Terug op moeder aarde ná 79 dae (en 18 minute) in wynvat

Vernon Kruger het 79 dae in ‘n wynvat deurgebring. Dit is ‘n nuwe wêreldrekord. (Foto: Facebook)

Vernon Kruger is terug op die grond nadat hy 79 dae lank – en 18 minute voeg hy by – in ʼn wynvat bo Dullstroom deurgebring het.

“My lyf is op die grond, maar my kop nog nie. Ek het gemengde gevoelens gehad toe ek vanoggend uitklim,” het Kruger (52) gesê.

Daar was egter nie té veel tyd vir tob nie, want honderde entoesiastiese ondersteuners het hom op die grond ingewag en toegejuig toe hy sy avontuur eindelik afgesluit het.

Kruger het vroeër vandeesmaand sy eie Guinness-wêreldrekord laat spat nadat hy in 1997 vir die eerste keer 67 dae lank in ʼn 500 ℓ-wynvaatjie op ʼn paal vasgemaak deurgebring het.

Hy het dié rekord nou beduidend verbeter.

Veral gure weer het vir uitdagings gesorg. (Foto: Michele Meacher/Facebook)

“Dit het eintlik so vinnig verbygegaan. Dit is vreemd, ek het in ʼn roetine gekom en dit het veroorsaak dat die tyd eintlik gevlieg het. Dit was hierdie keer eerder ʼn geestelike uitdaging as ʼn liggaamlike een. Ek moes kophou en positief bly,” het hy vroeër vanmiddag, skaars ure nadat hy uit die vat geklim het, gesê.

Kruger het hom met sosiale media besig gehou, oefening gedoen en later selfs bekers uit bamboes gemaak. Dit is reeds ten bate van liefdadigheid verkoop.

En dan was daar natuurlik Dullstroom se weer. Dié, sê hy, is verraderlik en verander op een dag telkens – en dis genoeg om enigiemand ʼn wyle besig te hou. Die uitsig oor die omgewing was egter onverbeterlik en het hom gehelp om sy gedagtes te fokus.

Gure weer het hom wel terneergedruk laat voel. “As dit begin reën, het ek depressief gevoel, want dan moes ek die dakkie opsit en kon ek nie eens opstaan en strek nie.”

(Foto: Facebook)

Nou wag enkele belangrike dinge: “Ek wil swem. Of stort. En ek wil in ʼn gróót bed slaap, maar ek dink as ek my gaan uitstrek, gaan ek eindelik weer in die fetusposisie wakker word,” het hy geskerts.

Hy sê die eerste twee weke van die uitdaging was die ergste, maar daarna raak jou liggaam – en jou gedagtes – gewoond aan die omstandighede.

Hy het vanoggend ʼn mediese ondersoek ondergaan en is in top-toestand – selfs amper beter as toe hy die paal bestyg het.

Vanaand wag ʼn feestelikheid waar Kruger graag almal wat hom ondersteun het, wil bedank.

En dan? Wie weet watter avontuur lê hierna voor, sê Kruger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Strandloper ·

Dalk moet jy weer so iets aanpak…nooi net n paar van die kadertjies saam wat ons op hol jaag met hul lawe denkwyse. Kom jy blyk n man te wees wat hou van uitdaagings….hoe klink 10 jaar…

Gawie ·

Ek wil net graag weet – as hy so lank daarbo gesit het, hoekom nie net nog 23 uur en 42 minute gewag het nie, dan kon hy mos ‘n ronde 80 dae agter sy naam geskryf het?

Snowball ·

Langs ‘n wynvat klink vir my bietjie lekkerder as in ‘n wynvat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.