Themane-moordverhoor skop af

Thoriso Themane (Foto: ANA)

Die vermeende moordenaars van Thoriso Themane (28), wat in 2019 in ʼn park in Polokwane, Limpopo, doodgeslaan is, se verhoor het Maandag in die Polokwane-landdroshof begin.

Twee volwassenes, Chuene Maleka en Alfred Mothapo, het saam met ses skoolseuns in die beskuldigdebank gestaan in verband met Themane se moord. Die skoolseuns was ten tyde van die aanranding tussen 15 en 16 jaar oud.

Themane, ʼn plaaslike musikant van Polokwane, is op 23 Februarie 2019 in die Florapark in die stad aangerand, waarna hy vir dood agtergelaat is. Themane was glo op pad huis toe van ʼn musiekoefening by sy kerk toe hy deur ’n groep oorval en aangerand is.

Video’s van die voorval wys hoe ʼn bebloede Themane gesleep, geslaan en geskop word en hoe sy liggaam later in die straat afgesleep word. Themane het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Volgens Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het die twee volwassenes, Maleka en Mothapo, al die aantygings teen hulle ontken. Hulle het in die hof gesê dat hulle op die toneel was, maar nooit vir Themane aangerand het nie.

Hul regsverteenwoordiger het gevra dat hulle vrygelaat moet word omdat hulle Themane nie self aangerand het nie. Die regsverteenwoordiger het in die hof aangevoer dat Maleka en Mothapo die toneel verlaat het om die polisie te skakel.

“Maleka en Mothapo het getuig dat Themane deur die skoolseuns aangerand is terwyl hulle buite Mothapo se huis gestaan het. Hulle beweer hulle kon nie die geveg keer nie omdat die skoolseuns in die meerderheid was. Een van hul vriende wat in ʼn motor – nie ver van die toneel af nie – gesit het, het die polisie probeer bel. Die polisie het egter nooit opgedaag nie,” sê Malabi-Dzhangi.

“Staatsgetuies het egter bewys Maleka en Mothapo het ook die oorledene aangerand. Volgens die getuies het een van hulle die oorledene met ʼn motordomkrag geslaan.”

Die regsverteenwoordiger van twee van die tieners het ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Die ooreenkoms lui dat hulle Themane geklap en uit hul voertuig geskop het. Volgens die ooreenkoms het dié seuns die toneel verlaat terwyl die res van die groep skoolseuns voortgegaan het om Themane aan te rand.

Na die argumente het die adjunkdirekteur van openbare vervolging, adv. Mashudu Mudau, aangevoer dat daar bewyse is wat dié twee oortreders met die moord verbind, aangesien hulle uit die staanspoor aan die aanranding deelgeneem het en selfs ander genooi het om by hulle aan te sluit.

Mudau het verder in die hof getuig dat een van dié twee tieners ander tieners gebel het om hulle uit te nooi om te kyk hoe “die groot vyf moord pleeg”.

Maleka en Mothapo is tans op borgtog uit terwyl die skoolseuns onder ouertoesig vrygelaat is.

Die verhoor gaan Woensdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marius ·

Hoop hul word geslaan met die volle mag van die reg en word ten minste lewenslank toegesluit.

Jaco ·

Twee vrae:
1. Wat was die motief vir die aanranding? Het hulle iets teen hom gehad, of het hulle sommer net geslaan omdat dit lekker is om te slaan?
2. Rand our people dan our people ook aan? Wat dan nou van Black Lives Matter en human rights en ubuntu?

Nettie ·

Hoekom is hulle op borgtog uitna son wrede moord gepleeg was. Die kinders moes na n plek gestuur word waar kindermisdadigers aangehou word.

Fredrick ·

Die seuns se verhoor moet ook uitgestel word totdat hulle 21 jaar oud is en dan as volwasenes verhoor word soos wat met die Waterkloof 4 die geval was Dit sal net regeverdig wees.

Yvonne ·

Hoe tragies is die gebeure nie….jong seuns wat aan sulke wreedheid deelneem????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.