Soorte resepte:

Texas spog met sy eie SA kombuis

Danny en Lauren da Silva is die eienaars van My South African. (Foto: Verskaf)

Met hul besigheid, My South African Kitchen in Waco, Texas, is ‘n Suid-Afrikaanse gesin besig om een happie op ‘n slag brûe te bou tussen kulture en nasies. Maretha Botes het met Lauren da Silva gesels oor hul skuif na Amerika wat tot die lekkerny-onderneming gelei het.

Gesprekke om die kospotte is gewoonlik dié wat sorg vir vreugde, lieflike herinnerings en die smee van hegte bande. En wie kan nou ‘n stomende bakkie malvapoeding, kraakvars koeksister, Romany Creams of pasteis de nata weerstaan? Dalk nie alles eg Suid-Afrikaans nie, maar dis juis die smeltpot van kulture waarvoor Suid-Afrika bekend is, wat Lauren en Danny (van Portugese herkoms) deur hul onderneming vier.

Die Da Silvas het vier jaar terug Amerika toe verhuis en binne ‘n maand van hul aankoms daar ‘n geleentheid gesien vir ‘n onderneming om mense bloot te stel aan Suid-Afrikaanse snoepgoed en disse. Lauren sê, “Ons wou nog altyd iets prakties in die gemeenskap doen om ons reis en immigrasie-avontuur te vier, asook al die kosbare skatte wat immigrasie aan ‘n gemeenskap bring. Boonop is Suid-Afrika se ongelooflike koskultuur iets wat ons baie maal as vanselfsprekend neem.”

Dit is egter eers in die beginstadium van die Covid-19-pandemie dat Lauren en haar man, Danny, ernstig aandag aan hul droom gegee het.

“Ons het begin wonder of ons werklik goeie rentmeesters van ons geleenthede in Waco is. Ons het die waarde daarvan besef om in ‘n posisie te wees om Suid-Afrikaners en Amerikaners bymekaar te bring deur kos, kultuur en mense,” sê Lauren.

Die oomblik toe hulle hul groenkaarte in die hand het, het hul besluit om die idee ‘n kans te gee. Aanvanklik sou dit net tot aan die einde van 2020 wees, maar soos Lauren sê, toe hulle eers begin, was daar geen keer nie.

Die heerlike eg Suid-Afrikaanse happies van My South African Kitchen. (Foto: Verskaf)

Met My South African Kitchen wil Lauren en Danny ‘n konneksie bou tussen mense, plekke, kos en kultuur en diversiteit op dié manier vier. Soms laat kosbare oomblikke haar in trane.

“Wanneer ons ander Suid-Afrikaners, Portugese of selfs Brasiliaanse immigrante ontmoet, hulle ‘n happie van een van ons gebak neem en in trane uitbars omdat dit hulle terugneem na hul tuisland en ma’s en oumas se kombuise. Dís die oomblikke wat ek saam huil. Ek kan identifiseer met hul gevoel van verlange, die mengsel van diep satisfaksie, vreugde en dan intense hartseer wanneer jy ‘n ervaring het wat jou ‘huis toe neem’.”

Ander oomblikke wat hulle al diep geraak het, is die deel van Suid-Afrika se storie en die verskillende disse wat hul voorberei, die disse se kulturele herkoms of diversiteit en samewerking tussen kulture wat verteenwoordig is deur hulle produkreeks.

“Daar is soveel oomblikke tussen ons en ander wat begin met hoe verskillend ons is, en eindig met hoe eenders ons menslike ervarings is en hoeveel ons eintlik in gemeen met mekaar het,” sê Lauren.

Danny, ‘n tandheelkundige tegnikus, en Lauren, ‘n maatskaplike werker, se avontuurgees is groot en hulle het lankal besef hulle sal graag immigreer as die geleentheid hom voordoen om in ‘n ander land werk. Lauren het geleentheid gekry om haar meestersgraad in maatskaplike werk by die Baylor-Universiteit te doen. Terselfdertyd is Danny vir ‘n onderhoud genooi en het dadelik werk gekry.

“Die een na die ander deur het vir ons oopgegaan, en ons het aangehou loop,” sê Lauren. Hulle was tóé ‘n gesin van vier met dogter Kaelah (nou 8) en seuntjie Noah (nou 6). Klein Ellie (2) het intussen bygekom.

Immigrasie is nie vir sissies nie, meen Lauren. Met die VSA se immigrasiestelsel wat peperduur én moeilik navigeerbaar is, asook die laaste vier jaar se moeilike politieke klimaat, was die nie juis pret nie.

Die Da Silvas met Kerstyd in die VSA. Hulle woon al vir vier jaar in die land. (Foto: Verskaf)

“Ons moes luister hoe mense ons as dom en onkundig toesnou en ander wrede dinge vir ons sê. Die hele affêre is werklik ‘n geloofsreis. Net omdat jy een fase van die proses slaag, beteken nie jy gaan die volgende fase slaag nie. Ons mis ons vriende en familie ontsettend baie, veral in die feesseisoen. My en die dogters se verjaarsdae val tussen November en Februarie. Dus is die verlange in daardie tyd groot en die trane baie. Aan die ander kant is die hele ervaring van ‘n kruiskulturele leefstyl uiters interessant en het dit ons ‘n diep liefde en waardering gegee vir wat dit beteken om Suid-Afrikaans te wees. Dit is werklik een van die grootste skatte wat ons deur die ervaring ontvang het. Ander wonderlike ervarings is die ontmoeting met ander mense van oral oor die wêreld, en om dinge te ervaar wat ons nooit andersins sou ervaar het nie. Dis absoluut ‘n mengsel van ervarings, maar ons is nog nie een oomblik spyt nie.”

Ironies is dit hul pasteis da nata (‘n Portugese tertjie en familieresep van Danny) wat ‘n groot gunsteling onder kliënte is. (Foto: Verskaf)

Ironies is dit hul pasteis da nata (‘n Portugese tertjie en familieresep van Danny) wat ‘n groot gunsteling onder kliënte is.

“Ek dink hulle doen so goed, want dit is absoluut heerlik en stem ooreen met die eiertertjies wat van Asië afkomstig is. Sentraal- en Suid-Amerikaners herken die lekkernye dadelik. Met hierdie een resep kan ons troos en ‘n tikkie huis na soveel verskillende immigrante gemeenskappe bring. Dan is daar ook die Romany Creams (ek eet ‘n hele baksel self op, so lekker is dit).”

Die grootste lesse wat die Da Silvas dusver geleer het, is dié oor verantwoordelikheid, dapperheid, geloof en om te behoort.

“Ons het verantwoordelikheid geneem vir ons storie en ervarings, onsself en ons kultuur ‘daarbuite gesit’ in die geloof dat dit op verskillende maniere goeie dinge na ‘n gemeenskap kan bring. Ons het eers verwag dat ons kultuur nie aanvaar sal word nie. Maar die ervaring van aanvaarding en viering daarvan het ‘n dieper en pragtige beloning vir ons gebring en alles die moeite werd gemaak!” sê Lauren.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anton

Ek het 12 jaar in die VSA gewoon en is nie een keer uit gesnou nie. Onnodige politieke opmerking in ‘n andersins interessante artikel.

Kokerboom

trots op hulle

Cherokee

‘…hulle het lankal besef hulle sal graag immigreer as die geleentheid hom voordoen…’
‘Immigrasie is nie vir sissies nie, meen Lauren’
’emigreer’ en ’emigrasie’ is die woorde. Dit is nie kritiek nie maar bloot vriendelike regstelling. :-)

Brenda

Baie mooi, ek sal wat wil gee om daar te kan bly nog altyd een van my gunsteling lande.