‘Terreur-tweeling’ voer aan hulle wou emigreer

Van die foto's wat deur die staat by die hof ingedien is in die Thulsie-tweeling se hofsaak

Van die foto’s wat deur die staat by die hof ingedien is in die Thulsie-tweeling se hofsaak

Die tweeling van Johannesburg wat daarvan beskuldig word dat hulle terreuraanvalle beplan het, se regspan het Maandag in die hof aangevoer die hoofondersoekbeampte, Wynand Olivier, mislei die hof.

Advokaat Anneline van den Heever, vir Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie, het Maandag die staat versoek om dokumente te verskaf wat die bewerings teen die tweeling sal staaf. Die saak word in die Johannesburgse landdroshof aangehoor.

Die tweeling, wat verlede maand in hegtenis geneem is, word daarvan beskuldig dat hulle ʼn terreuraanval beplan het by die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika en by Joodse instansies in die land.

Van den Heever het vroeër daarop aangedring dat die tweeling Turkye wou besoek vir ʼn onderhoud om daarheen te emigreer, nie om by ISIS aan te sluit nie.

Sy het Olivier, die Valke se hoofondersoekbeampte, kruisondervra, en wou weet of sosialemediaplasings wat ISIS ondersteun, bewys dat iemand by die organisasie wou aansluit.

Olivier het erken dat hy nie die plasings gesien het wat toon dat die tweeling by ISIS wou aansluit nie, maar dat hy oortuig is dat hulle belanggestel het om aan te sluit, aangesien daar talle plasings was wat die organisasie ondersteun.

“Ons glo nie hulle wou emigreer nie, want dit is juis familielede wat die lugredery in kennis gestel het oor die beskuldigdes se planne om na Sirië te gaan,” het Olivier verduidelik.

Van den Heever voer aan die Valke het nie aansoek gedoen vir ʼn lasbrief vir inhegtenisneming vir die twee broers nie, omdat hulle nie enige bewyse gehad het nie. Olivier het egter gesê hulle het wel voldoende bewyse gehad, maar het gekies om nie aansoek te doen vir die lasbrief nie. Hy het gesê die inhegtenisneming sou nie in daardie stadium plaasvind nie, maar dit het gekom ná die staatsgetuie, Renaldo Smith (ook bekend as Arashad Smith), inligting vir hulle gegee het wat ooreengestem het met dit wat hulle reeds geweet het. Hulle het ook beslag gelê op items tydens ʼn klopjag wat tot die inhegtenisneming gelei het.

Tydens ʼn klopjag by een van die broers se huise, het hulle inligting gevind hoe om by die terreurgroep Islamitiese Staat van Irak en die Levant (ISIL) aan te sluit, hoe om vervalste geelkoorssertifikate te bekom, ʼn indeks hoe om ʼn bom te vervaardig en hoe om die aanvalle uit te voer.

Die saak is tot Donderdag uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor die Thulsie-tweeling op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cherokee ·

Ek wonder of Anneline Van Den Heever lekker slaap wanneer sy dink oor van wie en van wat haar inkomste is. As sy dink oor die karakters wat sy verdedig. Of dit haar glad nie pla nie.

Stem saam ·

Ek stem saam, mens moet darem iewers so daaraan dink, ek veg om n teroris los te kry, wat gaan ek vir myself se as hul n groot groep onskuldige mense doodmaak

Scura Toks ·

Miljoene mense met n oopkop en lewentige belangstelling in alles om hulle, het al soortgelyke “searches” gedoen uit blote nuuskirigheid, dit alleen beteking net mooi niks.

Paul ·

Die foto’s is van “paintball”-toerusting. Nie bewyse van enigiets behalwe dat hulle hou van mense met verf skiet nie…

Veritas ·

Paul, ‘n selfmoordbom-baadjie is nie iets wat baie aftrek in SA sal kry nie, dus hou kettingwinkels dit nie juis in voorraad nie. Die ‘paintball’-baadjie op die foto, lyk of dit maklik omskep kan word in soiets.

Kan nie glo ·

Ek kan nie glo dat mense nog kan dink daar skuil geen gevaar agter die 2 nie, eers as daar baie lyke le, dan wil ons wakker skrik, kyk maar Nice se outjie, hy was n moeilikheidmaker en daar was 84 lyke waarvan klein kindertjies, regtig!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.