‘Terughouding van motorlisensies weens agterstallige e-tolskuld is onwettig’

Argieffoto

Argieffoto

Die VF Plus het gesê dwangmaatreëls rondom die betaling van e-tolskuld, soos die weerhouding van motorlisensies van niebetalers, is onwettig, ongrondwetlik en niks anders nie as administratiewe afpersing.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, het in ʼn verklaring gesê regsadvies dui daarop dat die weiering van lisensies teenstrydig sal wees met die administratiefreg in Suid-Afrika.

Hy het gesê die beginsel van ʼn eensydige straf soos om ʼn lisensie te weerhou sonder om die persoon wat daardeur benadeel word die geleentheid te gee om te reageer en sy kant van die saak te stel, druis lynreg in teen die administratiefreg.

“Dit kom ook neer op die verbreking van die Wet op Verbruikersregbeskerming indien iets soos ʼn lisensie, in hierdie geval, weerhou sou word weens die niebetaling van ʼn onverwante skuld,” het Alberts verduidelik.

“Die gevolg van die handeling sal motoriste in ʼn posisie plaas waar hulle gedwing sal word om die wet te oortree aangesien hulle dan geen keuse sal hê as om met ongelisensieerde voertuie te ry nie. Dit plaas die gebruiker terselfdertyd in ʼn benarde posisie aangesien daar nie versekeringsdekking op ʼn ongelisensieerde motor sal wees nie.”

Alberts het gesê al wat die regering met hierdie “ondeurdagte optrede” gaan vermag, is om ʼn veel groter probleem bykomend tot die terugbetaling van die reuse-e-tolskuld te skep.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag bekend gemaak dat uitstaande e-tolfooie aan die hernuwing van motorlisensies gekoppel gaan word.

Ramaphosa het gesê motoriste sal alle uitstaande e-tolfooie moet betaal voordat motorlisensieskyfies uitgereik sal word. “Dit sal die proses verder vereenvoudig en beter integrasie van padbestuurstelsels verseker,” het hy in sy aankondiging gesê.

Ramaphosa het verder ʼn afslag van 60% op alle uitstaande e-tolfooie aangekondig. “Gebruikers sal ses maande kry om hul skuld te delg met terugwerkende krag tot Desember 2013 met die afslagprys. Dit benadeel nie gebruikers wat al van die begin af e-tol betaal nie.”

Daar is ook aangekondig dat tariewe in die meeste kategorieë met tot die helfte verminder sal word. “Die standaardtarief van 58c/km vir ligte motors sal tot 30c/km verminder word,” het Ramaphosa gesê.

Die nuwe tariewe lyk só:

Motorfietse: 18c/km
Ligte motors: 30c/km
Medium-swaarvoertuie: 75c/km
Groot swaarvoertuie: R1,50/km

Openbare vervoer bly steeds vrygestel van e-tol. Die maandelikse limiet vir motoriste is ook drasties verlaag. Die nuwe maandelikse limiete vir motoriste met of sonder e-tolskyfies is:

Motorfietse: R125 (was R250)
Ligte motors: R225 (was R450)
Medium-swaarvoertuie: R875 (was R1 750)
Groot swaarvoertuie: R2 900 (was R3 500)

Ramaphosa het egter benadruk dat die afslag nie geldig is vir diegene wat nie binne 30 dae hul rekeninge betaal nie. Hy het gesê die nuwe tariefstruktuur sal tot ʼn finansieringstekort lei vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) om die koste van die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) te dek. Die tekort sal deur die nasionale en Gautengse regerings betaal word.

Lees ook:
E-tol: Jou regte as motoris

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Griet ·

Gaan registreer jou voertuie in die Noord Kaap/Oos Kaap/Lipopo, enige provinsie behalwe Gauteng. E-Natis word (tans) net in Gaureng gebruik. Daar is baie maniere om hierdie monster se nek om te draai!

Saartjie ·

Dankie VF-Plus! Dit het al ‘n paar keer gebeur dat my pa ‘n spoedkaartjie kry vir sy registrasie nommer, maar op die foto is die kar geensins sy voertuig nie. Dan moet hy al die pad ry en gaan verduidelik dat die voertuig op die foto ‘n vals registrasie nommer het. Wat sou gebeur indien so ‘n scenario plaasgevind het, en nou word jou lisensie teruggehou vanweë ‘n ander persoon se oneerlikheid? Die persone wat die kaartjies uitreik sal duidelik nie na jou verskoning wil luister nie, en dan is dit weer herhaaldelike kommunikasie en administrasie met finansiele implikasies om jou onskuld te bewys!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.