Thandi Modise: Getuies moet inligting weergee

Grace de Lange, Mpho Mokoena, Nazareth Appalsamy en_Navesh Singh van die NDBV (Foto verskaf deur AfriForum)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Bejani Chauke en kapt. Tebogo Mokolobate kragtens artikel 205 van die Strafproseswet gedagvaar om Vrydag in die Potchefstroomse landdroshof te verskyn om die vervolgingspan van wesenlike en toepaslike inligting in die saak teen Thandi Modise te voorsien.

Chauke en Mokolobate is getuies in AfriForum en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se privaat vervolgingsaak teen Modise.

Chauke was nie by die hofverrigtinge teenwoordig nie. Sy regsverteenwoordiger het verduidelik dat Chauke weens mediese redes nie in die hof kan getuig nie. AfriForum het die verskoning egter nie aanvaar nie en vir ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming aansoek gedoen, wat tot 29 April 2019 oorstaan.

Die hele proses is vertraag weens Chauke se versuim van vier maande lank om aan hierdie dagvaarding gehoor te gee. Mokolobate het wel in die hof verskyn en ooreengekom dat hy op 10 April sy verklaring by die ondersoekbeampte in die saak by die privaatvervolgingskantoor sal aflê. Indien hy nie hierdie ooreenkoms nakom nie, sal die verrigtinge op 29 April voortgaan.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid gaan Modise namens die NDBV op ’n aanklag van dieremishandeling vervolg. Chauke en Mokolobate het geweier om verklarings aan die privaatvervolgingseenheid te gee, maar is ingevolge artikel 205 gedagvaar om hul verklarings af te lê. Artikel 205 is veral daarop gemik om persone wat oor inligting oor ’n beweerde misdaad beskik, maar dit nie aan die ondersoekers wil openbaar nie, te dwing om die inligting te verskaf.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid verwelkom hierdie wending in die saak, wat beteken dat ons nou nóg ’n stap nader is daaraan om Thandi Modise voor die hof te kry,” het Elias Maangwale, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, gesê. “Hoewel ons hierdie proses al vantevore gevolg het, bly dit uniek in Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis dat getuies in ’n privaat vervolgingsaak ingevolge artikel 205 gedwing word om verklarings af te lê. Die privaatvervolgingseenheid het ’n baie sterk saak teen Modise en dit is een van ons hoofoogmerke om te verseker dat geen persoon vervolging vryspring bloot omdat hulle weens politieke verbintenisse beskerm word nie.”

Die NDBV het in Julie 2014 ’n klagte ontvang van een van die wreedste gevalle van dieremishandeling wat die welsynsorganisasie nóg teëgekom het. Grace de Lange, bestuurder van die NDBV se plaasdierebeskermingseenheid, het gesê Modise se plaas was besaai met karkasse van meer as 50 varke en ander dooie diere soos ganse, eende, skape en bokke. Die oorlewende diere, insluitend varke, skape, hoenders en bokke, is sonder kos en water gelaat en was in ’n desperate toestand. Die NDBV moes 162 diere weens hul nypende omstandighede van kant maak.

Chauke was tydens die pleging van die beweerde misdaad Modise se raadgewer en is nou president Cyril Ramaphosa se raadgewer. Mokolobate is ’n kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisiediens en was tydens die pleging van die beweerde misdaad hoof van Modise se sekuriteit.

Lees alle vorige berigte oor Thandi Modise op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Marsman ·

Lees Animal farm van George Orwell en jy sal verstaan……..

John ·

… maar hulle wil almal plase hè… en one two six word die plase deur uitlanders bestuur en die eienaars sit in hul paleise langs die see en bestel pizza’s uit Gauteng wat per vliegtuig afgelewer word…

Andre ·

Die moordlys word langer;

-moorde, verkragtings en marteling in ANC kampe.

Modise se diere

Plaasaanvalle

Marikana

Andries Tatane

Esidemeni

Politieke moorde in Natal

Apartheid se vergrype begin lyk na ‘n Sondagskool piekniek vergeleke met ANC vergrype?

Johanna Botha ·

Hoe kan mens verwag dat as jy nie eers agter jou EIE diere kan kyk dat jy na mense se belange sal omsien …die anc se mense gee net niks om vir mens of dier nie …ons sien dit oral 56 moorde n dag in SA ..dit se alles !

ne ·

Dankie Gerrie en Afriforum. Die politiek kan haar nie nou beskerm nie.
Dink net aan haar eie sak en die res (mense/diere) kan maar vrek van die honger.

marous ·

Te siek om te getuig maar gesond genoeg om ‘n raadgewer vir watse naam te wees…

fred ·

hoe kry hierdie duistere karakters al die lekker jobs? let op die president is weer indirekt betrek???? hoe jy ook keer of draai,jy kom altyd dieselfde klomp name teen…één groot korrupte familie..

Gert van Wierdapark ·

Die Chauke maatjie gee toe ‘n siekbrief by die hof in – – maar ons is siek en sat vir sulke treurniete wat van een adviseurs-pos na die volgende fladder (nogal by CR se span).

Trol ·

“Ek is nie n boer nie, maar omdat ek n vrou is…. Sou dit die verwaarlosing van die diere geregverdif het as sy n man was? Die plaaswaa goedkoopdaarom het hebsug ingestorm. BOERE sit mos op hulle stoepe en kyk hoe die geld by die hek inloop. Laat middag klim hulle in hulle bakkies en gaan maak dit bymekaar. Dis hoekom almaln plaas wil hê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.