Thabazimbi-munisipaliteit onder administrasie geplaas

Thabazimbi- sentrale besigheidsdistrik Foto deur NJR ZA (eie werk) via Wikimedia Commons

Thabazimbi- sentrale besigheidsdistrik Foto deur NJR ZA (eie werk) via Wikimedia Commons

Die Thabazimbi-munisipaliteit in Limpopo is onder administrasie geplaas terwyl Eskom dreig om die kragvoorsiening af te sny.

Makoma Makhurupetje, LUR vir bestuur, menslike nedersettings en tradisionele sake in Limpopo, het die departement se uitvoerende hoof, PRM Khunou, ontplooi as finansiële spesialis vir ʼn periode van drie maande om te poog om die munisipaliteit te red.

“Dit het gebeur ná ʼn verslag getoon het die munisipaliteit is nie bekwaam om sy finansiële verpligtinge na te kom nie,” het Makhurupetje gesê.

Eskom het onlangs gedreig dat hy die kragvoorsiening na die munisipaliteit gaan afsny.

Thabazimbi is een van 20 munisipaliteit in die land wat Eskom gesamentlik R4.6 miljard skuld vir die grootmaat verskaffing van elektrisiteit.

Kragtens die Wet op Munisipale Stelsels en die Grondwet, is die LUR onder ʼn verpligting om die munisipaliteit by te staan en dit uit die huidige situasie te red, het Makhurupetje bygevoeg.

ʼn Span van die provinsiale tesourie, Makhurupetje se departement, en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging sal Khunou bystaan.

Makhurupetje het gesê die doel is om te verseker dat die munisipaliteit se situasie verbeter sodat hy dienste aan die inwoners kan lewer.

“Daar word van die munisipaliteit verwag om die ingryping te ondersteun en dringend skriftelik, tesame met ʼn resolusie van die raad, aan die LUR te bevestig dat hy dit ondersteun en sy volle samewerking sal gee.”

Die plaaslike munisipaliteit verskaf dienste aan onder andere Thabazimbi, Middeldrift en Swartklip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann Marx ·

Dis wat gebeur wanneer ‘n “stuggle organisasie” beheer oorneem. Alles verander in ‘n “struggle”. Die grootste probleem van Suid Afrika kan in een sin opgesom word: Hopeloos teveel mense kry hopeloos teveel geld vir hopeloos te min werk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.