Terreur in Mosambiek: ‘SAOG moet ingryp’

‘n Argieffoto van Palma, Cabo Delgado, in Mosambiek. (Foto: John Wessels/AFP)

Die DA het Maandag ’n beroep op die regering gedoen vir ’n troepesametrekking, bestaande uit al die lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), na die Cabo Delgado-provinsie in Mosambiek waar ekstremiste verlede week die noordelike dorp Palma binnegeval het.

Tientalle mense is dood in die gekoördineerde djihadiste-aanvalle, onder wie ook die Suid-Afrikaner Adrian Nel.

Die opposisieparty gaan nou, gegewe die situasie oor die afgelope paar jaar in Cabo Delgado, ’n skrywe aan Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), rig waarin hy ’n verduideliking eis oor waarom die beraad van staatshoofde en die regering van al 16 SAOG-lidlande wat vandeesmaand in Maputo sou plaasvind, nog nie gebeur het nie.

Die SAOG-lidlande is Angola, Botswana, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Lesotho, Madagaskar, Malawi, Mauritius, Mosambiek, Namibië, die Seychelle, Suid-Afrika, Swaziland, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe.

“Die probleme in Mosambiek kan die hele streek destabiliseer en ons kan nie bekostig om te wag tot Mosambiek uitmekaargeskeur word voordat ons buurland ’n versoek om ingryping aan die SAOG rig nie,” sê Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging.

Volgens Marais behoort Suid-Afrika hulp aan Mosambiek te verleen. Dit sluit in die dringende repatriasie van Suid-Afrikaners wat tans in Pemba gestrand is.

Die DA stel voor dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) sy spesiale magte stuur om burgers na veiligheid te bring.

“Suid-Afrika kan nie bekostig dat nog ’n buurland verwoes word nie. Afgesien van die ekonomiese en potensiële belange van energievoorsiening wat Cabo Delgado vir Suid-Afrika en die res van die streek inhou, het die opstandelinge reeds die bloed van duisende mense aan hul hande,” sê Marais.

“Die SAOG moet nou ingryp om Mosambiek te red en stabiliteit in die hele streek te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JM ·

Sal gaan soos met die inentings. Sal op hul hande sit tot dit te laat is.

Dries ·

Daai 200 Dijhadiste blaas SA se hele weermag op in kort tydjie

Nie Verbaas ·

Moet asseblief net nie ons weermag Mosambiek toe stuur nie want daar is dan niemand om hulle te red nie.

Hoekom ·

Net so min soos die ANC regime omgee vir Suid Afrikaanse burgers binne in Suid Afrika self so min gee hulle om vir Suid Afrikaanse burgers in die buiteland en nog minder vir buitelandse burgers…

Werner ·

Hierdie berig is maar net nog n bewys dat die DA in droomland verkeer.Hoeveel spesiale magte soldate het SA gaan ons een stuur of altwee.Hulle kan nie eens Boko Harm in Mamelodi vasvat nie.

Cherokee ·

Vele moslems in die regering. Ook in die DA. Dit wat in Mosambiek gebeur is moslem-gedrewe. IS is moslems, al val hulle selfs moslems ook aan.

Casper ·

Deur watter land of lande het die ekstremiste Mosambiek binne gegaan en hoekom juis Mosambiek,want daar is potensiaal vir geld maak.Hulle kan Mosambiek heeltemal lam lê.’n Afrka mag soontoe stuur,wat ‘n grap.Hoekom lei Amerikaners die Mosambiekse weermag op en ja ek glo S A het nie meer spes magte om op trots te wees nie.

SomeOne ·

“gekoördineerde djihadiste-aanvalle,” iets wat gekoördineerd is en amok maak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.