Terugslag vir seun ná verlamming-skok

Giovanni Hendriks (Foto: Verskaf)

Vandeesweek sou ʼn hoogtepunt vir die Hendriks-gesin gewees het wanneer die 18-jarige Giovanni uiteindelik ná maande in die hospitaal ontslaan sou word – maar toe word dié droom ʼn nagmerrie.

Giani Hendriks, Giovanni se pa, vertel aan Maroela Media sy seun se hart het Sondag omstreeks 15:15 gaan staan waar hy in die Kalafong-hospitaal in Pretoria behandel word. “Hy was omtrent ʼn uur en 15 minute sonder ʼn hartklop voordat dokters hom weer kon bykry,” sê Hendriks.

Volgens hom het Giovanni aan kos verstik en begin opgooi, en weens die hoesery het van die kos in sy lugweg en daarna longe beland. Dit het daartoe gelei dat sy hart gaan staan.

“Hulle kon hom darem weer bybring, maar hy is dadelik weer op ʼn ventilator geplaas en in die waakeenheid opgeneem,” sê Hendriks. Die afgelope week was vir hom en sy vrou, Elize, ʼn tuimeltrein van emosies, veral aangesien Giovanni dié week ontslaan sou word en met rehabilitasie sou begin.

“Hy het infeksie in sy longe en is daarom nou op antibiotika, maar sy hartklop is weer normaal, sy bloeddruk én sy liggaamstemperatuur is normaal. Hy is nog steeds aan die ventilator gekoppel, maar dit is eintlik net ʼn back-up, want hy haal self asem. Hy slaap maar meestal weens die sterk pynmedikasie wat hulle hom gee,” sê Hendriks.

Hy sê twee verskillende breinskanderings is gedoen om te bepaal of Giovanni enige breinskade opgedoen het aangesien hy so lank sonder suurstof was. Genadiglik het die skanderings getoon hoewel daar ʼn bietjie swelling op die brein is, het hy geen langtermynskade opgedoen nie.

Giovanni Hendriks in Maart in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig Giovanni is in Maart in die hospitaal opgeneem nadat hy aanvanklik oor ʼn seer keel gekla het, en toe ʼn uur later glad nie meer kon beweeg nie. Hy is met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer, die tweede keer in sy lewe dat hy dié sindroom opdoen. Die eerste keer was agt jaar gelede en hy het destyds ten volle herstel.

Hendriks sê hoewel Giovanni se herstelpad dié keer veel langer was, het hy ook tot nou merkwaardige verbetering getoon. Waar hy aanvanklik heeltemal verlam was toe hy in die hospitaal opgeneem is, kon hy voor die jongste terugslag al alles behalwe sy hande en voete beweeg.

Oor die onmiddellike pad vorentoe vir Giovanni is dokters nie seker nie. “Die dokters kan nie regtig sê wat presies volgende gaan gebeur tot die swelling op sy brein gesak het nie. Vir nou wil hulle net die infeksie in sy longe heeltemal laat opklaar,” sê Hendriks.

Maar hy is vasbeslote dat Sondag se gebeurtenis niks meer as ʼn ekstra hindernis in sy seun se pad na volkome herstel is nie. “Ek glo volkome dat ʼn volmaakte genesing besig is om te gebeur. Ek weet dat hy self uit sy bed gaan opstaan en loop. Dit is ʼn lang geneespad, maar die uiteinde is volkome genesing.”

Lees alle vorige berigte oor Giovanni Hendriks op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Doris ·

Ouers van daardie pragtige seun weet dat julle kind in goeie hande is al is hy in Kalafong daar kry n mens net sulke goeie behandeling en die beste dokters.En onthou die tyd van
Wonderwerke is gladnie verby nie hou vas aan Jesus hou aan bid en glo dat daardie seun binnekort sal uitstap. Ek kan getuig die tyd van Wonderwerke is nie verby nie ook wat plaasgevind het in Kalafong Hospitaal. Daarom moet ons dankie sê vir personeel en die dokters daar.

Stebastiaan ·

Byt vas met hulp van BO is mens tot alles in staat. Sterkte

Rebekah ·

Ek spreek lewe en volle spoedige herstel oor Giovanni uit in die naam van die Almagtige God, Heerser oor alles, Geneesheer van alles. Mag God Giovanni genadig wees. Amen en Amen.

Le Roux ·

Is hy al vir POEMS Sindroom getoets deur n hematoloog dmv n beenmurgbiopsie? By baie mense word dit verwar met Guillian Bare sindroom. Die simptome is wel baie dieselfde maar behandeling verskil merkwasrdig. Baie sterkte en spoedige herstel.

Shimmy ·

Sterkte aan hierdie ouers. Ons glo en vertrou op genesing van bo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.