Thabazimbi-inwoners raadop oor watertekort

Argieffoto

Argieffoto

Inwoners van Thabazimbi is raadop aangesien dié Limpopo-dorp al vir weke onder ʼn ernstige watertekort gebuk gaan.

Hestia Coetzee, ʼn inwoner van Thabazimbi, het aan Maroela Media gesê inwoners sukkel al sedert Januarie met hul watertoevoer en dat hulle soms vir dae aaneen geen water het nie. “Niemand weet wat aangaan nie, want die munisipaliteit het elke keer ʼn ander verskoning,” sê sy. “In Januarie het hulle gesê daar gaan ʼn watertekort wees omdat kleppe vervang moet word. Enkele weke later is dit toe probleme by Magalies Water wat die oorsaak is. Intussen is ons gelukkig as ons vir ʼn uur of twee in die vroeë oggendure water kry.”

Nog ʼn inwoner, Marietjie de Beer, sê daar word van tyd tot tyd water aangery deur die Anglo American Amandelbult-myn. Volgens De Beer ontvang sy boonop al vir maande yslike waterrekeninge van die munisipaliteit, ten spyte daarvan dat daar die meeste van die tyd geen water in die krane is nie. “Ek het in Maart ʼn rekening van R23 000 gekry. Ek het ekstra betaal sodat die munisipaliteit my watermeter kan kom toets, maar tot op hede het niemand nog opgedaag om dit te doen nie. En as ek nie my rekening betaal nie, kom sny hulle dit af.”

Volgens Joshua Motsomane, woordvoerder van die Thabazimbi-munisipaliteit, het bedrywighede by die Vaalkop-watersuiweringsaanleg tot stilstand gekom en het dit tot gevolg gehad dat die Elandsfontein-reservoir se watervlak onder 10% gedaal het. Dit het ʼn reuse-watertekort veroorsaak en die munisipaliteit genoop om noodbeperkings in te stel en ʼn operasionele plan van stapel te stuur.

Die munisipaliteit se operasionele plan sluit die opgradering van ʼn waterpomp en pompmotor by die Thaba Park-boorgat in. Twee gesteelde transformators by van die boorgate sal ook voor einde April vervang word, terwyl ʼn nuwe waterpomp by die Bosveld Park-boorgat geïnstalleer sal word. Die munisipaliteit gebruik watertenks om water aan inwoners in hoërliggende gebiede te verskaf.

Motsomane het aan Maroela Media gesê die streng beperkings sal van krag bly tot die situasie verbeter. Hy kon egter nie sê wanneer die waterbeskikbaarheid weer normaal sal wees nie.

Volgens die beperkings is water slegs vir ʼn geskeduleerde tydperk elke dag aan die onderskeie areas van Thabazimbi beskikbaar en inwoners is gevra om nie water vir tuinnatmaak of motorwas te gebruik nie. Inwoners is ook gevra om onmiddellik waterlekkasies aan te meld sodat die munisipaliteit watervermorsing sover moontlik kan beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

marie ·

Daar is n maklike oplossing wat hulle nie wil toepas nie. Draai die pype in onderdorp vir n halfdag toe of elke 2de dag en he maar beurtwater. Maar hulle wil nie. Ons moet maar kyk as die watertrok verby ons huis jaag en vra mense dan word daar gese nee jammer dis nou ees n ander straat se beurt… 3dae later het dai trok steeds nie by almal uitgekom nie. Die hele paasnaweek was daar nie n enkele druppel nie. N straat in dorp het al vir 3 weke nog nie water met n oog gesien nie.Die probleem kom al van voor Januarie. Nou sukkel ons maar voort.

Riaan Slabbert ·

En hier in die Vaal, is waterpyp lekasies wat al vir meer as n JAAR onaangeraak vloei. Self van gisteroggend tot nou probeer om n lekasie op my sypaadjie aan te meld. Net n stem wat vra dat jy n boodskap moet los, maar die “mesaggebox” is vol. Tussen Sasolburg en Vdbp spuit van Woensdag af n fontein van eitlike meters hoog die lug in, en volgens die Vaalweekblad kan ook hulle niemand van die mislukepaliteit kry nie.

R. Venter ·

Die hartseer van Thabazimbi is dat die myne al meer as ‘n honderd miljoen rand vir allerlei projekte aan die munisipaliteit beskikbaar gestel het, hierdie geld het ‘n pad iewers heen gevind, MAAR nie na die toegewysde projekte nie.

Olgadene Smit ·

Ek kan nie verstaan dat mnr Motsomane weereens ‘n ander verskoning gebruik nie. Net vanoggend is daar die volgende deur die DA op die blad “Thaba whats happening” geplaas. “DA Thabazimbi
WATERKRISIS: Die groot watertoevoerpyp het by Kumba gebars. Die munisipaliteit is tans besig om aandag daaraan te gee. Dit is tans onduidelik hoe lank die herstelwerkproses gaan duur.”. Die volgende “inwoner (naam uitgelaat)
More, dit is nou 19 dae na julle ( post ) dat daar n probleem is met waterpype en nog steeds het ons geen water in vink straat nie. Oftewel in die bo dorp nie. Ons het een oggend 2 weke terug om 02h30 wel water gekry. Dit is die laaste sien van n druppel in ons krane. Mag ek nou weet wat doen julle om die probleem op te los aangesien ek vir julle gestem het met die hoop dat julle Thabazimbi n beter plek kan maak. Moet my nou nie weer vertel van vergaderings (ensovoorts) nie. Van ons moet werk…”. En sou jy verder op die blad kyk sal jy sien hoe die mense weke aaneen sonder water sit. Die burgermeesteres van ons dorpie het nooit antwoorde nie. Laat mens net wonder hoekom daar altyd ‘n ander rede is. Kom die media is daar weereens ‘n ander verskoning!!

Leonard de Lange ·

Als te danke aan die regering van die dag, sê maar net…

CHRISTA ·

Wat gaan aan? Kan hierdie regering NIKS ORDENTLIK BESTUUR NIE!!! Als onder hulle beheer val uitmekaar. Maar wat tydens apartheid opgerig is, word afgebreek – en dit dra hulle goedkeuring weg! Is dit waarvoor hulle staan? ALL NATIOINAL COLLAPSE!!!!

fransie rowles ·

Dit is absoluut pateties!!
my kleinkind moet met swembad water v d meenthuis kompleks gebad word!
die water stink en proe soos grond!
onaanvaarbaar!!

JM ·

Indien enige iemand regtig wil weet wat aangaan, vra die oudit verslag en julle sal sien dat die plaaslike munisipale bestuur heeltemal onbevoeg is om enigsins te kan bestuur. Gelde deur myne voorsien om projekte te befonds word verduister en wan aangewend. Munisipale bestuur met die burgermeester aan die spits neem besluite wat geensins bydrae tot die vooruitgang van die dorp en sy mense nie. Wens net hulle wil die waarheid begin praat en erken dat hulle nie opgewasse is vir die taak op hande nie. Daar is baie kundigheid in ons dorp om wel die werk te kan doen .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.