Terug skool toe: Maak só seker jou kind is veilig

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Die eerste skoolkwartaal van die jaar begin op 15 Januarie en volgens die polisiekommissaris in die Vrystaat is dit die tyd wanneer misdadigers op soek is na sagte teikens.

“Dit is belangrik dat ouers, kinders en studente bedag is tydens alle omstandighede,” het lt.genl. Baile Motswenyane gesê. “Deur ons Veiliger Skole-programme sal ons met verskeie skole kontak maak om bewusmaking te skep.”

Sy het ʼn paar wenke gedeel:

Graad 1’s:
Ouers van jong kinders wat vir die eerste keer skool toe gaan, word gemaan om nie hul name buite op hul skooltasse aan te bring nie, omdat misdadigers dit kan gebruik om die kind op hul naam te roep en hulle só te lok. Laai jou kind altyd in die skoolterrein af of naby die betrokke klaskamer om seker te maak hulle is veilig. Help diegene oor die straat indien hulle van openbare vervoer gebruik maak. Maak seker die ouers of voogde se kontaknommers is beskikbaar op ʼn nota in die skooltas, in ʼn noodgeval. Leer jou kind om nie die skool saam met enigiemand te verlaat tensy reëlings daaroor getref is nie.

Hoërskoolleerders:
Hoërskoolleerders moet seker maak hulle het hul ouers/voogde se kontaknommers beskikbaar in ʼn noodgeval. Moenie jou selfoon gebruik of na musiek luister wanneer jy in die straat loop nie, omdat jy in só geval nie sal oplet wanneer ʼn motor jou nader of iemand jou agtervolg nie. Moet nooit in ʼn vreemdeling se motor klim wat jou ʼn rygeleentheid aanbied nie. Maak seker jou familie weet altyd waar jy is indien jy die skool vroeg moet verlaat.

Studente:
Wees bedag op bedrieglike kolleges en studenteakkommodasie. Vra altyd om die registrasiedokumente van die instansie te sien. Moet nooit met ʼn groot bedrag kontant rondloop wanneer jy gaan registreer nie – gebruik eerder finansiële instansies vir deposito’s. Moenie oorfone gebruik wanneer jy in die straat loop nie, omdat dit die waarde van jou selfoon kan verklap en rowers kan aanmoedig om toe te slaan. Moet ook nie met jou skootrekenaar rondloop waar almal dit kan sien nie. Dra dit eerder veilig in ʼn sak. Wees altyd bedag en meld enige verdagte aktiwiteit aan by die naaste polisiestasie. Jy kan ook die polisie kontak by 08600 10111 of inligting deur die MySAPS-app verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.