Tesourie se DG bedank

Lungisa Fuzile (Foto: Tesourie)

Lungisa Fuzile, direkteur-generaal van finansies, het bedank minder as ʼn week nadat die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan, afgedank is.

Die tesourie het Woensdagmiddag Fuzile se bedanking bevestig. Volgens die tesourie het Fuzile Gordhan verlede week versoek om sy kontrak aan te pas sodat dit op 15 Mei sal verstryk. Fuzile se kontrak sou aanvanklik eers in Mei 2018 tot ʼn einde gekom het.

Pres. Jacob Zuma het verlede week opdrag gegee dat Gordhan, sy adjunk, Mcebisi Jonas, en Fuzile onverwags terugkeer van ʼn beleggerspromosietoer in Londen en die VSA. Kort ná hul terugkeer het Zuma Gordhan en Jonas die trekpas gegee.

Fuzile se kontrak is in 2016 vir twee jaar verleng nadat Gordhan na die nasionale tesourie teruggekeer het. Die twee het ʼn goeie werksverhouding gehad en Gordhan het dikwels genoem dat Suid-Afrika gelukkig is om so ʼn bevoegde en toegewyde hoof van ʼn sleuteldepartement te hê.

Bronne beweer Fuzile het erg aanstoot geneem nadat hy van sameswering beskuldig is en dit was die laaste spyker in die doodskis.

Die nasionale tesourie het in ʼn verklaring gesê Fuzile en Malusi Gigaba, die nuwe minister van finansies, is tans in gesprek oor ʼn gepaste datum wanneer hy die tesourie sal verlaat. “Hoewel Fuzile aangedui het dat hy buigsaam is om ’n redelike tydperk aan te bly indien dit nodig sou wees, is hy en die minister in gesprek oor hoe om ʼn gladde oorgang te verseker wat die institusionele krag van die nasionale tesourie sal versterk.”

Volgens die verklaring het Fuzile gesê die personeel by die tesourie is hoogs professioneel en bewus van hul verpligtinge en daarom behoort sy vertrek nie noodwendig tot ʼn verandering van rigting te lei nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Alida ·

Wys dat hy integriteit het en nie wil deel wees van die gemors nie. Hy vat nou sy pensioen want oor twee jaar is dit dalk gesteel. Wens almal in die parlement wil nou loop. Pensioen in gedrang!

MissDemeanor ·

Ek dink die ou is ‘n genuine goeie-ou. Dink dat dit herltemaal gaan oor integriteit en gladnie oor pension nie. Sy loopbaan is nie verby nie. Ek hoop die jong, goed gekwakifiseerde en eerlike jong politici word meer sigbaar in die ANC sodat hul die korruptes kan vervang.

Beswaarde landsburger ·

Ek merk met skok dat geen media-instelling die skokkende feit dat Maatskaplike Werkers in diens van die Staat Vrydag alreeds ‘n maand lank landswyd sou gestaak het nie. Die publiek dra geen kennis hiervan nie, word nie deur die betrokke Minister, die Departement, enige ander politieke ampsdraer of enigiemand anders hiervan ingelig nie. Die mees weerloses onder ons, kinders, oues en die armste van die armes word hierdeur erg blootgestel.

Kan u instelling hierdie nie aan die groot klok hang nie?

Renier ·

Ek vermoed daar is baie staatsamptenare wat kan staak sonder dat mense agterkom dat dit die geval is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.