Tesourie ontken kernkraggerugte

Malusi Gigaba, minister van finansies. (Maart 2017) (Foto: GCIS)

Die nasionale tesourie het Sondag gerugte dat kontrakte vir Eskom se kernkragbouprogram onderteken is ten sterkste ontken.

Die gerugte volg nadat Sibusisiwe Mngadi, ’n ANC-lid, Sondag op Facebook geskryf het die ooreenkoms is Saterdagaand onderteken. “Raai wie se handtekening is op die dokument? Die nuwe minister van finansies, Malusi Gigaba, s’n. Kernkragmissie afgehandel,” het sy gesê.

Sy beweer verder die maatskappy van pres. Jacob Zuma se neef, Khulubuse Zuma, sal die beheermaatskappy vir die kernkragstasies wees. “Oor die volgende 20 jaar sal Khulubuse Zuma meer as R50 miljard maak. Baie geluk, missie voltooi.”

Mngadi het nie op versoeke op haar inskrywing vir bewyse of die bron van haar bewerings gereageer nie.

Vytjie Mentor, ʼn voormalige ANC-LP, het ook die gerug op haar Facebook-profiel geplaas. “Gigaba het gisteraand [Saterdag] die kernkragooreenkoms onderteken. Dit sal R6 000 miljard wees met ekstra betalings. Alle Suid-Afrikaners is nou amptelik slawe van die Russe en dit sal die geval vir die volgende 100 jaar wees,” het Mentor geskryf.

Die tesourie het Sondagaand op Twitter die gerugte ontken en gesê daar is geen ooreenkomste wat reg is om onderteken te word in verband met die regering se kernkragplanne nie. “[Gigaba] het Vrydag opgedaag en het nog nie uit die raadsale beweeg waar hy met bestuur vergader en later ’n telefoonkonferensie met graderingsagentskappe gehad het nie. Hy sal [van Maandag af] amptelik sy kantoor betrek en ʼn inligtingsvergadering met die uitgaande minister, Pravin Gordhan, voer,” het die tesourie getwiet.

Gerugte doen al ʼn geruime tyd die ronde dat Gordhan verlede week tydens pres. Zuma se middernagtelike kabinetskommeling afgedank is omdat hy ʼn hindernis in die pad van die regering se kernkragplanne is. Gigaba het ná sy aanstelling gesê hy is verbind tot die kernkragprojek, maar dat dit nie op ʼn roekelose wyse ingestel sal word nie.

Tydens sy eerste toespraak as minister van finansies het Gigaba die fokus sterk geplaas op transformasie en beklemtoon dat die staat se koopkrag “nie-apologeties” aangewend sal word om swart ondernemings te laat groei. “My aandag sal nie deur buitekwessies afgelei word nie. Ek sal fokus op die taak om die beleidstellings van die ANC in werking te stel om die lewe van die meerderheid Suid-Afrikaners te verbeter,” het hy gesê.

Die inskrywing wat Sibusisiwe Mngadi op Facebook geplaas het.

Daniel Silke, ʼn politieke ontleder, sê hoewel Gigaba beweer hy sal nie die kernkragprogram op roekelose wyse in werking stel nie, sal daar eers gesien moet word wat die aard van die program se verkrygingsproses gaan wees, of alle aspekte van die ooreenkoms op ʼn verantwoordbare en deursigtige manier hanteer sal word en of daar enige waarheid in die gerugte van bande met Rusland of die omstrede Gupta-familie steek.

“Ek dink beslis Gordhan wou nie homself verbind aan ʼn kernkragooreenkoms waarvan die kapitaalbesteding oor die volgende tien jaar iets sou wees wat Suid-Afrika se ekonomie in gedrang sal bring nie. Dit kan dan ook wees hoekom Gordhan die kernkragplanne byna nie eens in sy begrotingsredetoespraak genoem het nie,” het Silke gesê.

“Oor of die gerugte dat die kernkragooreenkoms onderteken is waar is, kan ek nie kommentaar lewer nie. Maar dit verg beslis nou verhoogde waaksaamheid van die burgerlike samelewing, opposisiepartye en die media oor die kwessie.”

Intussen het die graderingsagentskap Fitch Ratings gesê fiskale konsolidasie sal onder Gigaba se beheer laer op die prioriteitslys wees en die poging om die bestuur en deursigtigheid van staatsondernemings te verbeter sal stopgesit word. “Staatsinstansies se bedryfslaste, en daarom ook die voorwaardelike aanspreeklikheid van die regering, sal waarskynlik toenemend vermeerder, veral as ʼn plan om die ingebruikneming van nuwe kernkragstasies na 2037 uit te stel, omgekeer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

pieter ·

WAS DAAR NIE EENS OP N TYD N LIEG EN BIEG KOMISIE NIE. HIERDIE KLINK VIR MY NA N LIEG KOMISIE

Hendrik ·

So sal hy seker ook ontken dat sy weklike ma nie sy ma is nie

Jean ·

JULLE HET ANC GESTEM, JULLE HET VIR ZUMA GESTEM, julle het hom vertrou, julle het al die leuens geglo wat die ANC aan julle verkoop het, so KRY VIR JULLE. Zuma en Kie ondersteun net programme waaruit HULLE en hulle families miljoene en biljoene kan maak, daarom die sterk teenstand teen enigeen wat hulle teegaan. Ek het regtig GEEN simpatie met ‘n ANC ondersteuner wat nou kla oor Zuma nie. Julle het vir hom geveg, julle het hom aan bewind gebring en aan bewind gehou .. KAAS HOM EN GENIET HOM!!

zoom zoom ·

Jean ek stem saam met jou. Hulle was bereid om die wapen op te neem om zuma te beskerm. Malema was die voorbok met die wat zuma moes instem. So hulle moet vir hulle kry. Waar rook is is daar ‘n vuur.

Zumie ·

Die gerug loop rond dat die allernuutste nuutste finansminister reeds die kernkragopwekking ooreenkoms geteken het. Dan kan ons soos in die gewraakte wapenskandaal weer “kick backs” verwag. Waar anders gaan “numba one” die ou geldjies vandaan kry om sy hartebeeshuisie by Nkandla op te gradeer…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.