The Meadows-gyselaars gered

OPVOLG: Vier mense is dood nadat ʼn man Woensdag polisiebeamptes en veiligheidswagte by The Meadows-veiligheidskompleks, in die ooste van Pretoria gyselaar gehou het. Lees meer hier.

Die toneel Woensdagmiddag by The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Kent Williamson

Die toneel Woensdagmiddag by The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Kent Williamson

Die polisiebeamptes en veiligheidswagte, wat vroeër in die The Meadows-veiligheidskompleks, in die ooste van Pretoria gyselaar gehou is, is vrygelaat.

Kapt. Dave Miller, ʼn polisiewoordvoerder, het aan verslaggewers op die toneel gesê twee polisiebeamptes en drie veiligheidsbeamptes, wat op ʼn erf voor een van die huise gyselaar gehou is, is deur die SAPD se spesiale taakspan gered en ontvang tans berading.

Die verdagte wat die beamptes gyselaar gehou het, het homself intussen glo in sy huis toegesluit en is nog nie in hegtenis geneem nie. Miller het gesê dit is tans baie stil rondom die huis en die taakmag is nog besig om die situasie te evalueer voordat hulle die verdagte nader.

“Ons is steeds nie in staat om te bevestig of enigiemand geskiet is en of daar enige sterftes was nie. Die operasie is steeds aan die gang. Ons sal dit eers later kan bevestig,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig ʼn inwoner van die kompleks het na bewering buite sy huis skote afgevuur en twee mense doodgeskiet. Hy het die beamptes gyselaar gehou toe hulle op die toneel reageer het. Inwoners het op die toneel aan Maroela Media gesê dat hulle omstreeks 13:00 drie tot vier skote vanuit die kompleks gehoor het. Die polisie wou egter nie sover bevestig nie.

Die toneel Woensdagmiddag by The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Kent Williamson

Die toneel Woensdagmiddag by The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Kent Williamson

Verslaggewers het Miller uitgevra oor ʼn foto wat die rondte doen op sosiale media, waarin gesien kan word hoe twee mense, wat vermoedelik dood is, in ʼn straat lê nadat hulle na bewering geskiet is. “Ons kan sover geen sterftes bevestig nie. Wat op sosiale media verskyn en wat werklik hier gebeur, verskil dikwels hemelsbreed. Ons kan geen sterftes bevestig nie,” het hy volgehou.

Volgens Miller was ʼn ambulans, wat vroeër toegelaat is om by die kompleks in te gaan, op pad om die beamptes wat gered is, medies by te staan. “Hulle is natuurlik erg getraumatiseerd en het mediese behandeling nodig, maar dit is niks ernstig nie,” het hy gesê.

Miller het namens die Garsfontein-polisiestasie se bevelvoerder om verskoning gevra aan mense wat nie toegelaat word om na hul huise terug te keer nie, omdat die strate rondom die kompleks afgesper is. “Ons vra innig om verskoning vir die ongerief. Ons weet mense wil by hul huise uitkom, maar dit is vir die publiek se eie veiligheid. Ons probeer die situasie so gou as moontlik normaliseer.”

Intussen het inwoners buite die afgesperde gebied vir mense wat buite die gebied gewag het koeldrank, water en badkamergeriewe aangebied terwyl almal wag vir nuus van die polisiewoordvoerders.

Lees alle vorige berigte oor The Meadows-gyselaarsdrama op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Drieks ·

My vriendin bly ook langs so ‘n gevaarlike buurman. Hy werk nogal vir sekuriteit en swaai sy wapen rond as hy na sy motor stap. Almal bang vir hom en die opsiter doen niks daaraan.

May ·

Die gyselaars is vry al vir so lank tog is die skutter nognie vasgevat nie…

Ruby ·

Inninge simpatie aan die gestorwenes se familie en vriende … R.I.V.
So jammer dat daar soveel woede in ons lewens is. Danie moes ‘n baie ongelukkige, woedende en teleurstellende persoon gewees het …. wat maak mense so?????? Skokkend!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.