‘Terreur-tweeling’: Staat wag vir bewyse van oorsee

Een van die foto's wat deur die staat by die hof ingedien is in die Thulsie-tweeling se hofsaak.

Een van die foto’s wat deur die staat by die hof ingedien is in die Thulsie-tweeling se hofsaak.

Die saak teen die tweeling Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie wat daarvan beskuldig word dat hulle terreuraanvalle beplan het, is Dinsdag in die Johannesburg-landdroshof uitgestel.

Staatsaanklaer Chris MacAdam het Maandag ʼn aansoek ingedien vir ʼn verdere uitstel, aangesien die staat nog tyd benodig om die ondersoek af te handel. Hy het Dinsdag aan die hof gesê hy wag vir ʼn dokument van ʼn senior beampte en bewyse van oorsee.

Die tweeling is in Julie 2016 in hegtenis geneem en staan tereg op aanklag van sameswering en aanhitsing tot terreurmisdade en sameswering en ʼn poging om terreurmisdade te pleeg.

MacAdam het aan die hof verduidelik die versoek vir ʼn verdere uitstel is omdat dit nie ʼn normale saak met gewone plaaslike bewyse is nie. “Die grootste kwessie hou verband daarmee om bewyse in te samel van ander lande,” het hy gesê. “Ons is eers die dag voor die vorige hofverskyning van Britse beamptes in kennis gestel oor verbintenisse met die saak. Ons het nog altyd aan hierdie hof gesê daar was ʼn geheime agent van die Amerikaanse regering wat by die ondersoek betrokke is.”

Volgens MacAdam is daar diensverskaffers in Amerika wat besig is met hul eie ondersoek. “Hulle het gesê indien die broers nie in Suid-Afrika verhoor word nie, sal ʼn aansoek vir uitlewering ingedien word. Ons wag vir inligting oor die ondersoek in Amerika en sal teen die einde van Maart terugvoer ontvang.”

MacAdam het gesê verdagtes, wat met die saak verbind word, is in Kenia en Engeland in hegtenis geneem en die staat wag ook vir inligting oor dié sake.

Hy het gesê Interpol staan die staat by om verdere inligting in te samel oor die tweeling se poging om by die Islamitiese Staat in Sirië aan te sluit uit Maputo. “Ons wag nog vir bewyse van Mosambiek. Ons het nie stilgesit nie.”

Die Turkse en Siriese regerings is ook genader vir inligting tot die saak en daar is tekens dat die tweeling oorweeg het om na albei hierdie lande te reis.

“Dit is ernstig en ons is onder internasionale verpligtinge. As ons ʼn behoorlike ondersoek wil doen, het ons tyd nodig. Dit is ʼn ongewone saak. Die staat was nie bewus van die betrokkenheid van ander lande nie. Die staat het stappe gedoen om die internasionale bewyse in te samel.”

Annelene van den Heever, vir die tweeling, het gesê niemand kan onbepaald aangehou word nie en die saak moet so vinnig as moontlik begin. “Ons gaan aanvoer die regte van die beskuldigdes word geskend,” het sy aan die hof gesê. Sy het die verloop van die saak aan die hof voorgehou, van wanneer die ondersoek begin en die tweeling in hegtenis geneem is. Volgens haar sloer die ondersoek al te lank. “Daar is geen regverdiging in hierdie laat stadium om verder ondersoek in te stel nie.” Sy het gesê die staat se getuienis is “wishy washy”.

Die tweeling se ma het in die publieke galery sit en huil met lede van die familie aan haar sy.

Landdros Pieter du Plessis het die saak tot Vrydag uitgestel wanneer die staat en verdediging na verwagting hul betoogshoofde sal lewer.

Lees alle vorige berigte oor die Thulsie-tweeling op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ig ·

Nooit gesien nie, kan nie wees nie,kyk dan hoe onskuldig lyk hulle.Julle kierangs gaan braai julle twee swerkaters.

Justice ·

Die Thulsies lyk vir my na twee hoogs gemotiveerde, sterk en tawwe aspirant Isis terroriste – ek vertrou dat die tronk vir hulle soos ‘n kindertuin moet wees – hou hulle gerus maar agter slot en grendel – moet ook nie die sleutel soek nie.

Sinikus ·

Jy kan nie mense arresteer en in aanhouding hou en 6 maande later verwag dat ‘n hof hom op die woord van ‘n Amerikaanse geheime agent moet verlaat dat die bewyse van hulle beweerde misdade oppad is nie. Die Amerikaners het hulle eie agenda en Suid-Afrikaanse grondwetlike geregtigheid is nie op daardie agenda nie. As jy iemand in Suid-Afrika wil arresteer, moet so ‘n persoon binne ‘n redelike tyd aangekla word en ‘n redelike geleentheid gegee word om homself te verdedig. Aan die einde van die dag is hulle skuld irrelevant as die Staat nie klagtes kan formuleer en genoeg bewyse vir ‘n verhoor het nie.

Justice ·

Wel op die foto lyk dit nie asof die knape regmaak om paintball te gaan speel nie.

paintball101 ·

enige mens met n logiese bedenkinge kan sien dat die toerusting wat hul drae duidelik paintball toerusting is wat hul drae, die geweer mag dalk na n M16 lyk maar dis hoe die sport is, alles meot realisties lyk. die brand Tippman maak dit. Die ander boetie drae n 4×2 ammo pod pack om sy middel en in sy linker hand hou hy die punt van n Remote coil vas, wat mens agter op jou geweer koppel om sodoende lug ‘air” van die bottel na die geweer te vervoer, wat inruil die balletjies laat vlieg. Baie paintball ouense drae die hemp met woorde RUN of HIDE op vir obvouis redes. Die hele Hofsaak lyk na n Hekse jag en vermorsing van staatsgeld oor mense n boek by sy cover judge en oningelig is oor n stokperdjie van n persoon.

jaco ·

mense wat convert na die moslem geloof en dan by so n radikale en erg ortodokse moslem organisasie soos ISIS aansluit, sal onmiddelik hulle name na Arabiese name moet verander. Ook nie sommer enige arabiese name nie: dit sal name wees wat met islam te doen het, byvoorbeeld Muhammed of Ismail.hulle sal ook hulle kleredrag moet verander om te wys dat hulle nou moslems is. elkeen sal ten minste ‘n fez op die kop moet dra. ek sien geen arabiese name in hierdie berig nie en ek sien geen fez op die foto nie. waar is die bewyse dat hulle regtig deel van ISIS is?

John ·

Die een boetie se t-hemp dra dalk ‘n geheime boodskap. Mens leer mos nie lees om dowe neute nie… Party verkeerstekens het in die ou dae STOP gelees, miskien word RUN nou in die plek daarvan invoer. Hoe sal mens weet…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.