Terugslag vir Driehoek-leerder ná operasie

Cheverné Duvenhage (Foto: Facebook)

Cheverné Duvenhage, ’n gr. 8-leerder van Hoërskool Driehoek wat in die onlangse tragedie by dié skool beseer is, is Sondagaand in die waakeenheid van ’n hospitaal onder verdowing geplaas en aan ’n ventilator gekoppel ná sy ’n terugslag gehad het.

Nadat Cheverné beseer is toe ’n loopbrug by die skool ineengestort het, is die 13-jarige meisie na ’n hospitaal in Alberton gevlieg waar sy met inwendige beserings en ’n gebreekte voet opgeneem is. Cheverné het onder meer bloeding in haar buik gehad nadat haar maagwand tydens die voorval geskeur het. Altesaam 20 cm van haar derm moes ook verwyder word en sy het vier breuke in die brug van haar linkervoet opgedoen.

Elardus Duvenhage, Cheverné se pa, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê dat dit egter ondanks dié ernstige beserings in die omstandighede goed met Cheverné gegaan het. Sy was reeds van ’n ventilator afgehaal en het begin uitvra oor die ongeluk toe haar gesondheid oor die naweek versleg het.

Duvenhage sê dié terugslag kan toegeskryf word aan ’n operasie aan haar maagwand wat nié so suksesvol soos verwag verloop het nie. “Haar maagwand is lyk my te dun om te heg en het weer geskeur. Dokters het nou ’n maasstof ingesit en haar weer toegewerk,” verduidelik hy.

Volgens Duvenhage het Cheverné baie pyn beleef nadat sy van die tweede operasie aan haar maag wakker geword het. Hoewel die operasie aan haar voet goed verloop het, het haar hartklop versnel en sy sukkel ook om asem te haal.

Die dokters het dus Sondagaand besluit om Cheverné onder verdowing te plaas en weer aan ’n ventilator te koppel. “Dit is beter sodat haar hartklop kan afkom. Dit sal ook help met die pyn. Ek glo sulke verskriklike pyn kan jou hartklop ook opjaag,” sê haar pa.

Duvenhage vertel dat die verdowing ook help om Cheverné stil en rustig te hou. “Dit is maar moeilik om ’n 13-jarige stil te hou.” Cheverné se geliefdes kan gevolglik nie tans met haar praat of aan haar raak nie. “Die dokters het aan ons verduidelik dat ons haar kans moet gee om te rus.”

Sy word fyn gemonitor vir enige teken van infeksie wat heel waarskynlik kan voorkom wanneer ’n pasiënt ’n tweede operasie moet ondergaan. Vir eers vaar Cheverné goed onder die verdowing. “Sy lyk rustig. Die dokters se plan werk. Haar hartklop is al bietjie stadiger.”

Duvenhage vertel dat Cheverné vóór haar terugslag begin uitvra het oor dié tragiese dag dag wat die lewe van vier leerders geëis en skokgolwe deur die land gestuur het. “Dit wys dat sy die ongeluk begin onthou. Ons het haar vrae so eerlik moontlik geantwoord sonder om te veel uit te brei. Ons wil haar nie ontstel nie,” sê Duvenhage.

Hy erken dat die brugtragedie ’n enorme beproewing vir hom as ouer is. Cheverné se ouers is uiteen en albei sedertdien weer getroud. Volgens Duvenhage is daar dus nou twee ouerpare wat hul dogter kan bystaan. “Dit help dat daar dubbele ondersteuning is. Ons staan saam en ondersteun mekaar in hierdie moeilike tyd. As die een emosioneel raak, gryp die ander in.”

Ouers en leerders sal Maandag gedurende ’n gesamentlike gedenkdiens afskeid neem van Cheverné se skoolmaats Roydon Olckers, Jandré Steyn, Marli Currie en Marnus Nagel wat in die brugtragedie gesterf het. Die diens sal Maandag om 15:00 by die Kompasgemeente buite Vanderbijlpark gehou word.

Duvenhage het almal bedank wat die onderskeie gesinne sedert die ongeluk bygestaan het. “Dit beteken die wêreld vir ons.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Donderstorm ·

Hul moet sorg dat sy antbiotika kry om inflemasie hok te slaan daars te veel mense wat deesdae in hospitale komplikasies opdoen tydens opersasies dan moet jy nog forms teken wat se jy kan hul nie aanspreeklik hou nie.

Stella ·

Siestog,dis nou slegte nuus,hoop sy raak weer vinnig beter. Sterkte

Laura ·

Ek kry al die heel week info en updates via skoon familie oor haar en was absoluut verheug toe ek oor die naweek foto’s kry van waar sy wakker is en gesels … Ek glo en weet dat ons Hemelse Vader vir haar spesiaal styf was hou en dat Hy elke oomblik vir haar familie en vriende die krag sal gee om haar by te staan. Dit is nooit lekker om te hoor daar was ‘n terug slag nie … hulle is in my gebede en gedagtes elke oomblik van elke dag.

Besorg ·

Ek is nie ‘n dokter nie en ken nie al die feite nie, maar wonder net so by myself of sy nie dalk as gevolg van die trauma ‘n paniek aanval gehad het nie. Die sluip soos ‘n dief in die nag en tref jou wanneer jy dit die minste verwag. Die vinnige hartklop en die sukkel om asem te haal is simptome van ‘n paniek aanval, voel asof mens regtig doodgaan. Dit mag dalk die resultaat wees omdat sy begin uitvra het oor die ongeluk, dalk te veel nog vir haar om te verwerk. Die operasies en pyn is trauma vir die liggaam en dalk het dit sonder dat sy dit besef het haar erger getref as wat sy of die dokters besef….wonder maar net, bid dat sy spoedig beter sal wees,

Wonderself ·

Ek het presies dieselfde gedagte gehad. Arme arme mense die trauma van so iets kan devastating wees vir so jong kind. Bid bly al oplossing.

Nadia ·

Ag nee!!! Ek het so gebid en gehoop dat die driehoek hartseer nou einde gekry het. Ek bid vir almal wat geraak is.

Piet Pompies ·

Dit is gedurende hierdie tye wat daar slegs een ry voetspore in die sand is vir twee mense, dit is wanneer Jesus jou dra om die pyn te verlig.
Sterkte aan die ouers en familie.

DS ·

Nadia die Driehoek hartseer sal NOOIT einde kry nie. Elke dag sal daar ouers en familie wees wat rou oor hulle kinders. Elke dag sal daar ouers wees wat hulle eens gesonde dogter in ‘n rystoel moet sien. Elke dag sal daar kinders rondloop met die seer van wat gebeur het daardie dag. So ek dink jou woord keuse was net verkeerd maar ek se maar net die HARTSEER sal altyd daar wees vir die betrokkenes.

wonder ·

Here ons bid vir U genade oor die kind, ons los al haar probleem by U voete vandag Almagtige Hemelse Vader. Ons glo U sal sorg en voorsien. AMEN?

Hannelie ·

My hart breek elke keer, en ek huil saam met Hoërskool Driehoek as ek al die berigte lees wat soveel seer en hartseer in het. Ek bid vir elke liewe ouer wat ‘n kind verloor het, vir die ouers wie se kinders nog in hospitale is, so dra ek ook elke kind, onderwyser en ouer van hierdie skool op dat ons Vader hul sal bystaan en vertroos. Gebed is al wat ons kan doen en ons moet glo en vertrou dat hierdie skool aangeraak word deur ons Vader. Weet net al ken ons nie een van julle nie, is jul elkeen in ons gedagtes en gebede.

Charms ·

Liewe Heer raak asb Charne aan, want ons glo dat net U dit kan doen. In U groot en wonderlike naam. Sterkte aan die familie.

Waarheid1 ·

Dink aan jou liewe kind.
Sterkte aan jou en jou gesin familie en vriend.

Pernankie ·

Ek stem saam met DS. My seun is op 1 Februarie 3 jaar gelede ook baie tragies oorlede. Ek kan nie sê of dit met tyd sal verander nie, want elke mens hanteer die rouproses anders, maar ek word elke oggend wakker en besef van voor af, elke liewe oggend, dat my Boelakind weg is vir ewig. My hart gaan uit na hierdie ouers, gesinslede en elkeen hierdeur geraak, want maklik is dit beslis nie. Ek bid vir elke persoon hierdeur geraak, want woorde troos nie. Net God alleen kan mens hierdeur dra. Jesusliefde xxx

Gesiggie ·

Soveel seer om te verwerk… soveel verlange, my hart gaan uit na al die ouers wat n geliefde kind verloor het, en ook aan die ouers van die kinders wat nog herstel, en aan die prag van n dogter wat n terugslag gehad het Ek bid dat die Engele van God elke een van jul sal beskerm, en dat die Genade van Jesus met jul sal wees.

christa ·

Vader Hoor ons Gebede Maak haar Gesond Laat Ons Net bly Bid En Glo

Sanché Vermaak ·

Ons dien ‘n God van Wonders. Hy maak siekes gesond en laat verlamdes weer loop, dowes hoor en blindes sien… God is in beheer..ALTYD. Net so hou God ook Sy Hand van Genade, Genesing en Liefde oor Cheverné. Al wat ons moet doen is om haar en almal betrokke in Sy Hande neer te sit…God sal sorg vir die res. Sterkte aan ouers en grootouers en familie asook vriende. Jul elkeen in ons gebede. Liefdetjies armsvol en drukkies byrie myle. GOD BLESS. ?????????

Sanché ·

Ons dien ‘n God van Wonders. Hy maak siekes gesond en laat verlamdes weer loop, dowes hoor en blindes sien… God is in beheer..ALTYD. Net so hou God ook Sy Hand van Genade, Genesing en Liefde oor Cheverné. Al wat ons moet doen is om haar en almal betrokke in Sy Hande neer te sit…God sal sorg vir die res. Sterkte aan ouers en grootouers en familie asook vriende. Jul elkeen in ons gebede. Liefdetjies armsvol en drukkies byrie myle. GOD BLESS

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.