‘Terreur-tweeling’ weer in hof

Een van die foto’s wat deur die staat by die hof ingedien is in die Thulsie-tweeling se hofsaak.

Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie, die tweelingbroers wat onder meer van terreur beskuldig word, het Woensdag weer in die Johannesburg-landdroshof verskyn.

Dit is al ʼn jaar sedert die broers in hegtenis geneem is nadat hulle glo beplan het om terreuraanvalle in Suid-Afrika uit te voer. Die saak is Woensdag weereens uitgestel, hierdie keer omdat die verdediging probleme met die digitale rekords van die saak ervaar.

Die Thulsie-broers is al sedert hul inhegtenisneming in Julie 2016 agter tralies. Hulle word aangekla van sameswering en aanhitsing om terreurdade te pleeg en sameswering en poging om terreurdade te pleeg.

Adv. Adele Barnard, die staatsaanklaer, het Woensdag aan die hof gesê 212 bladsye van verklarings wat vroeër deur die verdediging aangevra is, is aan hulle oorhandig. Barnard het gesê sy het egter “vanoggend eers” ʼn e-pos van die verdediging ontvang waarin hulle haar in kennis stel dat hulle nie die digitale lêers kan oopmaak nie. Die staat het gesê hulle is bereid om die dokumente uit te druk, maar hulle sal fondse daarvoor nodig hê.

Adv. Anneline van den Heever vir die verdediging het gesê “spesiale sagteware” word benodig om gedeeltes van die dokumente af te laai en daarom moet die staat aansoek doen vir fondse om die dokumente so vinnig as moontlik te laat druk, omdat die dokumente benodig gaan word wanneer die verhoor begin.

Volgens die 13 bladsy lange akte van beskuldiging was die Thulsie-tweeling van plan om by ISIL (Islamic State of Iraq and the Levant) aan te sluit en terreurmisdade te pleeg deur die gebruik van vuurwapens, springstof en moontlik gifstowwe. Die aanvalle sou gemik gewees het op verskeie ambassades insluitend dié van die Verenigde Koninkryk, Rusland en die VSA, gebaseer in Pretoria.

Jonathan Shapiro, die Suid-Afrikaanse Joodse tekenprentkunstenaar, word ook as ʼn teiken van die tweeling aangedui.

Een van die tweeling, Tony-Lee, het na bewering in Augustus 2015 deelgeneem aan ʼn reeks telegram-gesprekke met Abu Fidaa (ISIL/ISIS-netwerk) en ander, waar hy opdrag gegee is om die “beste teikens” aan te val “waarby Amerikaanse/Britse/Franse belange in Suid-Afrika betrokke is” en om Zapiro te vermoor, wat in ʼn stadium ʼn spotprent van die profeet Muhammad geteken het.

Die saak is tot 11 Julie uitgestel.

Lees meer oor die Thulsie-tweeling op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

snoefie ·

met name soos”Tony Lee” en “Brandon Lee” is hulle beslis nie Islamiete nie. Waar aan sal die oordrewe toewyding toegeskryf word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.