Terugslag vir spoegkobra-slagoffer

Retha Du Plessis saam met haar seun, Dawid, voor sy operasie. Foto: Verskaf

Dawid du Plessis, die vyfjarige seun van Limpopo wat vroeër vandeesweek deur ʼn Mosambiekse spoegkobra gepik is, moes Donderdag ʼn operasie in ʼn Pretoriase hospitaal ondergaan nadat sy toestand verswak het.

Dawid is Dinsdagaand omstreeks 23:30 in sy bed op sy hand gepik terwyl hy geslaap het. Hy woon saam met sy ouers, Philip (39) en Retha (33) Du Plessis, op ʼn kleinhoewe in die Bulgerivier-omgewing buite Lephalale (Ellisras) in Limpopo.

Retha en Philip is betrokke by The Fold-kinderhuis wat na 33 kinders omsien. Philip en Retha het met Dawid en sy sussie Megan (11) in hul bakkie geklim en na ʼn hospitaal in Lephalale gehaas waar Dawid in die waakeenheid opgeneem en teengif toegedien is.

“Sy linkerarm het erg tot by sy skouer opgeswel en dokters het gesê hy moet dadelik geopereer word om die swelling te verlig, anders kan daar ernstige komplikasies bykom, byvoorbeeld dat hy ʼn ledemaat kan verloor,” het Retha Vrydag aan Maroela Media gesê.

Die gesin het nie ʼn mediese fonds nie en is afhanklik van donasies om vir Dawid se mediese onkostes te betaal.

“Gelukkig het ons genoeg donasies gehad om hom Donderdag in die Netcare Montana-hospitaal te laat opneem,” het sy gesê.

Dawid se ouers het self met hom van Lephalale na Pretoria deurgery aangesien ʼn ambulans nagenoeg R30 000 sou kos.

“Hy is daarna vir byna twee ure geopereer om dreineringspypies vir die swelling in te sit en om van die dooie weefsel te verwyder. Vandag [Vrydag] lyk dit baie beter en die swelling het mooi begin sak.”

Retha het gesê haar seun is op sterk pynmedikasie wat hom baie slaperig maak.

“Hy is steeds ʼn yster en het nog nie een keer gehuil nie. As sy oë oop is, kla hy nie. Hy eet nog nie regtig nie, maar het darem begin vloeistowwe drink.”

Die gesin het net genoeg donasies om Dawid vir drie dae lank privaat te laat behandel. “Ons weet nog glad nie hoe lank hy hier gaan moet bly nie. Dit is maar ʼn dag-vir-dag-ding,” het Retha gesê.

Retha en Philip het almal bedank wat hulle in hierdie moeilike tyd bystaan, ondersteun en vir hulle bid.

  • Marius Benade, ʼn boesemvriend van die gesin, het ʼn beroep op die publiek gedoen om die gesin finansieel by te staan met Dawid se mediese koste. Klik hier vir die bankbesonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Marie ·

Hospitaalplanne is rêrig bekostigbaar,mens kan nie meer op staatshospitale staat maak nie.

Michelle ·

Nie vir almal nie Marie. As jy net R6000pm verdien en daarmee moet alles betaal word… plus kos ens. Hoe bekostig jy dan n hospitaal plan? Sterkte aan die kleinding. Hoop dinge gaan sommer gou gou beter.

Johann ·

Stem saam. MEER as bekostigbare Hospitaal planne om voorsiening te maak vir die onvoorsiene…

Daan Erasmus ·

Bly weg van ‘n hospitaal plan. Spesifiek in hierdie geval sou dit absoluut niks gehelp het nie. Stap by enige privaat hospitaal in en vra of hulle jou sal toelaat op grond van ‘n hospitaal plan

zeno ·

Hospitaal planne is regtig nie so bekostigbaar nie. Ek hoop en bid dat die seuntjie nie sy arm gaan verloor nie. Sterkte aan die seuntjie en vir die gesin.

Sê maar net ·

Sê ek ook Marie. Dit is net so onverantwoordelik om sonder ‘n mediese fonds te wees soos wat dit onverantwoordelik is om jou kinders nie in ‘n motor vas te maak nie. Beide gaan om die beste vir jou kinders te bied. Sterkte aan die familie en die seuntjie.

Alida 2 ·

Marie,
Hospitaal planne is regtig vir sommige families nie bekostigbaar nie.
Wat my egter omkrap is dat mense soms DSTV het, wat ek nie kan bekostig nie, en dan kla daar is nie geld vir ‘n hospitaalplan nie.

SKAAM JULLE ·

Ai voordat julle twee perfect 10’s JUDGE< die arme mense kyk na 33 kinders wat hulpbehoewend is, die hemele weet mens praat darem maklik met die witbrood (en konfyt) onder die arm ne?

Piet ·

Hospitaal planne is baie duur!! Dis nog een sektor wat ons behoorlik uitbuit…..seker omdat die staathospitale nie op standaard is en kompetiese bied nie.

Simpatiek ·

Iets is net “bekostigbaar” as jy fondse het. Die helfte van bogger-all (0) bly bogger-all (0). As jy nie geld het nie dan is iets net eenvoudig nie bekostigbaar nie! Dis presies wat ontbering/armoede is: jy kan nie die absolute noodsaaklikhede eers bekostig nie.
Bietjie begrip daar van die pawiljoen af?

Daan Erasmus ·

Mense help asb. Ons kan almal help. As ons nie met geld help nie gaan die kind se lewe onherroeplik verander. Hierdie is goeie mense wat onbaatsugtige werk by ‘n kinderhuis doen.

karel ·

Ai die arme kind – ek hoop hy herstel vinnig.
Hospitaalplanne is duur wanneer jy meer as een kind op universiteit het.

Ella ·

Ek bid Dawid word gesond. My kleinseuns is net so oud so hy en ek sidder as dit met hulle gebeur. Sterkte vir die gesin.

Sê maar net 1 ·

En die wat so gal braak hospitaalplan blah blah…
Dis nie die seuntjie se skuld sy ouers het vir wat ookal rede nie mediese fonds of ‘n hospitaalplan nie. Lewer eerder nuttige kommentaar of ‘n bydrae.
Maardie mens se selfsug vandag gaan my verstand te bowe. Hoop en bid jy kom nooit in die posisie nie – almal wat so veroordeel.
My liewe seun ek bid dat die Groot Geneesheer jou sal aanraak en Sy werke deur jou sigbaar sal word.
Ek het ‘n seuntjie van vyf en bid vir sy beskerming en dank Vader dis nie hy wat daar lê nie.

Ella Jansen van Vuuren ·

Marie, Hospitaal planne is nie so bekostigbaar nie. Baie mense lewe met net die nodigste. Ek is gelukkig om n goeie mediese fonds vir my en my kinders te he maar dit kos baie. Sterkte vir die seun en ouers.

Paula ·

Marie en Sê maar net, julle loop nie in ander se skoene nie. Hou op oordeel met onveranwoordelike woorde. Begin eerder maar net dankbaar wees dat julle nie in n situasie is waarin ander mense hulle bevind nie.

Sê ook maar net ·

Sies vir jou Sê maar net! Hoe kan jy dit vergelyk om jou kind met `n sitplekgordel en medies te he vergelyk. Om jou kind vas te gordel is immers `n besluit wat jy neem. As jy nie `n medies kan bekostig nie moet jy dalk kies tussen kos of ander noodsaaklikhede. Wees eerder dankbaar jy kan dit bekostig.

Baie sterkte vir die gesin met die beterskap pad.

KanNieMeer ·

SKAAM JULLE, Paula, SêMaarNet: ek stem so saam met julle. Dit is nou die 2de artikel wat ek oor die seuntjie lees met hierdie soortgelyke, kritiese kommentaar. Ons mense is in ‘n ernstige vervalle toestand, want hul kan nie meer meegevoel betoon nie, maar mens lees eiegeregtige, arrogante, onsimpatieke, kritiese kommentaar. Mense, julle harte is verhard en ek skaam my so! Hoe verskriklik ontstellend. Meeste van julle sit ongelukkig in julle huise, na jy moontlik eers na 7nm by die huis kom. Dit neem ‘n hele tydjie om binne jou huis te kom na jy eers deur die hekke, en en moes kom. Julle is verbitterd. Maar verdien goeie salarisse. Julle het geen begrip van barmhartigheid, opoffering vir ander nie (wat hierdie gesin duidelik verstaan en doen) en begin dadelik eerder dink waar en hoe julle hulle kan help nie. Die Vrug van die Gees word gladnie uitgeleef nie. Julle wíl niks weet van iemand wat alles opoffer ten koste van hulself, om ander te help nie. Sjoe, ek het nie meer woorde nie…sien dieselfde neiging op FB. Al jou geld, liewe bevoorregte, gaan jou nie in die hemel bring nie. Hierdie mense wat die sout vd aarde is, sal met niks sekerlik wel die Konin. Ag, ek laat een lang sug!! ??

Dana van rensburg ·

Daar is alternatiewe maniere om die gif in die lyf af te breek. die produk is Ozoon gas wat binne aars ingespuit word. Die Ozoon val die gif aan en vernietig dit. Daar is baie om te verduidelik oor hoe en hoekom dit werk. Die gas vernietig Melaria in jou bloed en ook baie ander parrasiete. Hier is n Dokter in alternatiewe medisyne wat ek kan aan bevel vir n behandeling. Hy is in Pretoria. Ek het persoonlike ondervinding van Melaria asook n spinnekop byt wat sukselvol met Ozoon behandel was. Ek vra n oop gemoed omtrent my kommetaar asb. Indien ek tot hulp kan wees om die dokter se nr te kan verskaf kan julle my skakel by 083 7591 799. By voorbaat dankie.

Ekke ·

Dana…
Ek is dankbaar vir jou jou onthalwe dat Ozoon vir jou gewerk het.
Maar… Ozoon(O3) is ‘n uiters onstabiele molekul en ook ‘n kragtige oksidant. Dit is giftig vir mens- en dierlike gebruik en sal self plantselle vernietig.
Die Ozoonlaag wat die Alternatiewe dokters gereeld as voorbeeld voorhou is in die buitenste laag van ons atmosfeer (Stratosfeer). Onder op grondvlak is daar skaars “detectable” Ozoon molekules want dit hoort dit nie hier nie.
Daar is GEEN studies oor Ozoon gedoen wat die mediese voordele daarvan staaf nie, daar is wel ‘n paar wat bewys hoe giftig Ozoon is veral vir die mens en dier se asemhalings organe.
Om dit in te spuit is krimineel en daarvaar is ‘n paar “Dokters” al tronk toe veral in die VSA want dit kan en het mense doodgemaak.
Moet asb nie Ozoon gebruik nie.
Enige een is welkom om my deur Maroela te kontak as julle meer inligting wil he.
Julle kan ook net op Google ook soek. Dit neem ‘n rukkie om deur al die “Fantastiese voordele van die wonderkuur” webwerwe te kom maar dan is daar vele inligting oor hoekom dit uiters gevaarlik is om te gebruik.
Ozoon is vir GEEN siekte ‘n kuur nie.
Mooi loop…

Karin ·

Daan, verwar jy nie dalk hospitaalplanne met mediese versekering nie? Natuurlik sal ‘n hospitaalplan vir iets soos hierdie betaal.

Pieter ·

Net ter inligting. n Goeie hospitaal plan kos n gesin van 3 so R 2000. waarvan so R 875 deur belasting korting (aftreking met jou jaarlikse belasting aanslag) gedek word.

Sanell ·

Ai regtig moet daar nou n gestry wees oor Hospitaal plan ???? Bid eerder vir die kind en sy familie.

Ella ·

Kan iemand dalk se.hoe dit tans met Dawid gaan? Terwyl julle oor nietighede stry bid ander gelukkig saam met die ouers en familie vir die klein seuntjie.

Tanya ·

Dis darm maar tragies hoe mense so vinnig is om te oordeel. Ken jy hulle omstandighede Mnr/Mev edelagbare-hulle-moes-n-medies-gehad-het?? Sies…. kom ons probeer liewers die mense help en laaaaaaaater kan julle hierdie advies gee en dan sien wat hulle kán bekostig. Sterkte Dawid!!

Leandri ·

Dis verskriklik… ons bid saam.
Ons het ook Mosambiekse spoegkobras hier in die ooste van Pretoria en het al n hond verloor agv van 1. Ek het net nou die dag 1 aan die anderkant van ons skuifdeur gesien in die binne tuin ?… ek was onder die indruk dat hulle net pik as hulle bedreig voel en dat hulle meeste van die kere weg wil kom van jou af, maar Dawid het geslaap! Ek het n 2 jarige dogtertjie en hierdie is vir my vreesaanjaend…

Mervyn ·

Waarom sal die ambulans R30 000 kos , wanneer my plaasarbeiders die ambulans en die hospitaal gratis kry , sonder ‘n fonds of ‘n plan ?

Ekke ·

En… daar is actually mense wat nie medies van enige aard kan bekostig nie.
EK hoop Dawid word gou gesond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.