Thabo Bester terug in SA; Magudumana op pad hof toe

Thabo Bester en sy vriendin Nandipha Magudumana

Die reeksverkragter en veroordeelde moordenaar Thabo Bester en sy medevoortvlugtige, dr. Nandipha Magudumana, is terug in Suid-Afrika. Ronald Lamola, minister van justisie, het Donderdag bevestig dat die regering van Tanzanië Bester en Magudumana suksesvol uitgelewer het.

“Ons kan bevestig dat hierdie voortvlugtiges weer op eie bodem is,” het Lamola tydens ʼn nuuskonferensie gesê.

“Bester word in die Kgosi Mampuru II-maksimumveiligheidsgevangenis aangehou en Magudumana is in hegtenis geneem hangende haar eerste verskyning in die hof.”

Magudumana sal na verwagting binnekort in Bloemfontein in die hof verskyn en kan dalk van onder meer medepligtigheid tot ontsnapping en moord aangekla word.

Volgens Makgothi Samuel Thobakgale, nasionale kommissaris van die departement van korrektiewe dienste (DKD), is die tronk waar Bester aangehou word, “die mees geskikte plek vir hom om te wees”.

Hy sal 24 uur per dag deur hoogs opgeleide beamptes bewaak word om te verseker dat daar nie enige sekuriteitsbreuke is nie.

“Die afdeling waar Bester gehou word, is spesifiek vir hoërisikogevangenes en ons het nog nie enige voorvalle gehad nie.”

Dit is nog onbekend hoe Bester en Magudumana die land vroeër oënskynlik ongesiens verlaat het.

Bheki Cele, minister van polisie, sê dit is wel seker dat dit op ʼn onwettige manier was.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, sê die ondersoek na die Mosambiekse burger wat Bester en Magudumana glo na Tanzanië vergesel het, is reeds onderweg. ʼn Uitleweringsaansoek vir hierdie persoon sal ook ingedien word.

Lamola en Cele het die regering van Tanzanië bedank vir die samewerking wat daartoe gelei het dat die Bester en Magudumana reeds uitgelewer is.

“Ons sal poog om hierdie vlak van samewerking en wedersydse hulp met ander lande na te streef,” sê Lamola.

“Ons is ook dankbaar vir al die rolspelers, van die staatsagentskappe tot lede van die publiek wat inligting gedeel het wat gehelp het om die twee voortvlugtiges op te spoor.”

Verskeie mense wat na bewering by die ontsnappingsage betrokke was, is reeds in hul professionele hoedanigheid geskors of word strafregtelik vervolg.

Zolile Sekeleni (65), Magudumana se pa, en Senohe Matsoara (39), ʼn voormalige bewaarder by die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis, het reeds in die hof verskyn vir hulle beweerde betrokkenheid by die saak.

Nog ʼn 44-jarige man, glo ʼn werknemer van ʼn maatskappy wat gekontrakteer is om kameras by die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis te installeer en in stand hou, is Dinsdag in hegtenis geneem, terwyl ʼn 28-jarige man deur die polisie ondervra word.

Drie DKD-amptenare is ook reeds geskors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

melaney ·

Terwyl daar nou so gejuig word oor hulle weer terug in SA is, dalk sal Cele en Ramaphosa vir ons ook inlig hoe hulle al in Oktober 2022 kennis gedra het van die ontsnapping, maar niks daaromtrent gedoen het nie.

domheks ·

AAAAAGGG – net ‘n boetetjie, dan is sy weer op straat. Ons ken mos nou al die besluite deur die howe!

Lee ·

Welkom terug julle twee! Snaaks hoe die twee so vinnig gevang kan word maar die verdagtes van die covid miljoene loop nog lekker rond!

Johanna ·

Mooi so. Maar die korupsie is in gevangenis en polisie. Ons wag in spanning

Samuel ·

Dit is baie goeie nuus. Hoop die dr kry ook tronkstraf en Bester kry nie weer die geleentheid om te ontsnap nie.

SjN ·

Hier is nog klomp ander persone ook betrokke, die minister het dan kennis gedra van die ontsnapping en gebeure??

Althes ·

Ñ Regte Netflix of Showmax fliek materiaal. Hoe kry jy dit reg om soveel mense te manipuleer en om te koop?

Tertia ·

Well done! Maar die Gupta’s wat die land geplunder het is nog op vrye voet. Nou is daar allerhande “red tape” wat hulle uitlewering kamstig bemoeilik?

efjy ·

Ek glo niks meer wat polisie en regerings grootkoppe se nie. Sal eers die persone self fisies agter tralies wil sien. Nie eens seker of hulle die regte persone in hegtenis geneem het nie. Die media het al meer as ‘n jaar gelede geweet dat die persoon ontsnap het, terwyl die polisie die bewerings ontken het. Hulle het ook reeds dns toets uitslae gehad wat bevestig het dit nie Bester sy verkoolde lyk was nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Binnekort hoor ons dié twee is eintlik dubbelgangers. Die regte twee is al lankal in Brasilië

Riaan ·

Dit was vinnig. Hoekom kon dieselfde nie gedoen word in die Gupta saak nie – Want dit was alles net ‘n show gewees. Die regering wil nie regtig die Guptas hier in ‘n hof loslaat nie, want te veel van die “comrades” gaan by die gemors betrek word.

Bulkalf ·

Ja Lamola, “ons sal poog om hierdie vlak van samewerking en wedersydse hulp met ander lande na te streef” en wat dan van julle Poetin kader?
Lyk my julle 1+1= 11en30.

Amelia ·

As mens so na kommentaar kyk lyk dit of daar geen vertroue in regering is nie en ek stem 100 % saam en lyk my ook net sommiges word wel gevang maar as regering en lp betrokke is soos met guptas is dit n verlore saak is einlik vir my snaaks die 2 uitgelewer is (as dit ook waar is)

Jaco ·

Dis darem ‘n vinnige uitlewering. Waarom kan die Guptas dan nie ook uitgelewer word nie?

Kenny ·

3 DKD LEDE GESKORS SEKER NOG MET VERGOEDING OOK
MNR HOED CELE VIR DIE EERSTE KEER IN JOU LEWE PRAAT JY NOGAL DIE WAARHEID
HULLE HET DIE LAND ONWETIG VERLAAT
GELUK MET JOU PRESTASIE ONS HOOP NET JY BOU VOORT DAAROP MAAR NOU JA WAT IS DIE KANSE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.