) meer druk op Mosambiek begin plaas om in te gryp, maar tot dusver het die land nog geen aanduiding gegee van die sogenaamde padkaart vir hulp nie.

Die land het wel al gevra vir hulp met die opleiding van sy veiligheidsmagte, asook geld, maar weens grootskaalse korrupsie in Mosambiek is die internasionale gemeenskap traag om geld te skenk.

Lede van die Amerikaanse spesiale magte is wel in Mosambiek en verskaf opleiding, terwyl Portugal ook hiermee help.

Waarskuwing vir SA

Mense wag angstig om te sien of hul familielede uit Palma aan boord van ‘n humanitêre vlug in Pemba aankom. Meer as 5 000 mense is die afgelope paar dae na veiligheid gebring. Duisende ander is steeds gestrand. (Foto: Alfredo Zuniga/AFP)

Els sê verlede week se aanvalle kan as waarskuwing vir Suid-Afrika dien.

Hier voel talle gemeenskappe ook ontnugter deur groot ontwikkelings wat reuserykdom vir die uitgesoektes beteken, maar die mense op voetsoolvlak in armoede gedompel hou.

“Afrika, ongelukkig, lyk of hy ʼn geskiedenis het waar ons toestande daarstel wat dié soort radikalisering bevorder. Oral in Afrika voel mense te na gekom, hulle voel gemarginaliseerd. As iemand dan agterkom sy stem by die stembus maak nie meer saak nie, kan mense die wapen opneem.

“Dit is iets wat voorkom moet word.”

Die VF Plus het die afgelope week gevra die regering moet optree teen die “wesenlike bedreiging” van IS in Suid-Afrika. Dr. Corné Mulder, die party se woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking, sê alle aanduidings is daar dat IS, en ander ekstremistiese Moslemgroepe, reeds ʼn vastrapplek in Suid-Afrika het.

“Dit sou uiters onverantwoordelik van die ANC-regering wees om nie daadwerklike stappe te doen teen die bedreiging nie,” sê Mulder.

Mulder sê Naledi Pandor, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, moet Mosambiek versoek om sy huis in orde te kry en op te tree teen die bedreiging voordat die hele Suider-Afrika gedestabiliseer word.

Hy waarsku ook dat dit alombekend is hoe poreus Suid-Afrika se eie landsgrense is. Boonop is die land se intelligensiediens erg verswak en is dit tot in die onlangse verlede grootliks aangewend vir ANC-binnegevegte.

Els stem saam dat Suid-Afrika se intelligensiegemeenskap disfunksioneel is en bes moontlik nie ʼn idee het wat op die grond aan die gang is nie. “Ek dink nie ons is daar waar jy die hele tyd oor jou skouer moet kyk nie, maar ons moet die volstruissindroom afskud.”

Maar het Suid-Afrika die vermoë om terreur te stuit?

Die gerespekteerde onafhanklike veiligheid- en verdedigingsontleder Helmoed Römer Heitman skryf die afgelope week in Business Day Suid-Afrika se weermag is onvoldoende gefinansier en kan nie eens die reeds onvoldoende vermoë wat in 1998 in die verdedigingshersiening uitgestippel is, vandag meer handhaaf nie.

Hy sê terwyl Suid-Afrikaners in lewensgevaar in Mosambiek was, was daar bitter min wat die weermag sou kon doen om hulle te help, en die rede hiervoor is die regering se jarelange verwaarlosing van verdedigingskapasiteit.

Heitman sê die regering sou minstens nie heeltemal níks kon doen nie. Sou die situasie verder eskaleer, kan die vloot ʼn fregat en die SAS Drakensberg met spesiale magte, seesoldate, helikopters en landingstuig ontplooi, hoewel dit vyf of ses dae gaan duur. In daardie tyd kan hulle Pemba-lughawe beveilig, Oryx- en Rooivalk-helikopters ontplooi, troepe en voertuie vir noodlenigingswerk uitstuur en selfs Gripens ontplooi vir verkenningswerk en bykomende lugsteun.

“Heelwat kan egter in daardie vyf of ses dae in Palma verkeerd loop,” waarsku Heitman.

Hy sê Suid-Afrika moet sy weermag behoorlik begin finansier, want as hy dit nié doen nie en Suid-Afrikaners in die toekoms weer iewers op die vasteland in gevaar verkeer, gaan daar bitter min wees wat die land kan doen om te help – nie eens die bietjie wat Suid-Afrika nou sou kon doen nie.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jaco ·

As die Cabo Delgado gebied nou ‘n 100% Moslem bevolking gehad het, kan ek verstaan dat ISIS daar betrokke raak, want dan is dit om die gebied vir Islam terug te vat. Onkonvensioneel ja, maar nou ja, dis mos maar hoe Islam is. AMaar in werklikheid bly daar min Moslems, so wat soek ISIS dan daar? Hoekom nou nie-Moslems met geweld probeer Moslems maak? Deur tot deur “bearbeiding” bestaande uit mense vertel van die voordele van Islam gaan mos veel beter mense oortuig om Moslems te word.

Pieter ·

Nog ‘n ANC failure. Pleks dat die ANC val en Mosambiek weer ‘n kolonie word.

Althes ·

Arrogansie dat opposisie raad gee en dit ignoreer of volstruissindroom – die ANC het eenvoudig so min regte besluite wat hul neem.

Hans ·

Vir te lank, het te veel “eksperts in media” die konflik as sosio-ekonomiese misdaad afgemaak, van ontevrede bevolking.
Pemba is die volgende teiken om die Cabo Delgado provinsie ontoeganklik vir Mosambiek se regering te maak.

Pieter ·

Wat gaan die ANC weermag maak dit is n sirkus net soos die ANC regering.

Werner ·

Suid Afrika is te bang om iets te probeer.Hier is Boko Harm dan in Mamelodi en daar word niks aan gedoen nie.Het van n betroubare bron gehoor dat hulle net gemonitor word.Omdat die regering bang is dat as iets teen hulle gedoen word hulle gaan begin met tereurdade.Nou word daar gese dat die Mosambiekse regering nie buitelandse soldate daar soek nie.Dit is n gerieflike verskoning om agter te skuil.As daar na vroere berigte van Raport gekyk word oor waar Isis opleidings kampe in SA het dink ek ons moes al lankal bekommerd begin raak het.Maak jouself maar reg vir groot moeilikheid hierdie regering gaan nie na jou kyk nie.Total het nou onttrek uit Mosambiek uit .Isis het n klomp vertuie daar buitgemaak daar word vermoed dat hulle nou die gaan gebruik om af te beweeg na die suide toe.

Keith ·

Our government are too busy, fighting for “freedom” and “change” (although they got this 27 years ago) and amongst themselves, to be bothered with a war going on just up the road.

Sambok ·

Tipies,wil Mosambiek vertel om hulle huis in orde te kry maar SA se huis is self nie in orde nie,daai Islam klomp is alreeds in SA en dreig die regering,patetiese klomp

Johan ·

Die ANC-EFF gee nie n vlenter om nie. Solank die geld in hul sakkies in vloei maak bitter min saak.

OW ·

As Mosambiek jaloers waak oor sy soewereiniteit en geen internasionale hulp wil aanvaar nie moet hulle maar vir hulle kry.Geen regdenkenende regering kan so redeneer nie.Hulle beter gou internasionale hulp kry anders sal die land onder die regering se neuse gekaap word.Daar is gister berig dat ‘n land genooi moet word om enige hulp te verleen.Dit kan net Afrika IK wees.Afrika gaan nie in ‘n 1000 jaar sy probleme self oplos nie.

Petrus ·

So, ons Weermag beteken boggerol? Foeitog. Dan benodig dit mos nie ‘n Minister nie. As ek dink hoe het ons gebars met opleiding in die 70’s.

amapinki ·

Groter wêreldmagte sit agter die militante groepe. Onthou, ons “gaan niks besit nie en ons gaan gelukkig wees”. Dit nou volgens WEF. Hulle sal hulle doel bereik met al hulle geld en mag.

akkedismis ·

Ek was lid van RSA weermag in 1962 en trots om ons land te dien . Die hedendaagse weermag is nie op standard nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.