‘Terreur-tweeling’: Saak uitgestel oor nuwe verklaring

Een van die foto's wat deur die staat by die hof ingedien is in die Thulsie-tweeling se hofsaak.

Een van die foto’s wat deur die staat by die hof ingedien is in die Thulsie-tweeling se hofsaak.

Die saak teen Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie wat daarvan beskuldig word dat hulle terreuraanvalle beplan het, is Maandag weer in die Johannesburg-landdroshof uitgestel.

Adv. Chris MacAdam, die staatsaanklaer, het ʼn verklaring aan landdros Pieter du Plessis oorhandig ter ondersteuning van die staat se aansoek om die saak te laat uitstel. Adv. Anneline van den Heever, regsverteenwoordiger vir die tweeling, het gesê sy het die verklaring gelees wat deur die staat ingedien is en dat sy eers met haar kliënte moet vergader om te besluit oor hul stappe vorentoe.

“Ons wil die bewerings wat in die verklaring gemaak word, hanteer,” het Van den Heever gesê. MacAdam het gesê die staat versoek die hof om die saak uit te stel sodat daar verder ondersoek ingestel kan word na bewerings van ʼn sameswering om terreurdade te pleeg. Hy het gesê die staat wil gereed wees om te kan reageer op enige kwessies wat die verdediging mag opper.

Die Thulsie-tweeling is op 9 Julie in hegtenis geneem nadat polisiebeamptes hul huis deursoek en op dokumente afgekom het wat die broers betrek by planne om terreurdade uit te voer en om by die terreurgroep Isis aan te sluit. Die Thulsie-broers is sedert hul inhegtenisneming in polisieaanhouding.

Van den Heever het verlede week gesê die staat se versoek tot uitstel is net ʼn truuk om die saak te vertraag. Du Plessis het gesê aangesien die ondersoek buite die grense van die land gaan, glo hy nie dat die staat die saak met opset vertraag nie.

Die tweeling staan tereg op aanklagte van sameswering en aanhitsing om terreurdade te pleeg en saam te sweer asook van poging om terreurdade te pleeg. Hulle sal op 15 November weer in die hof verskyn.

Lees alle vorige berigte oor die Thulsie-tweeling op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Raymond Bastone ·

Hulle wil terreur pleeg jaag hulle uit die land na n swaar tronk straf. Hier is nie plek vir terroriste nie

jaco ·

nie een van die twee het n fez op sy kop nie en hulle het ook nie arabiese name nie. converts na die moslem geloof, veral in n radikale organisasie soos ISIS, sal dadelik arabiese name kry wat iets van hulle nuwe moslem geloof sê. iets hier is nie pluis nie.

Wat nie pluis is ·

Wat nie pluis is nie, is terroriste, die land het nie nog sulke gemors ook nodig nie. Die 2 was beslis met lelike dinge besig, los die gis maar vir die polisie! Dink so daar aan sal jy nou al ‘n fez hê as jy ISIS nog moet oortuig, kyk gou na die Black widow se foto’s, sy het gewone foto’s van haar versprei of ten minste laat versprei om haar gewone regte te gee om terrorisme te doen. Hierdie is ernstig en gevaarlik, die gereg moet sy loop neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.