Thabo Bester: Tydlyn wys regering weet al lank van ontsnapping

Thabo Bester tydens sy verhoor meer as tien jaar gelede. (Foto: Verskaf)

Deur Daniel Steyn en Marecia Damons, GroundUp

Die tydlyn van gebeure ná die ontsnapping van die reeksverkragter en veroordeelde moordenaar Thabo Bester wys dat regeringsamptenare al maande lank geweet het dat Bester op vrye voet is en nie in sy sel doodgebrand het soos voorheen aangevoer is nie.

Tydens ʼn vergadering op 18 Oktober verlede jaar het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die departement van korrektiewe dienste en die regterlike inspektoraat vir korrektiewe dienste in kennis gestel dat Bester uit die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein ontsnap het.

Ses dae later het die inspekterende regter vir korrektiewe dienste, Edwin Cameron, in ʼn skrywe aan Ronald Lamola, minister van korrektiewe dienste, uitgestippel hoe hy vermoed dit gedoen is.

Dié onthullings is Woensdag gemaak tydens ʼn sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie waarin die omstandighede rakende Bester se ontsnapping bespreek is.

Hoewel owerhede oënskynlik maande lank reeds geweet het van Bester se ontsnapping, is hy eers verlede week in Tanzanië vasgetrek nadat meer besonderhede oor die voorval in Maart bekend geword het.

Hier is die tydlyn van gebeure voor, tydens en ná Bester se ontsnapping:

April 2022

  • ʼn Voertuig betree die terrein van die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis sonder ʼn geldige toegangskaart.
  • Bester is na ʼn enkelsel oorgeplaas nadat hy “vir sy eie veiligheid” daarvoor aansoek gedoen het. Die aansoek is deur G4S goedgekeur.

Mei 2022

  • Bester word as dood aangemeld nadat ʼn brand in sy sel uitgebreek het. G4S en die departement verklaar dit as ʼn selfmoord.
  • ʼn Nadoodse ondersoek word gedoen op die lyk wat in die sel gevind is. Dit wys dat die persoon dood was voordat die brand uitgebreek het.
  • Die regterlike inspektoraat vir korrektiewe dienste ondersoek die onnatuurlike dood van Bester.
  • Nandipha Magudumana haal die lyk by ʼn Vrystaatse lykshuis af en vervoer dit na ʼn lykshuis in Soweto. Die SAPD ondersoek ʼn saak van moord ná ontvangs van die nadoodse ondersoek.
  • Die polisie lê beslag op die liggaam wat in Magudumana se besit is.
  • Magudumana nader die Pretoriase hooggeregshof sodat die liggaam aan haar terugbesorg word. Sy voer aan dat sy Bester se vrou is.
  • Die ondersoekbeampte in die saak lê ʼn beëdigde verklaring af dat daar verdagte omstandighede rondom die brand is.

Junie 2022

  • G4S verskaf aan die SAPD inligting oor die voorval, insluitend kringtelevisiebeeldmateriaal, besoekersrekords en ander besonderhede.

Julie 2022

  • Die DNS van die liggaam in die sel word ontleed en vergelyk met Bester se ma sʼn. Die DNS stem nie ooreen nie, maar ʼn monster van Bester se werklike DNS kon nie in die SAPD se databasis gevind word nie.

Augustus 2022

  • Die SAPD verskaf afskrifte van die nadoodse ondersoek en DNS-resultate aan die regterlike inspektoraat vir korrektiewe dienste en hy finaliseer sy voorlopige verslag oor die voorval.
  • Die regterlike inspektoraat vir korrektiewe dienste neem kennis daarvan dat Bester nie in sy sel dood is nie.
  • G4S onthul aan die inspektoraat dat belangrike beeldmateriaal van die voorval verdwyn het.

Oktober 2022

  • ʼn Gevangene van die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis skryf aan die Vrystaatse hooggeregshof dat Bester ontsnap het. Twee regters is na die gevangenis gestuur om die saak te ondersoek.
  • Die SAPD, die departement en die regterlike inspektoraat vir korrektiewe dienste vergader.
  • Die SAPD sê daar is geen rede om te glo dat Bester sy dood vervals en ontsnap het nie. Die departement oorhandig nie sy verslag nie. Die SAPD vra die inspektoraat om te help om die Valke se hulp in te span.
  • Die inspektoraat ondervra G4S-werknemers en gevangenes.
  • Cameron skryf aan minister Lamola dat Bester moontlik uit die gevangenis ontsnap het.

November 2022

  • Cameron doen ʼn beroep op die Vrystaat se streekskommissaris van korrektiewe dienste om die ondersoek te bespoedig. Die streekskommissaris weier om die saak te bespreek sonder die leiding van die nasionale kommissaris.
  • Die regterlike inspektoraat vir korrektiewe dienste ontvang G4S se verslag oor sy interne ondersoek, tesame met onvolledige beeldmateriaal.
  • Die departement van korrektiewe dienste se nasionale kommissaris begin ʼn ondersoek na die beweerde betrokkenheid van amptenare van die departement.
  • Drie amptenare wat aan die departement verbonde is, word geskors.

Januarie 2023

  • Die departement van korrektiewe dienste maak ʼn saak van ontsnapping by die SAPD in Bloemspruit aanhangig. Die SAPD het voorheen geweier om ʼn saak aanhangig te maak.

Februarie 2023

  • G4S voorsien die regterlike inspektoraat vir korrektiewe dienste van ʼn finale ondersoekverslag. Dit is glo die eerste keer dat hulle die DNS-verslag gewys is.

Maart 2023

  • Die departement van korrektiewe dienste se nasionale kommissaris vra dat die finale ondersoekverslag teen 22 Maart aan hom oorhandig word.
  • GroundUp publiseer foto’s van Bester en Magudumana wat in Junie verlede jaar in Sandton inkopies doen.
  • Die nasionale kommissaris ontvang die finale ondersoekverslag.
  • Die nasionale kommissaris aktiveer ʼn span saam met die SAPD om Bester op te spoor en in hegtenis te neem.
  • Die departement van korrektiewe dienste bevestig aan die publiek dat Bester uit die tronk ontsnap het.

April 2023

  • Bester en Magudumana word in Tanzanië vasgetrek.

Hierdie berig is oorspronklik op GroudUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johanna ·

My oupa het gesê hulle is dom. Nee hul is slu uitgeslape. En die wat aan hoof van die organisations is,slim. So vreeslik slim. Sit in poste wat hul NIE Kan behartig NIE. Stuur hul lewenslank hardearbeid

Perdeby ·

Dit help nie ek se ek is stomgeslaan nie, want dit is algemene praktyk by die ANC kaders

domheks ·

Wonder wie is soooooo gaaf teenoor Bester? Lamola, G4S, Cele????? of wie nog???

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Hier is baie meer mense betrokke as op die oog af. ANC maskerade duur voort!

efjy ·

As bogenoemde berig waar is, moet ‘n hele klomp kriminele amptenare afgedank word. Vergeet van ondersoeke gelas. Ons weet almal dat die huidige regering nie die wil het om teen kriminele op te tree nie. Dink dis tyd vir belasting weerhouding sodat kriminele nie verder op belastingbetaler se rug kan ry nie.

annie ·

Nou word die saak in die parlement verhoor soos die OB s’n en hou vir ewig aan. Regters moet nou maar aftree want die ANC het alles mooi onder beheer met baie geld. Ons is moeg vir die skimmel se gesig. Verwyder hom en sy tjommies uit die samelewing! Maar hulle sal nie en die pers follow suit.

Lillian ·

Ek wil net weet waar kry hy my familie van wat hy so deur die modder sleep met sy shenanigans!!!!! Rubbish!

Danie ·

Nog verskonings kyk hierdie gaan nog groot sensasie vir die media en lesers bring kom ons lag dit is immers goed vir jou emosies.

Johan ·

Hou hierdie spasie dop…..Bester is die volgende ANC minister van Korrektiewe Dienste!!

Wondermaarnet ·

SAPD het geweier om ʼn saak aanhangig te maak??? Hier is baie mense betrokke en hopelik rol almal se koppe.

domheks ·

As julle dink daar gaan koppe rol – maak julle ‘n foutjie. cANCer kaders gaan mekaar beskerm soos nog NOOIT van tevore nie. Cele & Lamola ingesluit! Maar CR sal weer baie praat en niks se nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.