Thabo Bester: Polisie versamel glo steeds nie alle bewyse

Thabo Bester in die hof. (Foto: AFP)

Deur Daniel Steyn en Marecia Damons, GroundUp

Die polisie hou hulle glo blind vir sommige bewyse in die saak teen die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester en diegene wat na bewering ʼn aandeel in sy ontsnapping gehad het.

Bester se vriendin, dr. Nandipha Magudumana, wat daarvan beskuldig word dat sy hom uit die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis help ontsnap het, het weke voor sy ontsnapping sy skuilnaam gebruik om verblyf in Bloemfontein en Ballito te bespreek.

Hoewel die polisie hieroor ingelig is, is nog niks gedoen om die bewysstukke te versamel nie.

Besprekings vir verblyf van meer as R120 000 is onder meer kort voor Bester se ontsnapping gedoen.

ʼn Week gelede het GroundUp, asook die bestuurders van die eiendomme waar die besprekings gedoen is, die polisie in kennis gestel van die verbintenis tussen Magudumana, Bester se skuilnaam, en die tydsberekening van die besprekings.

ʼn Faktuur met die besonderhede oor een van die besprekings – by ʼn luukse hotel in Bloemfontein – is by ʼn eiendom in Hyde Park in Johannesburg agtergelaat waar Bester en Magudumana glo ná die ontsnapping gebly het.

Die polisie het die huis gefynkam, maar glo versuim om ʼn gedeelte van die eiendom te deursoek waar die faktuur en Magudumana se dagboek was. Nog niemand is gestuur om die faktuur en die dagboek af te haal óf met die betrokke eiendomme waar die voortvlugtiges gebly het, kontak te maak nie.

Bester het op 3 Mei verlede jaar uit die maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein ontsnap nadat hy mense laat glo het dat hy in sy sel doodgebrand het.

Bester se medebeskuldigdes in die sage – Magudumana, haar pa, Zolile Sekeleni, en nog twee beskuldigdes, Teboho Lipholo en Senohe Matsoara, verskyn vandeesweek weer in die hof vir hul beweerde betrokkenheid by die saak. Die beskuldigdes staan tereg op verskillende aanklagte, waaronder moord, dwarsboming van die gereg en brandstigting.

Bester het soms die skuilnaam TK Nkwana en ʼn vals identiteitsdokument met daardie naam gebruik om huurooreenkomste te onderteken terwyl hy in die tronk was.

In die twee maande voor sy ontsnapping is ʼn Airbnb-profiel in die naam van TK Nkwana gebruik om minstens tien besprekings by luukse eiendomme in Gauteng en KwaZulu-Natal te doen.

Een van hierdie besprekings was vir 12 tot 14 Maart verlede jaar in ʼn herehuis op ʼn landgoed in Ballito, KwaZulu-Natal. Die Airbnb-gasheer sê dat hy voor die bespreking met ʼn man genaamd TK oor die telefoon gepraat het. Die verblyf het R18 000 gekos.

Volgens die Airbnb-gasheer het TK die name en ID-nommers van vier mense verskaf om in die huis te bly. Magudumana se ID-nommer is verskaf, maar sy het die naam dr. Enjoy Magudumana Nkwana gebruik. Drie ander name is ook geregistreer, van wie twee mededirekteure van Magudumana se maatskappy, Vibes Africa International, was.

Na verneem word, het Magudumana se kinders ook in die huis gebly.

Dr. Nandipha Magudumana tydens haar vorige hofverskyning. (Foto: AFP)

ʼn Week en ʼn half later, op 24 Maart, het Magudumana by ʼn luukse hotel in Bloemfontein oorgebly. Die hotel is ʼn halfuur se ry van die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis.

Magudumana het ʼn afskrif van haar ID verskaf, maar die bespreking, wat aanlyn gedoen is, is onder TK Nkwana gedoen.

Die bestuurder van die hotel sê Magudumana het die hotel op 13 en 14 April vir ʼn tweede keer besoek. Dié bespreking is ook deur TK Nkwana gedoen.

G4S, die veiligheidsmaatskappy wat die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis bedryf en deels besit, het Woensdag aan die parlement gesê dat Magudumana vir Bester vanaf 2017 gereeld besoek het. Die laaste aangetekende besoek was in Desember 2021, maar die regterlike inspektoraat vir korrektiewe dienste (JICS) het gesê dat Magudumana ʼn afspraak gemaak het om Bester op Valentynsdag verlede jaar te sien.

Dié afspraak is later gekanselleer.

Bester het op 15 April verlede jaar, die dag nadat Magudumana by die hotel in Bloemfontein weg is, aansoek gedoen om weens kwansuise veiligheidskwessies in ʼn enkelsel aangehou te word. Hy het wel later sy aansoek teruggetrek.

JICS het aan die parlement gesê dat hy tydens sy ondersoek deur ʼn gevangene ingelig is dat Bester ʼn geheime, onaangetekende besoek op 16 April ontvang het.

Magudumana het weer op 19 April by die Ballito-verblyfplek aangemeld en dié keer vir 11 nagte oorgebly, vergesel deur drie ander mense, van wie een ʼn mededirekteur van Vibes Africa International was.

Die bespreking is gedoen deur TK wat direk op WhatsApp met die gasheer reëlings getref het. Die verblyf van 11 nagte het R90 800 beloop. Dit is lank vooraf bespreek en op 23 Maart ten volle betaal.

Bester het later weer op 28 April suksesvol aansoek gedoen om in ʼn enkelsel aangehou te word en is oorgeskuif. Op 3 Mei het ʼn brand in sy sel uitgebreek, ʼn lyk is verkool en hy het uit die tronk ontsnap.

Twee dae later, op 5 Mei, het Magudumana die lyk by die staatslykshuis geëis en gesê sy is Bester se vrou.

Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het Vrydag onthul dat Magudumana op 9 Mei die land deur die Beitbrug-grenspos verlaat het. Sy was teen 12 Mei weer terug in die land.

In die maande ná Bester se ontsnapping is die Airbnb-rekening minstens nog tien keer gebruik, met die laaste bespreking wat in Februarie vanjaar gedoen is. Na verneem word, is die landgoed in Ballito, waar Magudumana gebly het, vroeër vandeesmaand deur die Valke gefynkam.

Het Bester Bloem-hotel besoek?

GroundUp het twee bewaarders by die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis gevra of dit in enige stadium moontlik sou wees vir Bester om die tronk vir kort tydperke te verlaat.

Een bewaarder voer aan dat Bester gereeld behandeling vir sy geestesgesondheid ontvang het en dat gevangenes soms na ʼn hospitaal buite die tronk moes gaan. In Desember verlede jaar het nog ʼn gevangene ontsnap terwyl hy by ʼn eksterne hospitaal was.

ʼn Ander bewaarder, wat sedert 2013 in die opname-afdeling van die tronk werk, sê weer alle hospitaalbesoeke deur gevangenes word aangeteken. Hy kan nie onthou dat Bester ooit die tronk verlaat het nie. Hy sê die stelsel is van sodanige aard dat dit onmoontlik sou wees vir Bester om die perseel ongesiens te verlaat.

G4S het egter verlede week aan die parlement gesê rekords dui daarop dat Bester ʼn spesialis vyf keer in 2015 en een keer in 2016 besoek het.

Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het by navraag oor die jongste verwikkelinge gesê dat die polisie nie terugvoer op elke aspek van die ondersoek kan gee nie.

“Ons versoek dat die ondersoekbeamptes die nodige ruimte gegun word om hul werk te doen sonder onnodige druk en verwagtinge.”

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Stephen ·

Waarom word soveel nuusdekking aan hierdie skurk gegee? Siek daarvoor!

Juanita ·

Hou verby as jy dit nie wil lees nie, ek wil verseker op hoogte gehou word van die saak en die storie en persone agter die storie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien die media belangstelling verloor sal die polisie ook belangstelling verloor.

TruthDealer ·

Want dit trek die aandag af van die Noagvloed van ander daaglikse misdaad En kader-korrupsie. En die ineenstorting van wat nog oor is van SA, in elke denkbare aspek. So wees maar gereed om die paadjie te loop met Thabo van sy geboorte tot nou, plus die stories van al die medebeskuldigdes.

efjy ·

Die aandag word nie aan die skurk gegee nie. Alles gaan oor die polisie se swakhede en onvermoe asook die uitlaat/toesmeer van feite. Dit blyk dat iemand beskerm word.

Sonblom ·

Is die polisie bang van hulle se betrokkenheid gaan bewys word? Lyk my hierdie Thabo het baie mense in sy sak.

Althes ·

Waarom sloer hul so om bewyse in te samel? The good doctor volgens Bheki Cele,

miche ·

Ek lees op ‘n ander nuuswerf
” the good doctor” is al 2 jaar lank nie meer op die mediese rol nie…

SjN ·

Geld wat stom is maak reguit wat krom is, baie persone was omgekoop.

Old no7 ·

Stephen,ja nee, die man is nou al meer populêr as Zuma en Malema saam. So help die media met hul nuwe ikoon…..

miche ·

“Dr” Nandipha (foto’s binne die hof geneem sónder haar masker ) en dié wat onlangs geneem is terwyl sy op vrye voet was, lyk nie eens of dit dieselfde persoon is nie?
Thabo B kan met rede vrees vir sy lewe binne die tronk, ek lees ‘n hele paar hoës in die sisteem was al lankal bewus van sy leefstyl binne die tronk. Iemand iewers gaan sy mond snoer…

Annelize ·

Die wonder van grimering, vals wimpers en duur pruike moenie onderskat word nie.

Rooikopheks ·

Net so!! Wat grimering en pruike nie alles kan doen nie.

Riaan ·

Interesant hoe so baie beskuldigdes in ‘n saak na die gewraakte Covid masker gryp elke keer as hulle in ‘n hof moet verskyn

Annelize ·

Daar word natuurlik ruimskoots vergoed vir die blinde ogies.
Ek slaan my hande saam hoe party mense hulle pad deur die lewe oop koop!

Stofdonkie ·

Die vent is seker weer maatjies met die “agbare president”. Waar kom al sy geld vandaan? Heel waarskynlik van staats-tenders af…

Anel ·

Ek sê nog altyd, dis lekker in die tronk. Hulle het tv, selfoon en skootrekenaars. Lekker man, lekker. En so kon hy alles beheer!!!!

JohanR ·

Hoekom moet die polisie bewys stukke insamel? Hulle was betrokke in die hele ding van die begin af……follow the money trail.

Danie ·

Bel vir hugo hy sal help.Die polisie het baie belangriker dinge om te doen vis en chips en vetkoeke.

Lurock ·

Hier is nog ‘n geval van net nog n job, geen professionele taak verrigting nie. O hel daar is waaragtag polisie beamptes wat nie eens sleg is nie maar sommer net vrot. Al hoe meer is daar ‘n reukie wat ruik soos dat daar baie meer mense is wat verbind kan word met hierdie saak.

Ek wonder of hierdie saak ooit sal klaar maak.

Lillian ·

Saps is arrogant en dit gaan hul kos as hy ‘n goeie prokureur het. Net soos Anni Dewani se saak…. Nou loop ‘n moordenaar vry rond. Aan die ander kant, daars seker té veel comrades betrokke en hulle moet beskerm word, dus die slordige speurwerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.