Thato behaal top-drie: ‘My wildste drome is oortref’

Thato Mosehle. (Foto: Willem Botha)

Thato Mosehle, die Suid-Afrikaanse skoonheid wat Saterdag as tweede naaswenner van die Mej. Supranasionaal-kompetisie aangewys is, het uit Pole gesê die ervaring het haar “wildste drome” oortref.

Mej. Namibië, Chanique Rabe, is as die wenner gekroon. Mej. Puerto Rico, Karla Acevedo, is as eerste naaswenner gekies terwyl Mej. Venezuela, Valentina Sanchez, as derde naaswenner gekies is.

Die kompetisie is in die Strzelecki Park-amfiteater in Nowy Sącz, Pole, aangebied. Mosehle (26), ʼn mediese dokter van die Vrystaat, het Rabe gelukgewens met haar kroning.

“Sy gaan ʼn fantastiese titelhouer wees en ek wens haar alles van die beste toe vir die komende jaar,” sê Mosehle.

Rabe het geskiedenis gemaak as die eerste Afrikaan om met die titel van Mej. Supranasionaal weg te stap nadat sy 57 ander skoonheidskoninginne van ander lande uitgestof het.

Mosehle was ook die eerste skoonheid wat amptelik onder die vaandel van die Mej. SA-organisasie deelgeneem het.

Thato Mosehle, tweede naaswenner van Mej. Supranasionaal (Foto: Miss SA/Facebook)

“Die hele ervaring het my wildste drome oortref en ek is verheug dat ek so goed gevaar het. Pole is ʼn betowerende land en het ons almal so welkom laat voel. Dankie aan almal by die huis vir hulle wonderlike boodskappe van ondersteuning.”

Stephanie Weil, hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, sowel as Werner Wessels, kreatiewe direkteur van Mej. Suid-Afrika, het Mosehle na Pole vergesel.

“Thato het geskitter op die internasionale verhoog en ons is ongelooflik trots op haar en haar prestasie om die topdrie te haal,” het Weil gesê.

Mosehle het in 2018 haar mediese graad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Sy het in Maart vanjaar haar gemeenskapsdiensjaar by die Klerksdorp-Tshepong-hospitaal voltooi, waar sy in die voorste linies teen Covid-19 geveg het.

Sy wil graag as narkotiseur spesialiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jou gewete ·

is nie net sy wat verstom is oor die 3de plek nie. heelwat ander is ook verbaas daaroor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.