‘Terreur-tweeling’ ook van bedrog aangekla

Een van die foto’s wat deur die staat by die hof ingedien is in die Thulsie-tweeling se hofsaak.

Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie, wat daarvan beskuldig word dat hulle terreuraanvalle beplan het, word ook nou van bedrog aangekla.

Dié klag hou verband met die tweeling wat glo Lesotho-paspoorte in hul besit gehad het in die name van Christian Adams Leroy en Germain Adams Troy. Hulle het die paspoorte aan die departement van binnelandse sake se beamptes op die grens tussen Lesotho en Suid-Afrika voorgehou.

Die tweeling is in Julie 2016 in hegtenis geneem en staan tereg op aanklag van sameswering en aanhitsing tot terreurmisdade en sameswering en ʼn poging om terreurmisdade te pleeg.

Staatsaanklaer Chris MacAdam het Dinsdag aan die hof gesê hy het ʼn klagstaat in sy besit met 12 aanklagte teen die Thulsie-tweeling.

“Ons is besig met die konsultasieproses. Ons moet die sentralisering van die klagtes bespreek. Die briewe word tans opgetrek en uitgestuur.” MacAdam het aan landdros Pieter du Plessis gesê sodra dit aangevra word, kan die saak na die hooggeregshof geskuif word en ʼn datum vir die voorverhoorverrigtinge vasgestel word.

Die klagstaat van 13 bladsye toon dat die tweeling glo by ISIS wou aansluit en terreurmisdade wou uitvoer met onder meer vuurwapens, plofbare materiaal en selfs gif. Jonathan Shapiro (die spotprentkunstenaar Zapiro), Roy Topol (ʼn Joodse Suid-Afrikaanse beleggingsbestuurder) en die King David High School is as teikens vir die aanvalle gelys.

Daar word beweer dat Tony-Lee in Augustus 2015 in ʼn reeks telegramboodskappe met Abu Fidaa van ISIS gekommunikeer het. Hy is glo tydens die gesprekke beveel om die ‘beste teikens’ wat Amerikaanse, Britse en Franse belange in Suid-Afrika insluit te kies. Hy is glo ook beveel om die spotprenttekenaar Zapiro dood te maak wat die ‘Messenger of Allah’-spotprent geteken het.

Die familie van die tweeling was in die hof teenwoordig en het emosioneel reageer toe hulle hoor die saak is weereens uitgestel. Die saak is tot 15 Mei uitgestel wanneer die datum vir die hooggeregshofverrigtinge vasgestel sal word.

Lees alle vorige berigte oor die Thulsie-tweeling op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nee nee ·

Nee ek voel gee die Polisie kans om ‘n waterdigte saak voor te berei, hierdie 2 kinders kon die dood van baie mense veroorsaak het en dit kan summier gestop word en ook aan moontlike goeie Suid-Afrikaners wys dat dit nie die moeite werd is om met Isis saam te werk nie.

E.K. - ek sê net! ·

Hulle is wat mens noem “bad news”. Goed dat die polisie hulle deeglik ondersoek, daar kom dalk nog baie dinge uit.

Why ·

Sluit hulle asb tog net toe, julle karring nou al so lank aan hierdie ‘tweeling’ en probeer so hard om hulle soos ENGELTJIES Te laat lyk en duidelik is hulle nie. Een dag is hulle squeaky clean en net die volgende dag bewys hulle die teendeel .. VERHOOR Nou hierdie mannetjies, sluit hulle toe en gooi die sleutel weg .. julle was vinnig met die Boeremag, hoekom draal julle so met ISIS terroriste?

Ishmail ·

Want die boeremag was wit, christen mans. Die is kleurige, muslim seuns.

w ·

Hierdi twee moet nooit ooit weer buite kan rondloop nie. Sit hul lewenslank agter slot en Tralies. Hul verdien dit.

Verwonderd ·

Wat sê die selfmoord bom instrukteur vir sy leerders? “Right manne, hierdie ding wys ek net een keer vir julle…”

Fires ·

Zapiro nogal, het nie gedink daar is mense wat hom meer wou dood sien as zuma

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.