Thales ‘is net byvoeging’ tot Zuma-saak, hoor hof

Oudpres. Jacob Zuma op 21 Mei 2019 in die hooggeregshof in Pietermaritzburg. (Foto: MotshwarI Mofokeng/ANA)wapen

Die regspan van die Franse wapenmaatskappy Thales het Dinsdag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg aangevoer die voormalige hoof van openbare vervolging het op die verkeerde gedeeltes van die wet gesteun toe hy besluit het om aanklagte teen sy kliënt weer in te stel.

Adv. Anton Katz SC, regsverteenwoordiger vir Thales, het gesê toe Shaun Abrahams die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) was, was hy “vasbeslote” om die maatskappy te vervolg en het hy ʼn irrasionale besluit geneem toe hy besluit het om dit te doen.

Katz het voor ʼn volbank regters aangevoer hoekom die staat sy vervolging van Thales permanent moet ophef.

Katz het aangevoer die aanklagte teen Thales is gebring as ʼn “byvoeging” in die korrupsiesaak teen oudpres. Jacob Zuma, wat ongrondwetlik is. “Ons [Thales] is ʼn byvoeging, ons is opdrifsels in die branders, dit is nie grondwetlik nie,” het hy gesê. Hy het aan die hof gesê Zuma en Thales moet heeltemal onafhanklik van mekaar beskou word.

Volgens Katz is een van die kwessies wat oorweeg moet word wanneer daar gekyk word na die besluit om Thales te vervolg, vervolgingsmag en hoe dit misbruik is. Toe Abrahams in 2018 besluit het om weer aanklagte aanhangig te maak, “het hy ʼn verpligting gehad om ʼn ander besluit as die oorspronklike besluit te maak”.

Katz sê Abrahams het in plaas van ʼn nuwe besluit gehou by die “status quo” en besluit om Zuma en Thales saam aan te kla, net soos in 2005 gebeur het.

Regter Esther Steyn het Katz in die rede geval en gesê Abrahams se besluit sou op die meriete van die saak gegrond gewees het, asook enige uitsonderlike redes hoekom die aanklagte weer ingestel moes word. Sy het gesê dit sou dus neerkom op ander omstandighede wat die oorspronklike besluit sou beïnvloed.

Om vervolging terug te trek is nie dieselfde as om vervolging te staak nie, het sy gesê.

Thales word daarvan beskuldig dat hy omkoopgeld aan Zuma betaal het deur Zuma se voormalige vriend en finansiële adviseur, Schabir Shaik. Dié omkoopgeld het glo verband gehou met Suid-Afrika se multimiljardrand-wapentransaksie in 1999.

Shaik is in 2005 aan korrupsie en bedrog skuldig bevind en 15 jaar tronkstraf opgelê. Sy aansoek aan die appèlhof en daarna die konstitusionele hof het albei misluk.

Zuma, beskuldigde een in die saak, staan tereg op een aanklag van rampokkery, twee van korrupsie, een van geldwassery en 12 van bedrog. Thales, beskuldigde twee in die saak, staan tereg op een aanklag van rampokkery, twee van korrupsie en een van geldwassery.

Die hof het gister redes van Zuma se regspan aangehoor hoekom hulle meen die vervolging van die voormalige president moet permanent gestaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cherokee ·

Wat is die verskil tussen rampokkery, korrupsie en bedrog? Dit is immers korrupte rampokkers wat bedrog pleeg.

? leser ·

ja shaik, jys deur en deur ‘n shark, maar jy hoef nie komkommer nie
die wiel draai, al is dit net stadig, jou kamstige terminale siekte, terminale streke, gaan jou inhaal
dan is daar nie ‘n zuma of ‘n gupta om jou te help nie
so word sake uitgestel, en wat se die spreekwoord, van uitstel kom afstel
suid afrika howe is ‘n klug, ‘n belediging, ‘n klap in die gesig, in die wat op reg en geregtigheid staatmaak

Saint ·

Interessante gedagte?
Het Thales (of dan sy voorganger ) dan nie die gedagte van die moontlikheid van gedurig omkoopgeld te kr, by die.ANC laat posvat in die eerste instansie nie.

Andrea van Vuren ·

Zuma bekend daarvoor dat hy ‘n goeie politieke skaakspeler is. Sy saak gaan weer en weer uitgestel word totdat hy op sy begrafnis as ‘n held vereer gaan word. Hy gaan nog Paul Kruger se standbeeld op die plein vervang…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.