Terreur in Mosambiek toenemend gestuit – SA weermaghoof

‘n Rwandese soldaat op patrollie naby Palma, in Cabo Delgado in Mosambiek. Die soldate vorm deel van die SAOG se ingrypingsmag in die land. Die streek loop deur onder terreur. (Foto: Simon Wohlfahrt/AFP)

ʼn Versigtige balans moet gehandhaaf word tussen die verwagting wat mense van die weermag het om doeltreffende sendings van stapels te stuur, teenoor die weermag se kapasiteit te midde van ʼn kwynende begroting.

Nietemin, sê genl. Rudzani Maphwanya, hoof van die weermag, kom die weermag steeds sy verpligtinge na. Soldate is in Mosambiek en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), asook in Mosambiek as deel van Samim ontplooi – en daar sal nou ook van die weermag, veral die lugmag, verwag word om hand by te sit met die hantering van die vloede in KwaZulu-Natal.

Maphwanya sê kommer oor die weermag se begroting is geregverdig en dat pres. Cyril Ramaphosa as opperbevelvoerder ten volle daarvan bewus is en in sy staatsrede beloof het om meer hulpbronne beskikbaar te stel.

Hy het Woensdag hoofsaaklik terugvoer gegee oor Suid-Afrika se betrokkenheid by die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se sending in Mosambiek, wat as Samim bekend is.

Maphwanya is egter ook gepols oor die gebrek aan geld en veral die lugmag se onvermoë om talle van sy vliegtuie en helikopters diensbaar te hou.

“Jy kan nie ʼn begroting hê wat jou toelaat om ʼn Coke te koop en dan van ons verwag om jou van ʼn whiskey te bedien nie. Jy kan nie whiskey op ʼn Coke-begroting kry nie,” het hy volgehou.

Terreur in Mosambiek

Soldate patrolleer die kusgebeid by Mocimboa in Mosambiek waar terreurgroepe ‘n skrikbewind voer. (Foto: Simon Wohlfahrt/AFP)

Nagenoeg 500 Suid-Afrikaanse soldate is saam met hul eweknieë van Angola, Botswana, die DRK, Lesotho, Malawi, Tanzanië en Zambië – in samewerking met Mosambiekse magte – in die buurland ontplooi om Moslem-militante te help beveg. Daar is egter reeds goedkeuring om tot 1 495 Suid-Afrikaanse soldate te ontplooi, hoewel spesifieke operasionele besonderhede nie bekend gemaak word nie.

Soldate van Rwanda is ook op uitnodiging van Mosambiek in die land ontplooi.

Die ingrypingsmag is al maande lank besig om insurgente van die terreurgroepe Ahlu Sunna Wal Jamaah en Al Shabaab, wat ʼn skrikbewind in veral Cabo Delgado in die noorde van Mosambiek voer, te stuit.

Maphwanya sê sedert die aanvang van die ontplooiing is verskeie groot operasies van stapel gestuur en talle van die terreurgroepe se basisse is verwoes en beslag op sy toerusting gelê. Tot dusver is 31 terroriste in botsings tussen die Samim en die insurgente dood, terwyl 16 vroue, agt kinders en twee bejaarde mans wat vermoedelik ontvoer is, gered is.

Genl. Rudzani Maphwanya, hoof van die weermag. (Foto: Maroela Media)

Samim het beslag gelê op wapens wat insluit RPG7’s, PK-masjiengewere, tientalle AK47-aanvalsgewere en granate. Beslag is ook gelê op onder meer motorfietse, selfone, geheuestokkies en ander elektroniese toestelle. Dié toestelle word as deel van intelligensie-insameling ontleed.

“Ons magte gaan voort om enorme verliese vir die terroriste te veroorsaak,” sê Maphwanya.

Samim se mylpale sluit in die terugneem van dorpies, al hoe meer ontwortelde inwoners wat weer na hul huise terugkeer, die ontsetting van terroriste uit hul basisse en beslaglegging op wapens en ander oorlogsmateriaal. “Ons het betreklike veiligheid en bestendigheid na die gebied gebring. Mense voel veilig genoeg om na hul huise en normale lewens terug te keer.

“Die weermag se rol is deurslaggewend in hierdie sendings en met die onlangse aankoms van die Alfa-gevegsgroep is Suid-Afrika se afdruk selfs groter en sterker en is dit makliker om ons mense te beskerm.”

Hy wou nie bevestig of ontken of Suid-Afrika van sy Rooivalk-aanvalshelikopters as deel van sy sending in Mosambiek gaan ontplooi nie.

Die SAOG-sektretariaat is intussen verantwoordelik om te verseker finansiering word vir die sending bekom, terwyl Suid-Afrika self ook van die koste dra.

“Ons is almal daar om een rede: om ontslae te raak van ʼn vlaag terreur. Ons het nie botsende belange nie.”

Die weermaghoof sê Suid-Afrika staan ook in solidariteit met die mense van Mosambiek en sal help verseker dat die vlaag terreur uit daardie gedeelte van die land én die streek verwyder word.

Hou terreur uit SA

Maphwanya sê danksy die magte in Mosambiek word daar ook tot die veiligheid van die streek bygedra. “Veiligheid is relatief as jou buurman nie veilig is nie. Die teenwoordigheid van ons magte in Mosambiek dien as ʼn afskrikmiddel vir terroriste en laat Suid-Afrikaners toe om met hul lewe aan te gaan.”

Hy waarsku indien die magte misluk om die situasie in Mosambiek in bedwang te hou, dit maklik as ʼn “ernstige veiligheidsbedreiging na Suid-Afrika kan oorspoel”. Dit is ʼn gevaar wat hulle baie ernstig opneem.

“Jy bluf jouself as jy dink wat met ʼn buurman gebeur, sal jou nie raak nie. Ons glo ons moet die vlaag terreur stuit en dit in die kiem smoor terwyl dit aan die ander kant is. Ons kan nie toelaat dat terreur floreer nie,” sê Maphwanya.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Strandloper ·

Die kominuste is heel van die pad af! Kry eers jou eie huis in orde voor jy gevreet wil koop by ander! Kan my die chaos daar net probeer indink ….

Swerwer ·

Sò dus kan die “Soldate” buurlande help maar hul eie land se onluste kan hul nie beheer nie. Pragtig Suid Afrika.

Manie ·

Julle mors tyd en geld in ‘n land wat reeds onherstelbaar vernietig is. Keer eerder terug en beskerm julle eie land se grense en mense wat ook daagliks ge-terroriseer word.

Christa ·

“Ons glo ons moet die vlaag terreur stuit en dit in die kiem smoor terwyl dit aan die ander kant is. Ons kan nie toelaat dat terreur floreer nie,”

Regtig, en tog gebeur dit daagliks op eie bodem, reg voor ons neuse. Sien nie dat daar enigeiets daaromtrent gedoen word nie…denkwyse van volstruis!

Joe Olivier ·

As ons BEE weermag dan nou soos beweer so suksesvol kan wees teen gewapende magte, waarom kon hulle nie verlede jaar Julie ongewapende rampokkers stuit nie. Genl gaan vertel jou storie vir iemand anders. Ek pleinweg glo jou nie.

007 ·

Maar die kaders drink dan Blue Label met hul Coke Zero begroting.

Ronel ·

As hulle dink die klomp is nog nie in SA nie, moet hul weer ‘n slag dink

My siening ·

ANC JULLE IS EEN GROOT GRAP! Watter weermag soos die in DKR wat net verkrag drink en lê rond en kos die belasting betalers!

Laeik ·

Jannee kyk, hulle gaan seker n klomp kleintjies daar agterlaat…

christo ·

Die korrupsie in die SANW se top rang strukture en die ANC Kader ontplooiing is waar die geld deur tenderpreneurs asook die Kubaanse mengelmoes, vreet die begroting op. Wanneer laas het jy ‘n lenige hoë offisier gesien? Almal rond en gesond van lekker lewe op die begroting wat veronderstel is om SALM vliegtuie en SA Vloot vaartuie instand te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.