‘Terreur-tweeling’: Grondwetlikheid onder die loep

Een van die foto’s wat deur die staat by die hof ingedien is in die Thulsie-tweeling se hofsaak.

Die grondwetlikheid van terreurdade was Vrydag steeds ʼn kwessie in die Johannesburgse hooggeregshof tydens die hofsaak van Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie.

Die twee is in Julie 2016 in hegtenis geneem op aanklag dat hulle vermoedelik terreurdade beplan het op verskeie Joodse instansies en individue en dat hulle gepoog het om by die terreurgroep ISIL aan te sluit.

Annelene van den Heever, vir die tweeling, het aan regter Raylene Keightley gesê sy is in gesprek met ʼn prokureur oor ʼn soortgelyke saak wat inligting sal verskaf van hoe hulle die saak moet hanteer. “Ons is van mening dat ons teen die einde van Januarie ons hofstuk oor die aansoek sal kan indien,” het sy gesê.

“Ek is nie seker of ek die grondwetlike kwessies kan hanteer nie,” het regter Keightley reageer.

Van den Heever het versoek dat die saak tot 31 Januarie uitgestel moet word.

Staatsaanklaer Chris MacAdam het gesê enige kwessie oor die Grondwet sal vereis dat die polisie teenwoordig moet wees, sodat hulle die aansoek kan sien en bepaal wie geskik is om die saak te verhoor.

“Die hof wil nie onduidelik hieroor bly nie,” het Keightley bygevoeg.

MacAdam het gesê al die staat se dokumente is ingedien.

“Ons moet nie die hofsaak ophou nie, ons moet aan die gang kom,” het Keightley hierop gesê.

MacAdam het daarna aan die hof genoem die regterpresident het gesê die beskuldigdes moet voetboeie dra. Dit volg nadat die verdediging tydens hul vorige hofverskyning versoek het dat die beskuldigdes se voetboeie verwyder moet word. Keightley het gesê sy benodig skriftelik die feite oor die veiligheidsmaatreëls, aangesien dit in almal se belang is en haar kantoor voor die hofsaak ook deur veiligheidsbeamptes ondersoek is. “Ons wil nie ʼn persepsie skep dat ons kliënte gevaarlik is, as dit nie die geval is nie,” het Van den Heever bygevoeg.

Die saak is tot 12 Desember uitgestel sodat die voorverhoorverrigtinge kan voortduur.

Lees alle vorige berigte oor die Thulsie-tweeling op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.