Tesourie verwelkom S&P-graderings

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

Die nasionale tesourie het Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) se besluit om Suid-Afrika se graderings van staatskuld en bepaling van kredietwaardigheid onveranderd te hou, verwelkom.

S&P het Vrydag gesê hy bevestig sy negatiewe vooruitsig van die buitelandse en plaaslike valutagraderings weens die land se politieke wisselvalligheid en die onsekerheid rakende fiskale beleide. Die graderingsagentskap het gesê die pas van ekonomiese groei is steeds stadig en bied risiko’s vir die tempo van fiskale konsolidasie, met stygende voorwaardelike verpligtinge en aanspreeklikhede, asook vir Suid-Afrika se vermoë om ekonomiese ongelykheid op mediumtermyn te verminder.

Die tesourie het gesê hy neem kennis van die bevestiging van die langtermyn buitelandse valutagradering van BB+ en die negatiewe vooruitsig van die graderings. “Hoewel die regering met S&P saamstem dat die tempo van ekonomiese groei stadig is en dus ʼn risiko vir fiskale konsolidasie inhou, word die fiskale beleid steeds gelei deur hoofstuk 13 van die Grondwet,” het die tesourie in ʼn verklaring gesê.

“Dit word duidelik gestel: Waar daar pogings is om ekonomiese ontwikkeling, goeie regeringsbestuur, sosiale vooruitgang en verbeterde lewenstandaarde vir alle Suid-Afrikaners aan te moedig, moet daar ook deursigtigheid, aanspreeklikheid en goeie finansiële beheer wees in die bestuur van openbare fondse.”

Die tesourie het verder gesê die sleutelfokus is om beleggersvertroue te behou en weer beleggingsgraderings te behaal. ʼn Volhoubare fiskale beleid en pogings om ekonomiese groei te bevorder, is dus noodsaaklik.

“Die regering voer tans samesprekings met die privaat sektor om seker te maak dat die gesamentlike werk van die regering, sakesektor, arbeidsektor en burgerlike samelewing voortgaan en dat die beloftes wat gemaak is wel nagekom word. Die werk om regeringsbestuur te verbeter en finansiële uitdagings in staatsinstellings aan te raak, is ook op die regte pad.”

Intussen het die DA gesê Suid-Afrika kan dankbaar wees vir S&P se kredietgradering. David Maynier, die DA se woordvoerder oor finansies, het gesê dit beteken Suid-Afrika se langtermyn plaaslike skuld, wat 88,2% van die land se R2,2 duisend miljard skuld uitmaak, behou sy kredietgradering by S&P.

“S&P het egter steeds ernstige bekommernisse oor politieke binnegevegte wat ekonomiese groei en fiskale konsolidasie ondermyn soos hul ‘negatiewe vooruitsig’ vir die land weerspieël,” het Maynier gesê. “Wat S&P se kredietgradering bevestig, is dat die ‘burgeroorlog’ binne die regerende party die ekonomie doodmaak en dit is hoekom ʼn allemintige 9,3 miljoen mense in die land nie werk het nie of opgehou het om werk te soek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MCH ·

Ons kan baie dankbaar wees hiervoor. Wat hul ook vir die regering sê is kry jou huis in orde. Ek verstaan egter nie wat die regering bedoel dat hy hom laat lei deur hoofstuk 13 van die grondwet nie. ” deursigtigheid, aanspreeeklikheid en goeie finansiele beheer wees in die bestuur van openbare fondse” Hul doen weinig hieraan. Hierdie gradering is soos n finale waarskuwing. Spyt my, maar ek het nie vertroue in die kamerade om dit te vermag nie.

jaco ·

hoe kan n wit besigheid wat knus in eerste wereld New York sit, links en regs lande se ekonomieë op en af gradeer? Dis mos rassisme. Dit klink baie soos wat mense in Europa al vir my gesê het “black people just can’t do it”. Wie gee hulle die reg om sulke goed te sê? En besef hulle dat hulle afgraderings daartoe lei dat miljoene “black people” wat nie regeer nie maar net gewone werkers is, deur hulle afgradering nou MEER moet betaal vir melk, brood petrol ens EN dat baie selfs hulle werk verloor? Hoe kan n privaat besigheid se afgradering van n ander land se ekonomie in elk geval enige gewig dra? Moet dit nie eerder deur die United Nations gedoen word nie?

Johann cb ·

Moet ons nóg harder werk om net méér besteel te word?

En wíé presies is hierdie mense om ons te “gradeer”? Dra hulle tot ons ekonomie by?

Vra maar net…

Chris ·

Ek huldig steeds die standpunt dat ons maar weer ‘n kolonie geword het. Ons word deur die Britte, Engelse en ander ontwikkelde lande beheer, manupileer en voorgesê. Die bogenoemde lande het te veel belange in Suid Afrika om die land totaal ten gronde te laat gaan. Die toekoms hou onbekende lekkerte in. Ons moet soos die Ingelse sê, “grin and bear it”. Goor tye het ook ‘n vervaldatum.

John ·

Wel, as hierdie instellings nie die regering bangmaak nie, het dit hoeka al baie meer na Zim gelyk in SA of soos in Indie. Die regering probeer die buiteland flous deur skelm-skelm te steel en te vernietig maar met ‘n soet swart gesiggie, wit-getand, liefies met die finansiele waghonde en die IMF te speel. Dis duidelik soos daglig dat die ANC onder Zuma die werklose swartes met en in wit eiendom wil paai en bemagtig, of watter ander briljante planne van hulle kan iemand aan ons voorle… of gaan hulle nou baie bote aankoop vir visvang… of eerder… vir die laaaang nat pad na Europa se strande vol ou wrakke en dieselfde uitkomste… eh?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.