Themane se moordenaars skuldig

Thoriso Themane (Foto: ANA)

Thoriso Themane se moordenaars, onder wie vier skoolseuns, is Woensdag skuldig bevind op aanklag van moord en aanranding. Themane (28) is in 2019 in ʼn park in Polokwane, Limpopo, doodgeslaan.

Twee volwassenes, Chuene Maleka en Alfred Mothapo, het saam met ses skoolseuns in die landdroshof in Polokwane verskyn in verband met Themane se moord. Die skoolseuns was ten tyde van die aanranding tussen 15 en 16 jaar oud.

Volgens Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is vier van die skoolseuns skuldig bevind op aanklag van moord.

“Volgens regter Matsaro Violet Semenya het dié seuns heeltyd deelgeneem aan Themane se aanranding. Sy sê hulle het ook met ʼn gemeenskaplike doel opgetree om Themane aan te rand. Een van die seuns het selfs vir Themane gesê hy gaan hom doodmaak,” het Malabi-Dzhangi gesê.

Die oorblywende twee tieners het effens ligter daarvan afgekom omdat hulle vroeër ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Hulle is skuldig bevind op aanklag van aanranding.

Die pleitooreenkoms lui dat dié twee skoolseuns Themane geklap en uit hul voertuig geskop het. Volgens die ooreenkoms het dié seuns die toneel verlaat terwyl die res van die groep skoolseuns voortgegaan het om Themane aan te rand.

“Daar is egter genoeg bewyse gelewer wat dié twee oortreders met die aanranding verbind, aangesien hulle uit die staanspoor aan die aanranding deelgeneem het en selfs ander genooi het om by hulle aan te sluit.”

Die twee volwassenes, Maleka en Mothapo, is skuldig bevind op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

“Die hof het aangevoer dat Maleka en Mothapo met hul aankoms by Mothapo se huis die aanranding gesien en daarna by die groep aangesluit het om hom [Themane] aan te rand. Volgens die staatsgetuies het Maleka en Mothapo vir Themane geskop.”

Die beskuldigdes sal na verwagting op 24 Februarie gevonnis word.

Maroela Media het vroeër berig Themane, ʼn plaaslike musikant van Polokwane, is op 23 Februarie 2019 in die Florapark in die stad aangerand, waarna hy vir dood agtergelaat is. Themane was glo op pad huis toe van ʼn musiekoefening by sy kerk toe hy deur ʼn groep oorval en aangerand is.

Video’s van die voorval wys hoe ʼn bebloede Themane gesleep, geslaan en geskop word en hoe sy liggaam later in die straat afgesleep word. Themane het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Toy

Dis vreeslik om te dink jy word dood geslaan en klomp pak jou soos wilde diere.

Harley Davidson

Wat gebeur nou is hulle op borgtog,wat is die maksimum straf wat hulle kan ontvang?

Abigail

Dis hartverskeurend

AW

Werklik Wreed !!

Swerwer

Wreed verby. Kinders kas slegs oorgaan tot sulke dade as dit vir hul voorgesê of geleer word .