Teti Traffic en Satawu bots oor 130%-verhoging

Argieffoto

Argieffoto

Onderhandelings tussen die verkeersvoorvallebestuursmaatskappy Teti Traffic en Satawu het vasgeval na dié vakbond salarisverhogings van tot 130% geëis het.

Teti Traffic het Sondag in ʼn verklaring gesê die maatskappy en die SA Transport and Allied Workers’ Union sal Woensdag met versoeningsgesprekke begin. Die vakbond het verklaar dat sy lede Dinsdag begin staak.

Die maatskappy beheer verkeersvoorvalle namens die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral).

Kragtens ʼn ooreenkoms wat Vrydag by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) bereik is, sal die vakbond aanspreeklik wees vir dissipline en orde tydens die staking. Satawu-lede mag slegs by die sentrale bedryfsentrum in Midrand byeenkom.

“Die partye kom ooreen dat die staking, wat Dinsdag begin, by die Rietspruitsirkel, by die kruising tussen Rietspruit- en Waterbergweg plaasvind,” lui die ooreenkoms. “Die partye vergader op 4 Mei kragtens artikel 150 van die Wet op Arbeidsverhoudinge.” Dié artikel bepaal onder andere dat ʼn kommissaris aangestel moet word om die dispuut op te los deur bemiddeling.

Teti Traffic het Satawu-lede versoek om hulself daarvan te weerhou om werknemers, wat nie staak nie, te intimideer of eiendom te beskadig. “Ons doen ʼn beroep op die vakbond om verantwoordelik op te tree en die regte van kollegas, verskaffers en klante te respekteer en nie eiendom te beskadig nie,” het Karen Venter, projekbestuurder van Teti Traffic, gesê.

Venter het aan motoriste om verskoning gevra vir enige moontlike ongerief. “Ons doen ʼn beroep op motoriste om waaksaam te wees. Alhoewel ons gebeurlikheidsplanne in plek gestel het, kan daar vertragings wees weens ʼn gebrek aan verkeersbestuursprosedures. Ons vra om verskoning daarvoor.”

Venter het gesê nadat salarisonderhandelings in Oktober verlede jaar begin het, het Satawu geweier om toegewings te maak aan hul eise. “Teti bied ʼn 7%-salarisverhoging aan, maar Satawu eis meer as 130%,” het sy gesê.

Satawu eis dat algemene werkers se salarisse van R4 325 verhoog moet word na R6 000, basiese lewensondersteuningspersoneel se salarisse van R4 680 tot R9 000, verkeersveiligheidsbeamptes van R6 000 na R7 000, verkeersbestuursentrumpersoneel van R6 600 na R12 000, senior operateurs van R13 000 na R16 000 en veldtoesteltegnici-assistente van R8 000 na R13 000.

“Teti Traffic glo Satawu se eise is onredelik. Ons kan nie dié eise bekostig nie,” het Venter bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lance ·

Staak hom tot in sy afgrond in ….laat poskantoor asb julle voorbeeld wees ..

Tiger ·

Nou ja SANRAL maak jul deure toe .Kyk wie gaan omgee!Nie ons nie dis verseker!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.