The Spy Cables: SSA in spioenasieverslag genoem

Foto: Al Jazeera

Foto: Al Jazeera

Die Suid-Afrikaanse Staatsveiligheidsagentskap (SSA) het na bewering op Iran gespioeneer, het die internasionale nuusagentskap Al Jazeera op hul webwerf berig.

Volgens die berig is Al Jazeera in die besit van ʼn aantal uitgelekte geheime dokumente wat wêreldwyd hoofsaaklik tussen die SSA en ander spioenasie-agentskappe gedeel is, oor onder andere Suid-Afrika se monitering van Iranse agente. Die agentskap in samewerking met The Guardian in Engeland beplan om die inligting stuk-stuk bekend te maak in ʼn reeks genaamd The Spy Cables.

Al Jazeera berig Suid-Afrikaanse intelligensieagente het bevind dat die Iraniërs ook geïnteresseerd was in tegnologie wat gebruik word om satelliete te onderskep, aanlyn aktiwiteite waar te neem, en kuberkrakery.

Suid-Afrikaanse veiligheidsdienste was besorg oor Irak se pogings om amptelike en nie-amptelike kanale in Suid-Afrika te gebruik om Westerse ingestelde sanksies te omseil.

Al Jazeera besit glo ʼn verslag van 128 bladsye genaamd, Operational Target Analysis, wat deur Suid-Afrikaanse spioene saamgestel is en waarin profiele van verskeie beweerde Iranse agente gepubliseer is.

Volgens die verslag het die Britse agente ook aktiwiteite van Iran in Suid-Afrika gemonitor.

Die agente het ook profiele saamgestel van ʼn aantal matwinkels, uitgewers, en ander klein besighede wat moontlik bande met die Iranse intelligensie-agentskappe het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.