Terugkeer na vlak 5 sal ‘katastrofiese humanitêre krisis’ beteken

Bonginkosi Madikizela, leier van die DA in die Wes-Kaap (Foto; Courtney Africa/African News Agency/ANA)

Die Demokratiese Alliansie het Sondag gesê die ANC in die Wes-Kaap se voorstel, om na koronavirus-vlak 5 terug te keer, is ʼn bewys van ʼn algehele gebrek aan begrip vir die doel van die afsonderingsperiode. Dit versuim ook om die katastrofiese en ongekende humanitêre krisis wat dit sal veroorsaak, in ag te neem.

Die DA in die Wes-Kaap het ʼn besoek Saterdag deur die gesondheidminister dr. Zweli Mkhize verwelkom, het Bonginkosi Madikizela, provinsiale leier van die DA, gesê.

“Sy insig en ondersteuning word waardeer. Ek is ook tevrede met sy analise van die situasie in die Wes-Kaap en die bevestiging dat die provinsie bekwame gesondheidswerkers het om die gevalle te bestuur. Ons sien ook uit na pres. Cyril Ramaphosa se besoek op 15 Mei,” het Madikizela bygevoeg.

“Die ANC in die Wes-Kaap se voorstel, dat die provinsie weer na vlak 5 moet terugkeer, is ʼn teken van ʼn algehele begrip van die doel van die afsonderingsperiode, volg nie epidemiologiese bewyse nie, en versuim om die katastrofiese en ongekende humanitêre krisis in ag te neem wat dit sal veroorsaak.”

Hy het gesê hy neem ook kennis van die “partydige” verklaring deur Sibongiseni Dhlomo, voorsitter van die parlementêre komitee oor gesondheid, “ná hy na sy comrades geluister het, en nie homself kans gegun het om die situasie in die Wes-Kaap te bestudeer nie”. Dhlomo het aannames oor die provinsie gemaak voor hy al die feite ingesamel het, sê Madikizela.

“Ek maan hom om die betrokke prosesse te volg en met die provinsie in gesprek te tree voor hy bewerings maak wat nie gestaaf kan word nie. Dit is absoluut onwaar dat ʼn terugkeer na algehele afsondering Covid-19 kan verhoed. Ramaphosa en gesondheidkenners wat hom van raad bedien het dit baie duidelik gestel: die virus kan nie gestop word nie. Elke provinsie in die land gaan die kurwe beleef. Die virus gaan oral eksponensieel versprei.”

Madikizela het gesê daar moet in gedagte gehou word dat die toename in die Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap tydens vlak 5 plaasgevind het, met groepering van besmettings in werksplekke wat as noodsaaklik beskou word, soos handel, gesondheid, sekuriteit en landbou.

“Ons fokus op hierdie groeperings, en het ons sifting- en toetsingsproses geteiken om diegene te identifiseer wat positief toets vir die virus. Die provinsiale regering het ook streng riglyne ingestel sodat ondernemings kan heropen. Ons werk baie nou saam met die sakesektor sodat hulle ons kan help om die kurwe af te plat.

“In teenstelling met ander provinsies, is ons ten volle eerlik en deursigtig oor ons getalle positiewe sake en sterftes. Hoekom verskaf elke provinsie nie dieselfde vlak van besonderhede en uiteensetting as die Wes-Kaap nie? Dit maak absoluut geen sin dat die ANC voorstel dat daar weer na vlak 5 teruggekeer moet word nie,” het Madikizela gesê.

Die voortgesette afsonderingsperiode het reeds landswyd tot verhongering gelei. “Om terug te keer na algehele afsondering sal lei tot ʼn katastrofiese en ongekende humanitêre ramp. Dit is eenvoudig nie ʼn oplossing nie en dit was nie volhoubaar nie. Die ANC se onbuigsame benadering sal verdere lyding veroorsaak en uiteindelik onafwendbare burgerlike ongehoorsaamheid.

“Dit is ironies dat die ANC wetsgehoorsame burgers toegesluit wil hou, terwyl 19 000 gevangenes op parool vrygelaat word, omdat ‘die tronke oorvol is’. Dit is hierdie tipe onverantwoordelike denke wat bewys dat die ANC nie bekwaam is om die realiteit te begryp nie. Die ANC doen alles wat mense nie wil hê nie en dit laat die vraag ontstaan: Namens wie tree die ANC in die Wes-Kaap eintlik op?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

daniel ·

One moet die kommuniste goed dophou, hulle is oral baie bedrywig.

Boerkind ·

Maak die Wes Kaap los van die ANC kommunistiese regering – hulle het nog net in die Wes Kaap nie geslaag om als te verwoes nie en het dit nou in hul visier. Skort die inperking op. Laat mense toe om die “virus” op te doen en ‘n natuurlike weerstand op te bou – die ligaam is daarvoor ontwerp (geen medisyne is in elk geval beskikbaar nie). Gee mense se natuurlike vryheid terug. Stop die sirkus!

Hennie ·

As die ANC oorlog wil verklaar op sy burgers, dan moet die despote terugkeer na vlak 5…

Michael 1 ·

Die ses weke inperking was genoeg dit het tyd geword om terug te keer na normaal ,ons is nou op die punt om te besluit gaan ons siek word of omkom van honger.

Gemaskerde Sopbeen ·

Dis nou iets soos om die wa voor die perde tespan terwyl jy nie weet waar die perde of die wa is nie en ook nie weet hoe om daarvoor te soek nie.

Jaco ·

Wie het in elk geval hierdie sogenaamde “command council” die reg gegee om links en regs reëls op hul persoonlike smaak op ons af te dwing?? So my lewenstyl en lewensbesluite is nou in die hande van 4 of 5 mense se voorkeure, dis ongrondwetlik, kan solidariteit of vf plus nie hierdie belaglikheid stopsit nie? Die wat wil kwarantyn kan hulself in hul huise toesluit en van afleweringsdienste gebruik maak. Laat ons jong gesonde mense WERK!!! Ek is besig om uit geld uit te hardloop!!!!!!!

marius ·

Hulle wil ieder en elk plat vee . Dan wil hulle uit die as saam met hulle oosterse vrinne hul eie utopia bou . Geen hof , organisasie , politieke party of buitelandse moondheid sal hulle laat afsien van hul planne nie . Hulle weet ook goed dat daar geen georganiseerde revolusie sal volg nie . Dit was hul oogmerk deurentyd en ‘ n onsigbare vriend het dit nou idiaal gemaak . Dis die waarheid .

JohanR ·

Ja nee omtrent 30 miljoen volwassenes met sterk bene en voete teen die ANC KGB en 100000 weermag lede en polisie. Dit gaan nog ‘n Hong Kong of Geel Baadjie stryd word. Waaneer die weermag en die polisie begin om skerp ammunisie te gebruik soos by Marikana terloops waar onse onderpresident Cyril Ramaphosa ook die skiet bevel gegee het, gaan die land brand. Dit is die probleem as die president van ‘n land nie deur die mense van die land gekies is nie, maar by die regeringde party. Hy, of sy gee nie ‘n hel om of hy/sy vir ‘n tweede termyn gekies is nie. Hy/sy weet dat die regeringde party die se het. As die land deur Covid-19 kom is dit tyd dat ons die mense van Suid Afrika die president kies deur die stembus.

Kattebol ·

Ja, keer terug na vlak 5. Dit bevat nie ‘n aandklokreël nie.

Willem ·

Dit was van die begin af die plan. Maak die Wes Kaap swak. Wag maar ander prov se syfers moet uitkom iewers

Okmardom ·

As jy jou tyd wil mors probeer onderhandel met ANC. Hulle laat nie aan hulle onderhandel nie. “Don’t tell us what to do” …dus doen dit en onderhandel dan.
Was paar jaar terug by n grondhervormingsvergadering. Het toe besef ons het nie n kans nie. Maak nie saak wat wetgewing sê nie.

Jax ·

Ek is baie getrou met die onderhou van reëls en wette maar as CR vanaand nog inperkings gaan aankondig, gaan ek rebelleer soos nog nooit te vore! Ons kan van 4 na nul gaan – elkeen is verantwoordelik vir sy/haar eie gesondheid. Ek het nie n korrupte regering nodig om keuses oor my gesondheid namens my te maak nie. In my onmiddelike gesin van 8 is daar net een wat nog n werk het. Die res is gevra om te gaan!

Sharnelle ·

As ek reg verstaan mag ons nie rond reis tussen provinsies nie, maar die President gaan die 15de Mei Wes-Kaap besoek. Maar ons moet hou by die reels en regulasies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.