‘Terreur-tweeling’ glo ‘onregmatig’ in hegtenis geneem

Brandon-Lee Thulsie en Tony-Lee Thulsie. Foto: Facebook

Brandon-Lee Thulsie en Tony-Lee Thulsie. Foto: Facebook

Die tweeling, Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie, wat van terrorisme beskuldig word, se aansoek om borgtog is Dinsdag weer in die Johannesburgse landdroshof uitgestel.

Die saak is tot Donderdag uitgestel nadat die hof gehoor het die twee 23-jariges het in hul beëdigde verklaring aangedui hulle is onregmatig in hegtenis geneem.

Staatsaanklaer Chris MacAdam sê hy moes die kwessie ondersoek en hy sal Donderdag gereed wees om voort te gaan en te reageer.

Landdros Pieter du Plessis het benadruk die saak moes al in hul eerste hofverskyning genoem word en hoe vinniger dit afgehandel word, hoe beter.

Annelene van den Heever, vir die Thulsie-tweeling, het versoek dat Du Plessis ʼn bevel uitreik om die tweeling na die Sandton-polisiestasie oor te plaas. Du Plessis het egter gesê dit is nie moontlik nie, tensy die hoof van die polisiestasie ʼn vorm indien wat bevestig dat daar plek is om hulle te akkommodeer.

Die tweeling bly in aanhouding.

Sommige familielede van die tweeling, wat in die galery gesit het, het gehuil terwyl die hof vir Du Plessis gewag het om kommentaar te lewer oor die verklarings wat hy gelees het.

Die Thulsie-tweeling word daarvan beskuldig dat hulle die Wet op Terrorisme oortree het en beplan het om die Amerikaanse ambassade en Joodse instansies in Suid-Afrika op te blaas namens die terreurgroep, Islamitiese Staat van Irak en die Levant (ISIL).

Hulle is op 10 Julie saam met twee ander persone in hegtenis geneem deur die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke) tydens ʼn operasie in Newclare en Azaadville. Die vier het glo beplan om na Sirië te gaan om by ISIL aan te sluit.

Die Thulsie-broers staan tereg op drie aanklagte wat verband hou met terreuraktiwiteite.

Die voorlopige klagstaat dui daarop dat die tweeling, tussen Oktober 2015 en 8 Julie 2016, saamgesweer het om terreurmisdade in Johannesburg te pleeg.

Die staat voer aan die broers het “onwettig en doelbewus saamgesweer om terreurmisdade te pleeg” en ontploffings beplan by die Amerikaanse ambassade en Joodse instansies in Suid-Afrika.

Die sameswering en aanhitsing word verbind met die “politieke, godsdienstige of ideologiese motiewe” van die ISIL, aldus die klagstaat.

Nog ʼn klag hou verband met die beweerde plan deur die broers om na Sirië te gaan en hy ISIL aan te sluit “om in terreuraktiwiteit deel te neem”.

Die broers staan ook tereg op aanklag van die oortreding van die grondwetlike demokrasie van die land deur te poog om dade te pleeg wat met terreuraktiwiteit verband hou.

Lees alle vorige berigte oor die Thulsie-tweeling op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

jaco ·

Hulle het nie arabiese name nie, so ek wonder of hulle moslems is. Waarom sou 2 nie-moslems by n militante Moslem-organisasie betrokke raak???

Sê maar net ·

Jaco,

Jy hoef nie ‘n Arabiese se van of naam te hê om ‘n Moslem te wees nie. Daar is Mijoene Moslems in ons land met Westerse of Zoeloe name. Ek ken ‘n man wat se naam Pieter Nel is, wat ‘n moslem is. Talle mense met Afrika herkoms is ook Moslems. Natuurlik glo hulle nie almal aan ISIL se beleid nie.

snoefie ·

klink vir my ook sedert die begin na n pot str..t. eers het die lugdiens hulle verkla omdat die lugdiens van hulle duistere planned uitgevind het. ELO????

Vince ·

Nou ja waarom is Nelson Mandela dan vrygelaat as hy die land verraai het? Terreur is terreur maak nie saak watter government rule nie…

Geskok ·

Geskok, die 2 is nie net op n dag opgelaai, omdat iemand niks het om te doen nie. Mag hul waarheid uitkom en regtig as hul by tereur betrokke is, moet hul vasgevat word. Terroriste is nie noodwendig moslems nie, maar enige beiinvloedbare persoon wat dit vir geld of n helde verering doen! Hul word gewerf op n brose vase en dan gebreinspoel.

Jeanne ·

Die “Boeremag” sit nou nog vir die kamstige terreur wat hulle beplan het. Wat het hulle regtig teen hulle gehad? ‘n Paar stupid planne en ‘n ambulans met ‘n paar coke-bottels met rondtes in, en hier en daar ‘n geweer of twee wat op ‘n plaas gestoor is. Hulle is gepos en sit al vir jare in die tronk en gaan nog vir baie jare sit agv die woordjie TERREUR, die ‘planne’ wat op rekenaars gevind is, wat total onuitvoerbaar was. Ongelukkig word dit nie ligtelik opgeneem nie, en as jy daarby betrokke is, hoop ek die bewyse is sterk genoeg om hulle tronktoe te stuur as hulle skuldig is, want ons land het nie nog terroriste nodig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.