Terug in Kalahari jaar ná brandtragedie

Wilmien en Frans Davin saam met hul kinders Frans en Eliza. Eliza was ten tyde van dié foto nog ‘n baba. (Foto: Facebook)

Madelein Bauer (36) en Wilmien Davin (37) het weer die Kalahari besoek, ’n jaar nadat albei hul mans, kinders en vriende in ’n verwoestende brand in die streek verloor het. Bauer en Davin, asook Davin se tweejarige seuntjie, Ben, was die enigste oorlewendes van die tragedie.

Die Bauer-, Davin- en Carstens-gesin van Ceres, Wes-Kaap, het ’n jaar gelede in die Kalahari gaan vakansie hou en in die Blinkwater Lodge tuisgegaan. ’n Brand het op 16 Augustus uitgebreek en 10 van die 13 gesinslede wat saam daar was, het omgekom.

Hendri Carstens (37), sy vrou, Dané (32), en hul twee seuntjies, Pierre (5) en Magiel (3), is dood. Dané en die seuns het in die brand gesterf terwyl Hendri die aand ná die brand in die waakeenheid van die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad aan sy beserings beswyk het.

Stefan en Madelein Bauer saam met hul dogtertjies, Inge en Elré. (Foto: Facebook)

Bauer se man, Stefan (39), en die egpaar se dogtertjie, Elré (4), het albei in die brand gesterf. Die egpaar se oudste dogtertjie, Inge (7), het vermoedelik ook in die brand gesterf. Sy word sedert die voorval vermis en die polisie moet nog bevestig of die oorskot wat op die toneel gevind is, dié van die dogtertjie is.

Davin se man, Frans, (36), is ná die brand in die Melomed-hospitaal in Bellville aan sy beserings dood. Die egpaar se ander twee kinders, Frans (5) en Eliza (3), het ook in die brand gesterf.

Volgens kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, word die oorsaak van die brand nog ondersoek.

Bauer en Davin se lewe het sedertdien onherroeplik verander. Hulle moes die stukke van hul lewe begin optel en probeer vorentoe kyk. Die vroue moes ook aan ’n lewe begin bou sonder hul geliefde mans en kinders.

“Dit gaan goed met ons. Hier waar ons terug is in Ceres en ook waar ons ’n week gelede weer in die Kalahari was,” skryf Bauer en Davin in ’n brief.

Dané en Hendri Carstens saam met hul seuns, Magiel en Pierre. (Foto: Facebook) (Foto: Facebook)

“Ons sal die Here altyd loof in dankbaarheid vir hulle vir wie ons kon lief wees. En vir dít wat ons kon ken.”

Volgens die vroue het God, asook die ondersteuning van hul familie, vriende, die gemeenskap van Ceres, die Koue Bokkeveld en die res van die land gehelp om hulle staande te hou.

“Hoe en waar begin ons om dankie te sê vir almal se omgee, liefde, gebede en saamreis op ons pad? Woorde ontbreek, maar ons wil hê julle moet weet: Ons dankbaarheid is groot teenoor ieder en elk vir elke vorm van ondersteuning en hulp oor die afgelope jaar.

“Ons staan verstom oor die Here se grootheid en genade, want menslik sou dit nie vir ons moontlik gewees het nie. Ons het altyd op Hom vertrou en weet steeds elke dag dat Hy ons sal vashou, ook soos ons aanbeweeg op ons pad vorentoe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Joggie ·

Baie mooi getuienis van die twee vroue wat deur baie moeilikke beproewing gegaan het.

SomeOne ·

sterkte en simpatie met die twee dames

1 jaar na die brand en die ondersoek is nog nie afgehandel nie, waar lê die vertraging

Hennie ·

SAPS is nou maar net useless. Kan na ‘n jaar nie die oorsaak opspoor nie… Ag nee wat.

Elinette ·

Ek dink ons weet waar die vertraging met die ondersoek na die brand lê – by sekere polisielede wat eenvoudig net nie omgee vir die hartseer, pyn en trauma wat gepaardgaande sal wees met so ‘n tragiese gebeurtenis nie. Om te dink die een dogtertjie het “verdwyn” en daar is menslike oorskot gevind, maar nog geen DNS-toetse gedoen om te bepaal of die oorskot wel hare is nie … Hoe moet die Ma en grootouers berusting kry as hulle nie weet of sy dood is of wat van haar geword het nie?

Johanna ·

Die dogtertjie nog vermis……???? Nee man!!
Dit is vreemd en bitter hartseer. Hoe kry mens afsluiting?

DNA toetse wat agter is, net omdat die SAP nooit hulle rekenings vereffen het nie.. Hoe kan Cele nog steeds in sy.pos sit?

anniekiewiet ·

Ons wens om ook aan julle ‘n drukkie te kon gee. Julle getuienis is ook ander se onderskraging.

Chantel ·

Julle twee lewe ‘n lewe van genade en getuienes. Ek dra julle in my gebede op.

Swerwer ·

Dit is 2 sulke pragtige voue. ‘n Voorbeeld vir baie ander. Jul is Sterre in hierdie donker wêreld.

Mariaan ·

Sjoe nee…hierdie is net te erg vir my om in te neem…sal dit nooit verstaan nie..hoekom moet so iets gebeur…ek sal dit beslis nie oorleef nie…en SOU ek..sou ek n bitter mens wees…genade is dit beslis nie….net n tragedie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.