Thailand-grotredding: Hartseer nuus vir reddingswerker

aus-medic-thailand-grot

Narongsak Osatanakorn, die waarnemende goewerneur van die provinsie in die noorde van Thailand waar ʼn sokkerspan en hulle afrigter in ʼn oorstroomde grot vasgevang was en leier van die reddingsoperasie om die seuns te red, het met die media op 10 Julie gesels. Volgens hom is al twaalf seuns en hul afrigter in die tussentyd uit die grot gered tydens ʼn operasie wat meer as twee weke geduur het. Foto: ANA/AP/Sakchai Lalit.

Dr. Richard Harris van Australië, die laaste lid van die reddingspan om die Tham Luang Nang Non-grot in Thailand te verlaat ná die week se dramatiese reddingspoging, se pa is oorlede.

Andrew Pearce, Harris se werkgewer, het in ʼn verklaring gesê Harris se pa is gister oorlede kort nadat al 12 seuns en hul sokkerafrigter ná ʼn beproewing van langer as twee weke uit die grot gered is.

“Dit is ʼn tyd van rou vir die Harris-familie en word vererger deur die fisieke en emosionele eise van die week se hoogs ingewikkelde en uiteindelik suksesvolle reddingsoperasie. ”

Harris, ʼn narkotiseur en ervare grotduiker, sal die week nog terugkeer na sy huis in Adelaide. Peace het nie bekend gemaak waaraan Harris se pa oorlede is nie en versoek dat die familie se privaatheid gerespekteer word. Harris en nog drie persone het eers die grot verlaat nadat al die seuns en hul afrigter gered is.

“Ons het iets gedoen wat niemand gedink het moontlik is nie,” het Narongsak Osatanakorn, leier van die reddingspoging, gesê.

Prayuth Chan-ocha, premier van Thailand, het intussen gesê die seuns het medikasie vir angs ontvang om met die reddingspoging te help.

Prayuth het ook aangekondig dat die grot vir ʼn lang ruk gesluit sal wees sodat dit veilig gemaak en in ʼn toeristebestemming ontwikkel kan word. Pres. Donald Trump van Amerika het intussen ook die reddingspan geloof.

Agt van die seuns is Sondag en Maandag gered terwyl die oorblywende vier en hul afrigter Dinsdag gered is. Die opspraakwekkende reddingspoging wat op 23 Junie begin is, was hoogs gekompliseerd en het van die wêreld se beste reddingsduikers ingesluit.

Elke seun is een-een met ʼn tou aan ʼn reddingsduiker vasgemaak wat voor hom beweeg het, terwyl ʼn tweede reddingsduiker agter die seun geswem het. Hulle moes dan saam meer as 2 km ver na die uitgang van die grot beweeg.

Die seuns en die duikers het suurstofmaskers op gehad, maar die duiker wat voor swem het elke seun se suurstoftenk vir hom gedra. Die duikers en seuns kon op sekere dele van die pad uit te voet beweeg, terwyl hulle op ander dele moes duik. Op party plekke is die gangetjie waardeur hulle moes beweeg só nou dat die duikers die suurstofsilinders van hul rûe moes afhaal en deur die nou openinge moes rol.

Die seuns moes eers opgelei word om met die suurstofmaskers onder water asem te haal voordat die reddingsoperasie kon begin.

Dit het ongeveer drie uur geneem vir ʼn seun en twee duikers om te beweeg van die plek waar die seuns in die grot vasgekeer was tot buite die grot.

Maroela Media het vroeër berig ʼn voormalige lid van die Thai-vloot en vrywilliger, het verlede week gedurende ʼn nagtelike operasie gesterf in ʼn poging om suurstofhouers in die grot te plaas.

Die 12 seuns, tussen 11 en 16 jaar oud, en hul 25-jarige sokkerafrigter was sedert 23 Junie in die grot vasgekeer. Die grot is bekend daarvoor dat dit tydens die reënseisoen erg oorspoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dankbaar ·

Die Here Antwoord gebede. Ek is so bly hulle is gered en veilig.

Rika ·

Dankie Jesus en dankie aan elke persoon se aandeel en opoffering in hierdie wonderlike reddingspoging. God is groot!!!!

IK ·

Sterkte aan dr. Harris wat redding eerste gestel het. Dokters kan gerus van hierdie gebeurtenis kennis neem.
Daar moes ook oor die afstand van 4 km suurstofsilinders op strategiese punte geplaas word voor elke reddingspoging.

CHRISTi ·

dis n wonderwerk en genade van BO. GOD lewe en het ons gebede verhoor.

Marinus ·

Dr Harris is ‘n baie nederige persoon. Die hoof minister van Australië het hom vandag gebel en hy (dr Harris) het met die hele gesprek net sy dankbaarheid teenoor sy mede spanlede uitgespreek en wou geen krediet aanvaar nie. Voorwaar ‘n uitsonderlike mense. Groete, van Australië.

Klara ·

Alle eer aan God vir Sy groot wysheid en genade! Hierdie manne, onder andere ook dr Harris, verdien elk ‘n medalje.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.