Terugslag vir baba JD

JD Lange (Foto verskaf)

Klein JD Lange, wat verlede week uit ’n swembad by sy dagmoeder gered is, is weer op lewensondersteuning geplaas nadat hy ’n terugslag beleef het.

’n Familiewoordvoerder het Dinsdagoggend op ’n Facebookblad bevestig dat die eenjarige kleinding longontsteking opgedoen het. Die blad is spesiaal opgestel om mense op die hoogte te hou van baba JD se herstelproses.

Luidens die inskrywing sal JD nou 48 uur lank op lewensondersteuning geplaas word om sodoende sy longe ’n blaaskans te gee. Hy is sedertdien baie kalmer en rustiger, sê die woordvoerder.

Maroela Media het vroeër berig JD is sowat ’n week gelede in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad opgeneem en in ’n geïnduseerde koma geplaas. JD is verlede week aan ’n suurstofmasjien gekoppel, nadat hy uit die koma gebring is.

“Hy het nie so goed daarop gereageer nie en het erg gesukkel om asem te haal. Ná vele probeerslae en nebuliseering is daar besluit dat dit te veel stres vir sy longe en lyfie meebring en dat [die dokters] hom terug op lewensondersteuning gaan plaas,” lui die inskrywing.

Die kleinding het die afgelope week tekens van herstel begin toon nadat hy Donderdag uit die koma gebring is. Breinskanderings het ook aanvanklik getoon dat hy geen breinskade gedurende die amper-verdrinking opgedoen het nie.

Die woordvoerder het vanoggend verduidelik dat daar egter steeds onduidelikheid heers rakende JD se breinfunksie. “Al het die breinskandering gewys daar is geen breinskade nie, is daar ’n moontlikheid dat hy wel breinskade opgedoen het. Dit sal eers vasgestel kan word sodra hulle JD evalueer en sien hoe hy op opdragte reageer,” lui die inskrywing.

Maroela Media het vroeër berig Jessica Lange, ʼn enkelma, het verlede naweek van die Kaap na Saldanha verhuis en die eenjarige JD verlede Maandag omstreeks 07:30 in Carien Möller, ʼn dagmoeder wat sy al jare lank ken, se sorg gelaat.

Volgens Elana Wilde, Carien se dogter wat saam met haar na die kinders omsien, was JD nie daar toe die ander kinders by die speelkamer bymekaarkom nie. Sy het hom gaan soek en op hom afgekom waar hy onderstebo in die swembad dryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marietjie ·

ONS BID VIR HOM, EN ALMAL BETROKKE, WIE NOU BAIE SWAAR KRY…MAG HY VOLKOME GENEES

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.