Terugslag vir jong anemielyer en gesin

Gidion en sy ma, Tuschka. (Foto: NB Photography)

Gidion en sy ma, Tuschka. (Foto: NB Photography)

Gidion du Toit, die negejarige Fanconi-anemielyer van Pretoria, en sy gesin het ʼn terugslag beleef toe hulle die nuus ontvang het dat al drie beenmurgskenkers wat moontlik Gidion se lewe kon red, nié beskikbaar is vir skenking nie.

Maroela Media het vroeër berig Gidion, ʼn leerder aan Bronberg Akademie in Olympus, is by geboorte met dié seldsame en genetiese siektetoestand, wat die beenmurg aanval en uiteindelik daartoe lei dat die beenmurg onder meer nie funksies soos die produsering van witbloedselle, rooibloedselle en plaatjies kan voortsit nie, gediagnoseer.

Hy was ʼn vroeggebore baba en moes buiten dié diagnose twee dae ná sy geboorte ʼn operasie ondergaan om sy slukderm met sy maag te heg. Hy ly ook aan gehoorgestremdheid.

Weens die aard van sy toestand sou die enigste oplossing ʼn beenmurgoorplanting wees, maar dokters was destyds van mening dat daar geen kanse op oorlewing sou wees indien hy dié beenmurg ontvang van ʼn skenker met wie hy nie DNS deel nie.

Maroela Media het ook vroeër berig die gesin was oorstelp van vreugde nadat Profmed, die mediese fonds waarvan die gesin al nege jaar ʼn lid is, dekking van R1 miljoen vir ʼn beenmurgoorplanting toegestaan het.

Tuschka Reynders, Gidion se ma, het aan Maroela Media vertel sy en haar man, Kobus, en hulle familie was platgeslaan toe hulle onlangs ingelig is dat die drie vroueskenkers, onderskeidelik van die VSA, Swede en Wallis, weens siekte en persoonlike redes nie meer beskikbaar is om te skenk nie.

“Dit is ʼn geweldige terugslag. Die skenkers weet nie dat die ontvanger ʼn negejarige seuntjie is nie, hulle weet net dat dit ʼn Suid-Afrikaanse persoon is. Ek was platgeslaan toe die beenmurgregister laat weet die skenkers is nie meer beskikbaar nie, maar my geloof is sterk en ek het vir myself gesê, as dié mense nie kan skenk nie, is dit die Here se wil en dan sou daar moontlik iets anders later in die proses skeefgeloop het,” het Reynders gesê.

Gidion en sy ma, Tuschka. (Foto: NB Photography)

Gidion en sy ma, Tuschka. (Foto: NB Photography)

Sy het vertel prof. Nicolas Novitsky van die Universiteit van Kaapstad se akademiese hospitaal, wat deel vorm van die Groote Schuur-hospitaal, het die gesin ingelig dat twee behandelingsopsies beskikbaar is.

Die eerste opsie is haplio-identiese oorplanting, waar Reynders of haar man dan as skenkers vir Gidion kan optree. “Ons het nie voorheen hierdie opsie oorweeg nie omdat daar by my en Gidion se pa, Cornelis, elkeen slegs ʼn 50%-moontlikheid bestaan om ooreen te stem met Gidion se beenmurg.

“Prof. Novitsky het vir ons gesê om ander familielede of vriende te laat toets sal slegs tyd mors omdat die kanse dat hulle geskikte skenkers vir Gidion sal wees te laag is, en dit sal te veel tyd in beslag neem – tyd wat ons nie het nie.”

Die gesin het egter besluit om die tweede opsie, genaamd koordbloed, te kies. “Koordbloed is stamselle wat uit babas se naelstringe gewerf word wat later gebruik word vir oorplantings,” verduidelik Reynders. Volgens haar moes hulle eers die voor- en nadele opweeg.

“Die voordeel is dat koordbloed onmiddellik beskikbaar is. Hoewel Suid-Afrika nie ʼn koordbloedbank het nie, kan die koordbloed van oorsee gewerf word. Daar is ʼn hele paar koordbloedskenkers wat geskik is om vir Gidion te skenk. Omdat dit stamselle is wat gewerf word van babas, is die risiko vir verwerping baie kleiner.”

Die nadeel is dat Gidion langer in isolasie moet bly as wat beplan was met die oorspronklike beenmurgoorplanting. “Omdat dit stamselle is wat van babas gewerf word, is hulle ‘dommerig’, om dit so te stel, en vat dit dus langer vir dié selle om Gidion sʼn te herken. Dus is die risiko vir infeksie baie hoog,” verduidelik Reynders.

Die koordbloedoorplanting sal in die Kaap plaasvind, by die Universiteit van Kaapstad se akademiese hospitaal.

Gidion du Toit. (Foto: NB Photography)

Gidion du Toit. (Foto: NB Photography)

Reynders het gesê Gidion se liggaam produseer glad nie meer self bloedplaatjies nie. “Ons weet nog nie wanneer ons in die Kaap moet wees nie. Sodra ons prof. Novitsky se groenlig kry, moet ons af ry Kaap toe. Gidion se immuniteitstelsel is ongelukkig nie sterk genoeg om te vlieg nie en omdat sy liggaam tans glad nie self bloedplaatjies produseer nie, is die risiko vir breinbloeding te hoog.”

Die stamselle word in Gidion se liggaam oorgeplant deur middel van ʼn drup. “Ons moet dan ook in isolasie bly. Prof. Novitsky praat van ses maande, maar ek probeer hom druk vir vier maande.”

Sy vertel Gidion se gemoedstoestand is goed in die omstandighede. “Die mannetjie is so ongeduldig, want hy wil net weet wanneer hy kan vlieg. Dit is sy grootste droom.”

Reynders het gesê die gesin poog nog om geld in te samel sodat die gesin ʼn inkomste het wanneer sy vir meer as vier maande nie kan werk nie. “Hy is my enigste liefielyf. Ons sit nou die hele gedoente in God se hande.”

Om betrokke te raak, kan jy op Gidion’s Blessed Life-Facebook-blad meer oor dié negejarige lees. Besoek ook die Fanconi anaemia-Facebook-blad, die Hope4Gidion-webwerf of die YouCaring-webwerf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nettie ·

Ai, Maroela Media, iemand “ly” nie aan gehoorgestremdheid nie ….. ‘n persoon IS gehoorgestremd.

Amelia ·

Hoe word mens getoets of jy geskik is? Ek het nie geld en is n diabeet maar as ek kan sal ek getoets wil word en sal gewillig wees vir wat ookal gedoen moet word.

Nettie ·

@Amelia, nee wat – jy kan maar vergeet.

As jy ‘n diabeet is, diskwalifiseer jy jouself van enige tipe skenking: jy kan nie bloed skenk nie (veral nie as jy insulien-afhanklik is nie); jy kan nie jou organe skenk nie (dié is waarskynlik in elk geval sélf “gaar”) en jy sal ook nie beenmurg kan skenk nie.

Kosie ·

Liewe Nettie

Dit is onnodig en gevoelloos om so aaklig te wees, ek is seker jy is nie hier op aarde geplaas om doemprofeet te wees nie, wees taktvol met jou woordkeuses. Amelia bedoel dit uit die goedheid van haar hart?

Jan Cronje ·

Suid Afrika het n koordbloed bank, waar hoor julle daar is nie een nie. Die bank is in Midrand! Ons kinders sin is daar gebank vir die volgende 20 jaar. Omdat my seun n diabeet is hoop ons omdie tegebruik op hom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.