‘Terreur-tweeling’-saak nog nie gereed vir verhoor

Een van die foto’s wat deur die staat by die hof ingedien is in die Thulsie-tweeling se hofsaak.

Die Johannesburgse hooggeregshof het Woensdag gehoor dat die verhoor van Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie, die tweeling wat van terreurmisdade beskuldig word, nog nie gereed is om te begin nie.

Die twee het Woensdag in swart Moslem-kleredrag in die beskuldigdebank verskyn.

Staatsaanklaer Chris MacAdam het gesê dat bewysstukke van ander lande steeds uitstaande is.

Die tweeling is al sedert hul inhegtenisneming in Julie 2016 in aanhouding op aanklag dat hulle terreuraanvalle beplan het op verskeie Joodse instansies in Suid-Afrika asook individue. Hulle was 23 jaar oud toe hulle in hegtenis geneem is.

“Ons sal op ʼn punt moet kom waar ons nie meer enige vertragings kan aanvaar nie,” het MacAdam gesê.

MacAdam het aan regter Raylene Keightley gesê die staat is besig om ʼn lys op te stel oor hoeveel bewysstukke elkeen van die staat se getuies aan die hof gaan verskaf.

Keightley het daarna die saak tot 31 Julie uitgestel vir verdere voorverhoorverrigtinge. Die beskuldigdes bly in aanhouding.

MacAdam het in April 2017 gesê hy het ʼn klagstaat in sy besit met 12 aanklagte teen die Thulsie-tweeling.

Die klagstaat van 13 bladsye toon dat die tweeling glo by ISIS wou aansluit en terreurmisdade wou uitvoer met onder meer vuurwapens, plofbare materiaal en selfs gif. Jonathan Shapiro (die spotprentkunstenaar Zapiro), Roy Topol (ʼn Joodse Suid-Afrikaanse beleggingsbestuurder) en die King David High School is as teikens vir die aanvalle gelys.

Daar word beweer dat Tony-Lee in Augustus 2015 in ʼn reeks telegramboodskappe met Abu Fidaa van ISIS gekommunikeer het. Hy is glo tydens die gesprekke beveel om die “beste teikens” wat Amerikaanse, Britse en Franse belange in Suid-Afrika insluit te kies. Dit sluit verskeie ambassades en lughawens in. Hy is glo ook beveel om die spotprenttekenaar Zapiro dood te maak wat die “Messenger of Allah”-spotprent geteken het.

Lees alle vorige berigte oor die Thulsie-tweeling op Maroela Media.

Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie (Foto: Via ANA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

D P J ·

Ek wonder of dit regverdig is om die tweeling sonder verhoor aan te hou.
Kan hulle met voet boeie sender op perrool vry gelaat word nie???

Koos de Meyer. ·

Hoe kan jy mense wat terreur dade pleeg of van voornemens is om dit te doen op parool toe laat. Dan gaan hulle mos doen wat hulle beplan het om te doen. Hulle moet maar vir hulle kry. As jy met vuur speel brand maar jou hande.

TS ·

Nee jy kan hulle nie vrylaat om hulle haat te vetsprei nie. Hoeveel onskuldiges moet sterf voordat die saak begin. Kry die dokumentasie reg en begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.