Terugslag vir hart-kleuter: ‘Sy word omring deur engele’

Carli van Straten in die hospitaal. Foto: Facebook

“Dit is moeilik. Ons suffer so bietjie. Hierdie is regtig moeilik. Maar God laat alles ten goede meewerk. As die golwe teen jou slaan, laat dit jou skip net vinniger by die hawe uitkom. Sy word omring deur engele.”

Só sê Riaan van Straten, die pa van die vierjarige Carli, nadat sy onlangs ʼn reuse‑terugslag beleef het. Die storie van dié klein meisietjie van Bloemfontein met haar groot veggees en haar ouers se onblusbare hoop het mense oral in Suid-Afrika aangegryp.

Carli is op 34 weke met vier verskillende hartdefekte gebore, onder meer ʼn gat in haar hart en ʼn erge vernouing van een van die hoofslagare. Sy was net ses maande oud toe sy vir die eerste keer opehart-chirurgie moes ondergaan en veg sedertdien dapper teen die talle mediese uitdagings wat haar in die gesig staar.

Die nuwe jaar het egter op ʼn somber noot vir die Van Straten-gesin begin nadat Carli die een terugslag beleef het wat haar ouers en dokters al jare lank probeer verhoed – sy het endokarditis opgedoen, ʼn infeksie in die hart wat lewensgevaarlik vir Carli is.

Carli speel in die water net ‘n week voordat sy weer in die hospitaal opgeneem is. Foto: Facebook

Riaan vertel Carli het verlede Vrydagmiddag begin siek lyk, maar hy en sy vrou, Joanie, het gehoop dit is nie ernstig nie. Hulle het haar by die huis gedokter en dopgehou, maar toe Carli teen Saterdagmiddag begin opgooi, het hulle besef hier is groot fout.

Carli is in die waakeenheid van ʼn Bloemfonteinse hospitaal opgeneem en nadat dokters vasgestel het dat sy ʼn hartinfeksie opgedoen het, is dadelik met antibiotika-behandeling begin. “Dit is nou die een ding wat sy nié moet kry nie en daar is groot kommer oor haar toestand. Maar vanoggend se bloedtoetse het vir die eerste keer gewys dat die antibiotika besig is om te werk, so ons is stadigaan besig om die resies te wen,” sê Riaan.

Hy is vol lof vir die mediese span wat na Carli omsien en sê personeel se kundigheid en omgee maak die dae effens makliker. So ook die magdom boodskappe van ondersteuning wat elke dag van oraloor instroom.

Riaan sê ʼn groot hartseer vir hom en Joanie is dat Carli nie vanjaar sal kan skool toe gaan soos hulle gehoop het nie. “Sy het verlede jaar so goed gedoen dat dokters uiteindelik die groen lig gegee het dat sy sal kan skool toe gaan. Maar dit is nou nie meer ʼn opsie nie. Sy sal minstens vier weke in die hospitaal behandel word vir dié infeksie en daarna sal ons alles in ons vermoë moet doen om te verhoed dat sy weer ʼn terugslag kry, aangesien sy in Junie of Julie weer ʼn opehartoperasie moet ondergaan.”

Carli van Straten in die hospitaal. Foto: Facebook

Riaan verduidelik dié operasie sal as’t ware ʼn “instandhoudingsoperasie” wees om al die werk wat aan Carli se hart gedoen is toe sy ses maande oud was, aan te pas by haar hart wat natuurlik sedertdien aansienlik gegroei het.

“Benjamin (Carli se broer) begin volgende week met skool en natuurlik moet ek weer begin werk, so dit is een van die grootste uitdagings nog vir ons gesin. Ek en Joanie maak beurte om in die nag by Carli te bly, terwyl die ander een by Benjamin is. Ons sien mekaar elke dag net so vinnig wanneer ons ‘skofte ruil’ en verder praat ons oor die foon. Ons gesin is baie geheg aan mekaar, so om nie by mekaar te kan wees nie, is nie vir ons maklik nie.”

Die ouerpaar is egter vasbeslote om nie hoop te verloor nie en steun deurentyd op hulle geloof om hierdie uitdagings te oorkom. Op ʼn vraag wat mense kan doen om te help, sê Riaan hulle kan net vir gebede vra.

Carli van Straten. Foto: Facebook

“Ons kan nou regtig net vir mense vra om te bid – vir Carli en vir krag vir ons om aan te hou. Mense sê baie vir ons, ons is so sterk of so ongelooflik om hierdie te kan doen, maar hulle mis die punt. Dit is nie ons nie, dit is alles net die Here. Dit is Here wat so awesome is, nie ons nie,” sê hy.

“Dit is nie maklik om hierdie ding so in die openbare oog deur te gaan nie. Dit is moeilik as die hele wêreld weet van jou siek kind, jou finansiële moeilikheid, jou stres, ensovoorts. So hoekom deel ons hierdie met almal? Want dit is wat ons die Here belowe het ons sal doen. Die Here het belowe om Sy engele te stuur om ons te help op hierdie reis in alle opsigte om seker te maak ons kom tot by die punt waar Hy vir Carli wil hê.

“Maar die Here het ons gevra, is julle reg om die wêreld van my te vertel, is julle reg om my woord deur hierdie storie te deel, is julle gereed om julle trots in jul sak te steek, te erken dat julle nie die krag het nie en my blindelings te volg? Om hierdie storie te deel, is wat Hy van ons vra,” verduidelik Riaan.

“Hy is die koning en Hy is ons redder. As julle dink ons is ongelooflike ouers of Carli is so ʼn sterk dogtertjie, dink weer. Dit is die Here – ons is niks. Dit is net Hy. Ons leef vir Hom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.